Radio en TV se Indiana Jones gaan vliegwrakstukke herwin in April-ekspedisie
Sy onverskrokke nuuskierigheid laat die wrakspeurder van Lynnwoodrif spore trap waar ander nie sal dink om te stap nie.
Die herdenking van die SA Vlug SA406-ongeluk, oftewel die Rietbok-vliegramp op die aand van 13 Maart 1967, word binnekort weer in herinnering geroep.
Wrakspeurder van Lynnwoodrif, Wouter Botes, maak nou reg vir sy ekspedisie om af te duik na die wrak wat in die see met 25 siele aan boord verdwyn het.
“Enkele wrakstukke het uitgespoel, maar die groter wrakstukke is nooit amptelik opgespoor nie. Dit het egter aan die lig gekom dat die ligging van die wrak nie op die plek is soos aangedui in die amptelike verslag nie,” sê Botes.
“Ek het met ’n span begin soek na die wrak in 2021. Ná vele pogings is enkele wrakstukke op die seebodem in Augustus 2022 opgespoor,” vertel die oud-omroeper van Pretoria FM en Radio Kansel.
“Dit was op ’n diepte waar gewone duikers nie kan duik nie en spesialisduikers was nodig om in die area te duik. Die wrakstukke is voorheen ook raakgesien deur ’n navorsingskip. Nou lê die groot taak voor om enkele wrakstukke te herwin, vir uitstalling in twee geïdentifiseerde museums,” verduidelik Botes.
Die voorlopige datum vir die ekspedisie is vanaf 21 April tot 5 Mei vanjaar in die Oos-Kaap naby Oos-Londen.
Hierdie seun van ’n suikerboer van Pongola se pad om onopgeloste raaisels soos die verdwyning van die Rietbok op te los, het begin toe hy 12 jaar gelede ’n boek van Rob Marsh met die titel Verlore skakels ontdek het.
Net daar het Botes besluit om leesstof bymekaar te maak om vir radio sulke verhale oor die onverklaarbare saam te vat.

Botes beskryf himself as ’n onemosionele mens wat klinies na mense se gedrag en omstandighede kan kyk.
“Ek is realisties en juis dít maak my dalk ’n goeie feite-soeker,” verduidelik hy.
Die raaisels wat hy al ’n geruime tyd naspeur, is nie net dié van verlore vliegtuie nie.
Hy stel ook belang in moorde waaroor daar nie duidelikheid is nie, sowel as paranormale verskynsels. Selfs die geheime van die Anglo Boereoorlog sowel as die enigmatiese Kruger-miljoene, het al sy verbeelding aangegryp.
Hy het weggespring deur ’n onopgeloste moord van ’n jong Afrikaanse meisie, Bubbles Schroeder, te ondersoek. Sy was van Duitse agtergrond en het op Lichtenburg grootgeword. Sy verhuis op 18-jarige ouderdom na Johannesburg, waar sy kort daarna op 2 Augustus 1949 dood aangetref is.
“Met hierdie eerste projek het ek drie dae lank in die polisie-argiewe dokumente deurgegaan en uiteindelik die hoof-aangeklaagde gaan konfronteer,” vertel Botes.
Botes sê met enige raaisels is sy werkswyse om ’n tydlyn uit te werk. Die gaping in die feite-tydlyn waar ontbrekende inligting is, word gewoonlik sy invalspunt met ondersoeke.
Hy het met die navorsing oor hierdie en ander raaisels sy eerste radioreeks, Doodloopspore – Die onverklaarde geheime van Suidelike Afrika, gemaak. Hierdie verhale rondom sy ondersoeke oor die onverklaarbare is in ’n boek uitgegee en vir TV verfilm. Hy werk tans aan die tweede boek en TV-reeks op hierdie tema.

Hierdie gebore Pretorianer het op verskeie plase in Pongola en die Bosveld grootgeword.
Hy skryf juis deel van sy sin vir avontuur daaraan toe dat die veld sy eerste navorsinglaboratorium was.
Hy meen sy skooljare op die Hoërskool Brandwag in Benoni het in sy vormingsjare sy passie geslyp om die waarheid te wil ontdek.
“Miskien ook die lees van destydse fotoverhaalboekies soos Die Ruiter in Swart, lag Botes, ’n taalpuris met keurige taalgebruik en foutlose uitspraak in ’n kalm nuusleserstem.
Alhoewel hy landbou en bemarking bestudeer het, het die bekende en geliefde aktrise van die gewilde TV-reeks, Nommer Asseblief, San de Lange, se belewenis van die dramawêreld hom beïnvloed.
Sy was ver langs familie en het hom aangemoedig om self twee rolle in Jan Scholtz-films, Triptiek en Sonkring, te aanvaar.
“Ek sal altyd onthou hoe haar seun, omroeper Morné Coetzer, my na die bekende regisseur geneem het,” kyk Botes terug.
Hy het hierdie rolle as wegspringblok vir 20 jaar se werk as omroeper, regisseur en programsamesteller in radio gebruik.
“Ek was die eerste betaalde omroeper by die destydse Radio Pretoria wat nou Pretoria FM is,” sê Botes.
Ondertussen het hy ook in die negentigerjare sy vlieglisensie by die Blue Chip-vliegskool by Wonderboom-lughawe verwerf.

Vandag kan Botes meer as 40 verskillende tipes vliegtuie veilig as loods in die lug kry en navigeer.
“Ek het al elke land in Afrika besoek, hetsy met ’n kommersiële vlug, lugambulans of vir ’n geologiese opname,” vertel hy.
Toe die klem weer op die tragiese Helderberg-vlug geplaas is, was Botes se belangstelling geprikkel om sy twee liefdes, vlieg en ondersoekwerk, te kombineer.
“Daar word amptelik tien vliegtuie in Suid-Afrika vermis waarvan die raaisel oor hul laaste oomblikke nog nie opgelos is nie. Ek het besluit om ’n reeks daaroor te doen.”
’n Reeks artikels is daaroor vir die African Pilot-tydskrif geskryf. Die artikels het ’n gewilde TV-reeks, Flights to nowhere, geword en is op drie kanale uitgesaai.
Dit is darem nie net kopkrap oor geheime en raaisels vir Botes nie.
Hierdie oupa van twee is heeltemal bereid om op sy knieë te sit om pophuis te speel met sy kleindogter en boom te klim met sy kleinseun.
“’n Oupa se liefde is mos ’n anderste soort liefde as die van ’n ouer. Dis meer vir my soos die liefde wat in 1 Korintiërs 13 beskryf word,” sê hy vir ’n oomblik aangedaan.
As die TV-kameras nie rol nie, kuier hy graag op ’n Karoo-plaas van vriende naby Petrusville.
Tans is Botes besig om leidrade op te volg oor die meisies wat deur die berugte Van Rooyen-egpaar van Pretoria ontvoer is. Hy lewer ook gereeld kommentaar op nuusprogramme oor hedendaagse vliegongelukke soos Air Alaska se fopdeur wat uitgeval het.
Oor die Rietbok-vlugramp is hy egter duidelik nadat hy tegnologie ingespan het om ’n antwoord te verkry.
Ten spyte van die omstredenheid oor beide ’n anti-apartheidsaktivis sowel as ’n Broederbond-lid aan boord van die Rietbok, sê Botes dit blyk asof die raaisel wel ’n antwoord het.
Die oorsaak is bes moontlik ’n berekeningsfout wat die vlieënier tydens slegte weersomstandighede gemaak het.
En dit uiteindelik is hierdie navorser en ondersoeker se kos: Om bespiegelings, mites en legendes met feite te vervang waar moontlik.
Kliek hier om meer van Wouter Botes se ondersoek na die Rietbok-vliegwrak te sien: https://www.youtube.com/watch?v=jF0nBpF2xYo
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.