LifestyleLocal newsNews

Digters en illustreerders span saam om vernuwende bundels uit te gee

'n Nuutjie op die Pretoria-kultuurakker is die samestelling van digbundels met illustrasies. Tien sulke digbundels is onlangs geloods.

Die heel eerste Worldplay on Paper-aand in Pretoria is op 3 November as deel van die Mogale-fees by die Javett-kunssentrum by die Universiteit van Pretoria aangebied.

Mercia Eksteen, kommunikasiebestuurder van die ATKV, sê Worldplay on Paper is ’n multitalige projek waarby tien pare woord- en beeldende kunstenaars betrek is om saam te span en ’n A5-grootte geïllustreerde digbundel te skep.

Dié geïllustreerde digbundels is onlangs by die Worldplay on Paper-aanbieding te koop aangebied en van die digters het ook by die geleentheid van hul gedigte voorgelees.

Hoewel geïllustreerde digbundels hier ter plaatse nie ’n nuutjie is nie, was die omvang van dié projek wel ’n uitdaging vir die organiseerders wat digters, illustreerders en drukkers bymekaar moes bring.

Digters en illustreerders wat die Mogale-fees geleentheid bygewoon het: Agter: Bianca Brand, Neil Badenhorst, Daniella Rodrigues, Nina Torr, Jolyn Phillips, Maaike Bakker, Kyle Kemink, Jonathan Lefenya, Flex of He & I en Xitha Makgeta. Voor: Angie Gallagher, Bibi Slippers, Zinhle Zulu en Jaco van der Merwe.

Jaco van der Merwe (40), die groot dryfkrag agter die projek sê: “Digkuns is een van die wêrelde waar ek graag speel.”

Hy is ’n lid van die voormalige musiekgroep Bittereinder en hoof van die filmkunsskool van die Open Window-instituut in Centurion.

Open Window-kollegas Nina Torr en Maaike Bakker het gehelp met die name van kunstenaars uit die geledere van Open Window (toe en nou).

Die digters en illustreerders wat vir hierdie projek saamgespan het, is: Xabiso Vili en Maaike Bakker; Bibi Slippers en Nina Torr; Angie Gallagher en Neil Badenhorst; Jolyn Phillips en Imile Wepener; Lethokule Msimang en Miriek Jansen van Rensburg; Jonathan Lefenya en Kyle Kemink; Jaco van der Merwe en Zinhle Zulu; Xitha Makgeta en Daniella Rodrigues; Belita Andre en Bianca Brand; Flex of He & I en Sorrypanic.

Die medewerkers en borge van dié projek is die ATKV, Soft Serve, Wêreld, Open Window, Hear My Voice en die Mogale-fees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button