Metro wil Melgisedek voor Augustus vanjaar ontruim
Die Melgisedek-kompleks in Riviera is eerste op die lys van moontlik gekaapte geboue wat die metro nog vanjaar wil ontruim volgens ‘n nuwe geboueprogram.
Die metro beoog om al die inwoners van die berugte Melgisedek-kompleks en -terrein in Riviera teen die einde van Julie vanjaar na nuwe veilige akkommodasie te skuif.
Die eiendom en terrein het die afgelope 14 jaar van onwettige besetting in ’n afgeleefde en verwaarloosde stel geboue in Riviera ontaard.
Die Mahala-wonstelle op die terrein is deur die metro as onleefbaar verklaar.
Die Melgisedek-terrein word beskou as ’n trekpleister vir dwelmsmouse, behuisingsindikate en misdadigers.
Vir die Riviera-inwoners is dit ’n bron van misdaad en sosiale euwels.
Nic Botha, metrowoordvoerder oor behuisingsaangeleenthede, sê stappe om die gebou te ontruim word tans in werking gestel.
Hierdie proses vorm deel van die metro se nuwe beleid om kapings van geboue te voorkom.
“Ons wil die gebou ontruim om dit gereed te kry vir die volgende fase in ons vernuwingsprogram. In hierdie fase wil ons eens besette geboue opnuut benut,” verduidelik Botha.
Volgens hom verplig wetgewing die metro om tydelike noodakkommodasie aan individue aan te bied wat tydens ’n gedwonge uitsetting hul woonplek verloor.
“Ons sal altyd daarna streef om by die letter van die wet en by die wetlike vereistes rondom verpligte verskuiwings te hou,” benadruk Botha.
Die metro moet egter eers ’n strukturele opname en assessering van die geboue maak om vas te stel of opknapping moontlik is.
“Daarna kan besluite rondom die moontlike sloping van die geboue geneem word,” wys Botha uit.
So ’n opname sal egter slegs gedoen kan word wanneer die huidige inwoners hervestig is.
Volgens hom sal die metro om ’n hofbevel aansoek doen om inwoners wat nie hervestig wil word nie, na veilige akkommodasie te skuif.
“Ons sal met die verkryging van so ’n bevel en die uitvoering daarvan, die inwoners met die nodige respek en waardigheid behandel,” verseker Botha.
Maatskaplike werkers sal volgens Botha deel van die assessering van die geboue en behuising wees.
Botha sê hierdie amptenare sal die behoeftes van die huidige inwoners bepaal en hulle sal ook toegang kry tot die metro se sosiale ondersteuningsdienste.
Die inwoners kan ook verwys word na nie-winsgewende organisasies of staatsondersteunende dienste.
“Indien enige wetstoepassing nodig is, sal die metropolisie gebruik word. Hulle sal in die uitvoering van hul pligte deur die polisie ondersteun word,” verduidelik Botha.
“Hierdie twee wetstoepassingsagentskappe sal moet toesien dat alle stadsamptenare en individue veilig is en dat die ontruiming sowel as hervestiging volgens wetlike vereistes geskied,” sê hy.
Hy hoop dat alle hervestigings vredevol en ordelik sal verloop sodat bykomende wetstoepassing of die indiensneming van privaat veiligheidsmaatskappye nie nodig sal wees nie.
Botha verduidelik dat geen nie-winsgewende organisie al deur die metro geïdentifiseer is as vennoot in die projek nie.
“Ons sal wel na die Universiteit van Pretoria uitreik as een van die betekenisvolle rolspelers in die area,” sê Botha.
Tans bestaan daar volgens Botha nog geen spesifieke begroting om aan die Tshwane Volhoubare en Beter Geboue-program gestalte te gee nie.
“Ons sal van bestaande bronne in die metro in terme van interne kundigheid en begrotings gebruik moet maak,” raai Botha aan.
Die behuisingskomitee is nie bewus van ’n spesifieke behuisingssindikaat by die gebouekompleks nie.
“Daar vind wel misdadige aktwiteite plaas wat aangespreek moet word. Die eenvoudigste manier is egter om die huidige inwoners te hervestig,” meen Botha.
Mervyn Cirota, DA-lid van die Gauteng parlement, sê sy party sal aangeleenthede rondom gekaapte geboue in Tshwane en Johannesburg eersdaags in die provinsiale parlement aan die bod bring.
Hy het die metro gelukgewens met hul nuwe gebouvernuwingsplan.
“Ten minste probeer Tshwane iets doen om stedelike verval te keer en word die middestad nie langer aan sy eie lot oorgelaat nie,” sê Cirota.
Maar hy glo munisipale voornemens en planne is nie genoeg om die verval stop te sit nie.
“Ons wil weet watter stappe die provinsiale regering se administrasie doen om die kaping van geboue en staatsgesubsidieerde behuisingsprojekte te voorkom,” sê Cirota.
“Daar is ook ’n moontlikheid dat munisipale en staatsbehuisingsprojekte wat voorsiening moet maak vir inwoners van eens gekaapte geboue, deur die konstruksiemafia oorgeneem word. Hierdie mense vra beskermingsgeld en dreig huurders af,” verduidelik Cirota.
Vir hom is daar geen maklike antwoord of oplossing vir gekaapte geboue of hervestiging van individue nie.
“Wat my opval in Johannesburg en Tshwane, is die onvermoë om die verval se momentum te stuit. Met gekaapte geboue is daar gou rioolprobleme en geen onderhoud word meer gedoen nie. Misdaad seëvier en almal stap weg van die probleem. Niemand help inwoners nie,” meen Cirota.
Vir hom is die oplossing dat al drie vlakke van regering die probleem gesamentelik aanspreek.
“Die staat se uitvoerende behuisingsarm, die Sosiale Behuising Regulering Agentskap, se etiek moet ook aangespreek word en daar moet toegesien word dat belastingbetalersgeld reg deur die agentskap aangewend word sodat bekostigbare behuising daargestel kan word.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


