Unieke kunswerk bring hulde aan Voortrekkermonument
“Ek het besluit om die kunswerk te maak omdat die Voortrekkermonument my baie na aan die hart lê."
Edgar Degas het gesê: “Kuns is nie wat jy sien nie, maar wat jy ander laat sien” en Ilze van Wyk beaam dit.
Van Wyk is ’n kunstenaar van Sutherland wat onlangs groot opspraak gemaak het met ’n kunswerk wat mense uit ’n heel nuwe oogpunt na die Voortrekkermonument (VTM) laat kyk.
Van Wyk het onlangs ’n funksie van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) by die VTM bygewoon en ’n unieke geskenk saamgebring.

’n Pragtige driedimensionele, multimedia-skildery van die monument.
Dié kunswerk het besoekers tydens die funksie behoorlik laat gons met die indrukwekkende optiese illusie wat mens sien wanneer jy die skildery van verskeie hoekpunte af aanskou.
Die skildery wat Van Wyk meer as drie jaar geneem het om te voltooi, is, volgens haar, ’n uitbeelding van een van haar gunstelingplekke in Suid-Afrika wat sy graag met die wêreld wou deel.
“Ek het besluit om die kunswerk te maak omdat die Voortrekkermonument my baie na aan die hart lê,” sê Van Wyk.
“Om na die VTM te kyk, is onbeskryflik, daar is werklik so baie om te sien dat mens elke keer iets nuut ontdek.”
Die kunswerk getiteld “Omgekeerde perspektief,” skep die illusie dat mens reg rondom die monument beweeg wanneer jy daarna kyk en dit is beslis die kyk werd.
Van Wyk is ’n nasaat van een van die bouers van die VTM asook Bart Pretorius.
Sy sê dit is vir haar besonders spesiaal om te weet haar familie se geskiedenis word hier vertel.
Sangeres vra publiek om Hougaard ‘n kans te gee om self sy saak te stel
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
