Local newsNews

Mootsterre skitter by Dramafees

'n Dramafees het weer vanjaar bewys dat talent volop is in die Moot.

Die Moot Dramafees het vanjaar weer groot opspraak gemaak met geesdriftige en talentvolle akteurs wat hul gehore vermaak het.

Meer as 200 leerders het aan die fees in Laerskool Totiusdal se skoolsaal deelgeneem.

Die fees, wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ondersteun word, is ’n eiesoortige gemeenskapskompetisie waar verskeie skole vanuit die Moot sowel as die ooste van Pretoria kan inskryf en hulself kultureel kan uitleef in hul eie taal.

Vir Barrie Müller, projekkoördineerder by die FAK, was dit “drama, drama en nóg drama by Moot se gemeenskapsdramafees”.

Meer as 200 inskrywings is vir vanjaar se Moot-dramafees ontvang.

Vir Müller is die projek ook ’n aanduiding van hoe kundiges in die drama- en kultuurbedryf uit die gemeenskap, soos digter Sarina Dönges, bereid is om tyd af te staan om die kompetisie momentum te gee.

“Die Moot se mense en gemeenskap is baie geesdriftig oor taal en kultuur en dis hoekom ons sulke inisiatiewe vol liefde en opwinding steun,” glo Müller.

Hy voel die volgende generasie se vaandeldraers moet toegerus word om nuwe geleenthede te ontwikkel en vir hulself op die kultuurakker te identifiseer.

“Die ontwikkeling van taalvaardighede is krities belangrik vir kinders. Ons hoop van harte meer kinders sal volgende jaar deelneem en ook sertifikate verwerf,” sê Müller.

Hy glo dié fees versterk die jeug se leierseienskappe, bou karakter en skep selfvertroue. Natuurlik is daar geen tekort aan hope pret tussenin nie.

“Ons wil graag meer kinders en hul ouers betrek en uitbrei op die kategorieë soos poppekas en skryfwerk.

“Natuurlik gaan dit nie oor die punte nie, maar oor die ontwikkeling van hierdie kinders. Ons wil graag volgende jaar nog meer skole se kinders betrek en hierdie gemeenskapsfees nóg meer uitbrei,” sluit hy af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button