Local newsNews

Affies-meisie (17) oorlede aan hartkondisie

“Annerien was ’n Affie in 'murg en been',” sê skoolhoof Marna Jordaan.

Leerlinge en onderwysers by Afrikaanse Hoër Meisieskool het vandag skool toe geloop met gebroke harte nadat ’n graad 11-meisie Saterdag dood is aan ’n hartkondisie.

Annerien Mills (17) was geliefd onder haar medeleerlinge en was baie betrokke by haar skool.

Sy was deel van die Affies-Orkes waar sy die fluit gespeel het.

“Annerien, jou plekkie is leeg en jou fluit nou stil,’ het die skool in ’n persverklaring gesê toe hulle die nuus bekend stel.

“Jou nagedagtenis leef voort in elke blou Affie-hart.

“Mag jy in vrede rus.”

Skoolhoof Marna Jordaan het beskryf watter ongelooflike student sy was.

“Sy was ’n Affie in murg en been.

“Sy en ander lede van die orkes het Donderdag nog met groot opgewondenheid saam na Bloemfontein gereis, trots geklee in haar blou Affie-hoodie,” vertel Jordaan.

“Vrydagaand was sy deel van die Affie-orkes wat soveel harte aangeraak het.

“Hulle het ten spyte van beurtkrag in die pikdonker aanhou speel,” sê Jordaan.

“Dit was ’n roerende oomblik wat diegene teenwoordig diepgeraak het.”

Die skool betuig hulle innige simpatie met haar ouers en familie.

Haar ouers het aan Rekord bevestig dat sy aan ‘n hartkondisie dood is.

Huldeblyke het op Facebook ingestroom vir die jong leerling.

Die skool het foto’s van Annerien op ’n tafel gesit as deel van ’n huldeblyk by die skool Maandag.

“Liefste Mills-familie, liefste Affie-dogters en personeel, ons harte ween saam met julle vir ’n tyd van rou,” skryf Marcha Venter.

“So jammer, so hartseer, sterkte aan haar familie,” betreur Rita Britz Labuschagne.

Nog boodskappe:

Elle-Sarah Rossato: “Ons innige simpatie aan familie en vriende”.

Erika Stolk: “Hiermee dra ons die families op in ons gebede en vra dat die Liewe Vader met julle sal wees in hierdie tyd van hartseer en groot verlies.”

Doreen Schoeman: “So hartseer. Innige meegevoel en sterkte deur hierdie moelike tyd vir Annerien se ouers en familie.”

Sekondêre Meisieskool Oranje: “Ons innige simpatie aan al Annerien se geliefdes.”

Die skool hou Dinsdag ’n roudiens vir haar.

*Neem asseblief kennis dat hierdie artikel gewysig is

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button