Laerskool Pierneef verfris naamgenoot se graf vir 70e verjaarsdag
Hulle het die oorgroeide gruis (wat terugdateer na 1957) vervang, twee potte met aalwyne is op die rusplek se hoeke geplaas en die randjies is weer mooi en netjies gemaak.
Laerskool Pierneef word vanjaar 70 jaar oud, en deel van die skool se trotse geskiedenis is die feit dat hul die naam van so ’n wêreldberoemde kunstenaar dra.
Die skool se onderwysers, ouers en kinders dra die Pierneef-erfenis na aan hul harte.
As deel van die behoud van hierdie geskiedenis, is daar besluit om Pierneef se graf in Heldeakker-begraafplaas skoon te maak en te onderhou.
“Ons as ouers wil graag goeie waardes in ons kinders aanwakker,” sê Jannie Geyser, lid van die skoolbeheerliggaam.
Pierneef was ’n baie bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, wat uitgestaan het vir sy landskapskilderye van die hoëveld. Vandag is sommige van sy kunswerke meer as ’n miljoenrand werd.
Iets waarvan min mense bewus is, is dat Pierneef se peetpa die baie bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer, Anton van Wouw, was.
J.H. Pierneef se heel laaste kommissie was die skoolwapen van Laerskool Pierneef, wat sy verbintenis met die skool soveel dieper maak as net sy naam.
“Ons lê al van 2021 elke jaar saam met die FAK ’n blommeruiker op sy graf neer vir sy verjaarsdag,” sê Geyser.
FAK-lid Quentin Meyer is onlangs aangestel as toesighouer oor die Heldeakker-begraafplaas en het so organisasies uitgenooi om eienaarskap te neem oor ’n stukkie geskiedenis.
“Ons het natuurlik die kans aangegryp, want as ’n skool wat werk met kinders (die toekoms), is ons terdeë bewus daarvan dat beide ons hede en ons toekoms deur ons verlede en ons erfenis gevorm is. Ons wil ook graag daardie waardes aan ons kinders oordra, en vir hulle iets gee om oor trots te voel, groter as net die gewone,” sê Geyser.
Laerskool Pierneef se skoolbeheerliggaam het voorgeneem om elke kwartaal werkers te stuur om die rusplek van J.H. Pierneef in stand te hou sodat hulle kan trots bly op hulle erfenis.
Dit is toe dat die ouers besluit het om dit op hulself te neem om die graf te hernu en netjies te maak.
Hulle het die oorgroeide gruisklippies (wat terugdateer na 1957) vervang, twee potte met aalwyne is op die rusplek se hoeke geplaas en die randjies is weer mooi en netjies gemaak.
Dewald Burger, ’n ouer van ’n Laerskool Pierneef-leerling en plaaslike besigheidseienaar, het onder die streng toesig van sy dogter, Mieke (gr. 2) en met hulp van ’n maatjie, Nathan Britz (gr. 3) die graf weer opgekikker.

Twee ander Pierie-pappas, Pieter en Thinus, het hulle besigheid se hulpbronne bymekaar gebring vir die skoonmaakprojek.
Na die skoonmaak het Laerskool Pierneef se onder hoofseun, Ruben Kruger, en onder hoofmeisie, Karla Labuschagne, op Saterdag, 2 September ’n krans gaan neerlê op die graf namens die skool.
Laerskool Pierneef het hulle 70e verjaardagweek gevier deur die leerlinge aan lekker aktiwiteite te laat deelneem en het Saterdag afgesluit met ’n groot skoolkuier.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
