Local newsNews

Rietbok-raaisel: “Ons moet nie dinge op die oog af aanvaar nie”

Indien omstandighede en die weer dit toelaat, is Pretoria-oos se wrakspeurder in April of Mei vanjaar op pad Oos-Kaap toe om die laaste los drade rondom die Rietbok-vlugramp te knoop.

Dis vandeesweek 57 jaar gelede dat ’n tragiese vliegongeluk geliefdes, familie en ook Suid-Afrika in rou gelaat het.

’n Vickers-Viscount passasiersvliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het op 13 Maart 1967 met 20 passasiers en vyf bemanningslede aan boord naby Oos-Londen net na skemertyd in die see gestort.

Wrakspeurder en ondersoeker van enigmas en raaisels van Pretoria-oos, Wouter Botes, sê vandeesweek se 57ste herdenking van die ramp is belangrik vir hom want dit is ’n veelseggende oomblik in Suid-Afrika se lugvaart en algemene geskiedenis.

Hy het talle ondersoeke na die ramp onderneem en gaan juis vanjaar weer na die ramptoneel om te sien of hy die raaisel finaal kan ontrafel.

Hy vermoed dat moontlike oorsake van die ramp ’n menslike oordeelsfout aan die kant van die vlieënier, Gordon Lipawsky, en swak weersomstandighede was.

Wouter Botes. Foto: Elize Parker

Die weer was volgens Botes stormagtig met lae wolke en misvlae met swak sigbaarheid as gevolg.

Botes en sy ondersoekspan het in Augustus 2022 die Rietbok se wrak uiteindelik opgespoor nie ver vanwaar die ramp gebeur het nie.

Dit is op ’n diepte van meer as 60m in die see gevind.

Wanneer omstandighede reg is vanjaar in April of Mei en die weer saamspeel, is Botes en sy span op pad Oos-Kaap toe vir ’n herwinningsprojek rondom die wrak.

“Ek moet die wrakstukke herwin, sodat die Rietbok se storie altyd onthou sal word en herdenk kan word, vir die slagoffers se onthalwe,” verduidelik Botes.

Hy glo die ramp en die gevolge daarvan is steeds relevant omdat verteenwoordigers van twee uiterste partye van die politieke spektrum in 1967 op dieselfde vlug gesit het.

Die Rietbok-vliegtuig voor sy vertrek in 1967. Foto: Facebook/Wouter Botes

Hierdie feit het talle samesweringsteorieë tot gevolg gehad.

Een van hierdie partye was Audrey Rosenthal, ’n Amerikaanse burger wat beide politieke ANC- en PAC-gevangenes se families ondersteun het.

Die ander was die waarnemende Broederbond voorsitter, Johannes Bruwer.

Botes het reeds egter telkens benadruk hy glo nie die vliegtuig is doelbewus gesaboteer nie.

Hy glo sy ingebore nuuskierigheid laat hom vanjaar weer ’n ekspedisie aanpak om die raaiselagtige saak finaal uit te klaar.

“Ek kan nie aanvaar dat daar onopgeloste sake is nie,” sê Botes.

Die Rietbok-ondersoekspan onder leiding van Wouter Botes op soek na die wrakvelde van die vliegtuigwrak. Foto: Wouter Botes-argief

Vir hom is die menslike tragedies rondom sulke rampe aangrypend.

“Dit raak my omdat ek daaraan dink dat gewone mense opgestaan het in die oggend en nie verwag het dat daardie spesifieke dag hulle laaste dag op aarde sou wees nie,” sê hy.

Botes glo elke ondersoeker van sulke raaisels soos vliegtuigrampe kan uit hierdie soektog na feite leer dat ons nie net dinge op die oog af moet aanvaar nie.

“Ons moet altyd bly soek na antwoorde. Vliegtuigongelukke is ’n integrale deel van ons lewens en ons moet uit ons foute leer.”

Hy sien uit na nog ontdekkings en onthullings as die ekspedisiespan in die pad val in April of Mei vanjaar en met 3D-toerusting na die wrakvelde gaan kyk om te sien wat herwin kan word.

– Kliek hier om meer oor die raaisel te sien:

https://www.facebook.com/reel/265078959869535

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button