Luisterliedjie-legende vier sangloopbaan van 50 jaar
Legendariese Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jannie du Toit, het sy 50 jaar op die verhoog as sanger gevier met 'n nuwe produksie, Oppiekitaar.
Die legendariese Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jannie du Toit, het op 25 Junie in die Atterbury-teater sy nuwe produksie getiteld Oppiekitaar, met ’n kragtoer gevier.
In dié produksie gee hy ’n terugblik op die keur van die verskeidenheid liedjies wat hy oor die jare gesing het soos liefdesliedjies “Jy kyk sag”.
Hy sing ook met ’n vonkel in die oog die snaakser liedjies soos “Cholesterol”. Daar is ook ballades soos “Gee ons vrede” op die program.
Du Toit het saam met vyf van die kitare wat hy in sy verhoogloopbaan gebruik het, verskyn en die stories daaroor vertel.
Hy het staaltjies vertel oor die kitaar wat hy gekoop het vir R7 toe hy op die broodlyn gelewe het, ’n geliefde geleende Gibson-kitaar en ’n kosbare instrument wat hy by voorste kitaarspeler Mauritz Lotz as geskenk gekry het.

Du Toit het uitsluitlik sy eie liedjies gespeel en homself op die kitaar begelei.
Gedurende die vroeë sewentigs was hy lid van die Afrikaanse folk-groep Trilogie, en van die liedjies was by die vertoning ingesluit.
Hy het vermaaklik vertel van die digter AG Visser se invloed op sy eerste liedjies. Visser was huisdokter van die Du Toit-gesin op Heidelberg toe hulle op die plaas Leeuspruit gewoon het.
Hy het nostalgies teruggedink aan sy optredes in die Laager van die Mark-teater in Pretoria sedert die heel eerste Musiek en Liriek-konsert in April 1979.

Daar was ook ’n terugblik oor sy “Liedjie-aande” in Margaretastraat in Pretoria.
Veral sy vertelling oor sy 20-jare lange verbintenis met afgestorwe pianis en liedjieskrywer, Christa Steyn, het die gehoor geraak.
Du Toit het met heimwee vertel hoe haar ingesteldheid van “die Here se genade is genoeg” hom aangeraak het en tot ’n sterk geestelike liedjie gelei het.
’n Volgepakte teater met diegene wat 50 jaar ’n rol gespeel het in sy loopbaan, soos agent Jopie Koen, en sterre soos Sonja Herholdt en vriende soos akteur Tobie Cronje, het Du Toit na die twee ure lange vertoning ’n staande toejuiging gegee.
As teken van dank vir al die ondersteuning oor die jare het Du Toit sy vertoning met sy grootste gunsteling van alle tye “Liedjie vir jou” afgesluit.
Du Toit beplan om die program oor die volgende jaar of twee landswyd aan te bied.
Sielvolle hees rocker Jo Black se debuutboek ‘n suksesstorie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
