Local newsNews

‘Vergeet My Nie’-akteur se lewe kry self ‘n romantiese kleurtjie

Pretoria-oos akteur Leché Joubert speel vir die eerste keer 'n komiese rol na verskeie meer dramatiese rolle. In haar lewe het die werklikheid ook nou 'n romantiese kleurtjie gekry.

Van Afrikaans se snaaksste komediante en akteurs is van Oktober in ’n splinternuwe komediereeks, Taktiek, te sien.

Pretoria-oos akteur Leché Joubert, meer bekend vir haar romantiese rolle, sê die komiese rol was seker een van die moeilikste tot dusver in haar loopbaan.

“Komedie loop op so ’n fyn lyn, maar sodra jy dit verstaan en kan toepas, dan is dit een van die heel lekkerste genres. Daar was ook meer vryheid om net die rol te kon speel. So hou jy aan om iets nuuts te ontdek van jou eie karakter. Dit maak jou karakter meer kompleks en geloofwaardig.”

Taktiek spog met Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Marion Holm, Mandri Sutherland en Keeno-Lee Hector in die rolverdeling.

Die reeks speel af in ’n dorpie genaamd Schusterton. En soos enige ander dorpie in die land, het Schusterton ’n sekuriteitsmaatskappy wat na die veiligheid van die inwoners omsien.

Daar is net twee probleme. Eerstens is Schusterton die veiligste dorp in die land waar daar min tot niks aangaan nie. Tweedens is die grootbaas tronk toe gestuur vir allerlei ongerymdhede en is die sekuriteitsmaatskappy, Taktiek, nou in die hande van sy dogter.

Joubert speel die rol van Lisea Jordaan wat deur haar skatryk verloofde Arend, gespeel deur Ludwig Binge, verlaat word. Hy sien nie kans vir haar familie se skandes nie.

“Sy is ’n warrelwind van emosie en is nie bang om dit te wys nie. Daar is ook ’n kinderlikheid aan haar wat net nog nooit kans gekry het om uit te kom nie en dis wat haar so lekker gemaak het om te vertolk,” vertel Joubert.

Leché Joubert

Sy woon self in ’n kompleks in Pretoria-oos en verstaan die dinamiek van die reeks rondom veiligheid.

“Ek sal definitief nooit iewers heen trek waar daar nie veiligheid is nie. Veral omdat ek partykeer vreemde ure werk, weet ek dat ek veilig is wanneer ek met my tuiskoms deur my kompleks loop,” verduidelik Joubert.

Sy wou eers nie in Pretoria woon nie. Sy was ’n leerder aan Helpmekaar Kollege en het in Johannesburg grootgeword.

“Snaaks genoeg wou ek nooit in Pretoria wortelskiet nie, maar dit is nou my tuiste as gevolg van die mense! En dit voel soos die perfekte mengsel tussen stad en dorp. Jy kan ietsie van alles hier kry en daar is aanhoudende groei en ontwikkeling,” lag sy.

As alumnus van die Performing Arts Lifestyle Institute, kan sy reeds ses kort en vyf lang films agter haar naam skryf.

Fliekvlooie sal haar onthou vir die film, Vergeet My Nie. Kassiekykers het haar ook onlangs in die Spoorloos TV-reeks sien speel teenoor Bobby van Jaarsveld.

“Vergeet My Nie was ’n hoogtepunt, maar ek was oorweldig. God het egter altyd ’n plan. Ek het daarna geleer hoe om oorklanking- en stemwerk te doen. Ek het lekker baie kinderstories opgeneem saam met LekkerLuister,” vertel sy in haar sagte en melodieuse stem.

Sy doen ook jaarliks Paasfees- en Kersfees-produksies en aanbiedinge op sosiale media by haar kerk, CRC.

“En ek is nou ook sommer verloof in Augustus aan Jason Schroder,” sê ’n sprankelende Joubert.

Jason Schroder en Leché Joubert

Schroder is ’n finansiële adviseur. Joubert sê sy is dankbaar dat hulle nie in dieselfde bedryf werk nie.

“Hy is mal oor die natuur en enige fisiese aktiwiteite. Hy het my definitief geïnspireer om meer aktief te word. Hy is seker een van die mees getroue, hardwerkende en doelwit-georiënteerde mense wat jy sal ontmoet in jou lewe! Boonop het hy so ’n liefdevolle omgee-hart en hy is ongelooflik aantreklik ook,” sê die duidelik verliefde Joubert.

– Kliek hier om Joubert oor die Vergeet My Nie-film te hoor gesels: https://bitly.ws/VZEc

– Kliek hier om te sien toe Schroder die groot vraag gevra het: https://www.facebook.com/100090465207059/videos/1318521265421182

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button