News

Teater se deurman Charlie word bekroon vir sy onbaatsugtige kultuurdiens

'n Deur- en kroegman is deur die ATKV bekroon vir sy onbaatsugtige diens aan kultuur en die gemeenskap.

Die ATKV se Centurion-tak het onlangs die “Klop-op-die-Skouers”-toekenning aan getroue werker en stoomenjin van die Centurion-teater, Charlie Mopeli, vir sy jarelange bydrae tot die kunste, teater en gemeenskap oorhandig.

Die rede?

Charlie is al vir meer as 15 jaar ’n vriendelike gesig wat elke gas en kunstenaar groet en dien met trots en hartstog.

En hierdie diens word in onberispelike Afrikaans gelewer.

“Ons kan nooit genoeg dankie sê vir jou hulp, energie en hartstog wat jy aan ons, die teater en die gemeenskap gee nie,” het teatereienaars Lian Sachse en Tiaan Kirsten-Lubbe in hul meegaande huldeblyk op die toekenningsaand gesê.

Toe hy die toekenning tydens die teaters se glans vieringsaand van hul 30e bestaansjaar ontvang het, het Mopeli nie woorde gehad nie.

“Dié organisasie gee mens waarde met so ’n toekenning. Ek leer by hulle van diens aan die gemeenskap,” vertel hy aangedaan.

Maak jy ’n draai by die plein voor die teater, kom daar nog ’n kant van die vriendelike en innemende deur- en kroegman na vore.

Hy word al miaauend deur die ander “deurman” verwelkom. Die bont kat, eens ’n wilde kat uit die veld, draf vinnig nader toe Mopeli roep.

Dis duidelik nie net in die gewilde musiekblyspel van Andrew Lloyd Webber, Cats, waarin daar ’n beroemde teaterkat is nie. In die blyspel is dit Gus die teaterkat, moeg en bewerig so teen die einde van die lewe.

By die Centurion-teater is die inwonende teaterkat egter die op-en-wakker Khaleesi.

“Die kietsiekat verbeel hom met elke glansgeleentheid die rooi tapyt word vir hom uitgerol!” spot Mopeli.

Dis al vyf jaar wat hy die bontgekleurde kat kos en water by sy kathotel voor die ontvangsdeur gee.

Die 45-jarige Mopeli kom van Ficksburg in die Vrystaat waar hy sy keurige Afrikaans by ’n laerskooljuffrou by Masaleng laerskool en ’n Afrikaanse hoërskooljuffrou by Hoërskool Ficksburg aangeleer het. Sy huistaal is Sotho.

“Die eerste ding wat mense moet verstaan is: Ek is en bly ’n Vrystater. Verder glo ek mens kan van elke mens wat jy teëkom, iets leer solank jy bereid is om die mens te verstaan. So was ek op skool. Ek wou leer en veral ook van Afrikaans,” sê die vriendelike Vrystater.

Mopeli het na skool Pretoria toe gekom om sy suster by te staan gedurende haar studies en besluit om aan te bly. Die gesinsman is met Felicia getroud en hulle gesin bestaan uit sy seun Katlego (10) en dogtertjie Palesa (8).

Deur die 15 jaar wat Charlie Mopeli betrokke is by die Centurion-teater as deur- en kroegman, het hy die groot name in die vermaaklikheidswereld sien kom en gaan. Foto: Elize Parker.

Hy het as skoonmaker by die teater begin toe teaterbestuurders Paulette Reyneke en Debbie Linde gesorg het dat opvoerings op die planke kom.

“Ek moes die teater skoon maak en mooi maak,” verduidelik die fikse swemmer en gymganger.

Mettertyd het die warm en gul Mopeli die verwelkomingswerk by die deur van gaste, maar ook van kunstenaars voor optredes, gedoen.

“Dit is so ’n voorreg om mense, gaste en kunstenaars te kan ontvang. Ek voel net mens moet jou daarop voorberei en dit nie sommer net doen vir doen se onthalwe nie,” vertel hy.

Gou het hy ook die werk gekry om te sorg dat kunstenaars voor hul optredes met hul gunsteling drankies en snoepgoed bedien word.

Jy kan maar sê oor die 15 jaar het Mopeli al die groot name, in veral die Afrikaanse vermaakwêreld, gesien kom en gaan.

Sterre van die verhoog en kunstenaars wat ’n blywende indruk gelaat het is veral Nianell en Theuns Jordaan.

“Dit was vir my ’n eer om hulle in Afrikaans te bedien,” vertel ’n glimlaggende Mopeli.

Jak de Priester onthou hy as ’n “beleefde” sanger en die a capella sangers Navi Redd as ‘’n gawe, spitsvondige klomp.”

Maar dit is Kaapse rocker Dan Palantsky en sanger en akteur Chris Chameleon wat hy graag weer sal wil sien.

Charlie Mopeli Foto: Elize Parker

“Wanneer mens kunstenaars se drink- en eetgoed voor die tyd na hulle neem, leer jy hulle beter ken. Ek het die voorbereidings en die stres in die kleedkamers waargeneem. Dis die wêreld wat ek verstaan,” verduidelik ’n meelewende Mopeli.

Deesdae is dit ook vanagter die kroegtoonbank in die teater se restaurant, The Rehearsal Room Café & Eatery, wat Mopeli teatergangers met raad en drinkgoed bedien.

“Ek ontmoet deurlopend nuwe mense en daarvan hou ek. Mense vertel my maklik wat pla hulle en dan gee ek maar ‘n bietjie Charlie-terapie,” lag hy.

Hy glo daaraan mens moet uitdagings soos ’n vernuwing in jou omgewing baasraak.

“My raad is altyd as jy moeg is, probeer iets vir ander doen. Hou ook aan om vorentoe te stap. Iets sal wel in jou guns gebeur,” vertel hy hoopvol.

LEES OOK: Moot-gemeenskap kan terugkyk op ‘n jaar van selfdoensukses

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button