Local newsNews

GPF sorg vir Roseville-park se opruiming

Die opruiming van 'n plaaslike park het Roseville se inwoners saamgesnoer met grassnyers se diesel wat geborg is en inwoners wat vir verversings gesorg het.

Lede van Wonderboompoort GPF Sektor 2 het op 4 Februarie saamgekom om ’n plaaslike park op die hoek van Sophiastraat in Roseville te verbeter.

Voorsitter van die GPF en organiseerder van die skoonmaaksessie, Albert Michau, sê: “Dit is fantasties om te sien hoe die inwoners van Sektor 2 saamwerk.”

Een van die harde werkers van die opruimingspan en spanleier vir die dag, Rinus de Beer, sê as gemeenskap wil hulle dankie sê vir die tyd en moeite wat Michau ingesit het om die projek te stig.

Albert Michau

“Die parkie se gras was ongelooflik lank en was langer as ’n maand terug gesny. Dit is net toe wat Albert besluit het om dit in sy hande te vat en ’n veiliger en skoner parkie vir die gemeenskap en kinders terug te gee,” verduidelik De Beer.

Hy meen gemeenskapsinisiatiewe soos hierdie is van groot waarde vir die algehele welstand van die gemeenskap.

De Beer het die span bestaande uit 11 lede bedank vir hul toewyding en harde werk om al die toerusting soos gras-, randsnyers en ander skoonmaaktoerusting bymekaar te kry.

Hy het ook ’n woord van spesiale dank aan “oom Pat” van Maders Slaghuis vir sy skenkings vir die aankoop van diesel gerig wat die projek moontlik gemaak het. Lede van die span het ook kontantbydraes uit hul eie sak gemaak.

Spanne het ingespring in ‘n park in Roseville om die omgewing op te ruim en inwoners te vrywaar van moontlike misdaad in die park.

De Beer is ook dankbaar vir inwoners wat verversings voorsien het.

“Hierdie vorm van gemeenskapsbetrokkenheid en ondersteuning is onmisbaar vir die sukses van sulke inisiatiewe. Mag hierdie positiewe momentum voortduur en mag ander gemeenskappe ook deelneem aan sulke gesamentlike pogings om hul omgewing te verbeter,” sê De Beer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button