Metro was hande in onskuld oor begraafplaaschaos
Swak onderhoud van begraafplaasterreine, informele nedersettings en riool tussen grafte is van die klagtes wat roubeklaers en besoekers van geliefdes se grafte aan die metro rig. Maar daar is nie fondse beskikbaar nie, sê die metro.
Pretoria se begraafplase is onversorg, oorgroei met onkruid en gevaarlik.
So reken inwoners rondom begraafplaasterreine, begrafnisgangers en mense wat grafte van geliefdes besoek.
Boonop is daar na bewering ’n vete in een begraafplaas tussen twee groepe grafskoonmakers wat families teiken om grafte teen R80 ’n graf skoon te maak en na bewering mekaar se kliënte steel.
Grafskending vind plaas in ’n ander begraafplaas waar bra’s deur onwettige besetters oor grafte tesame met ander wasgoed gehang word en grafstene omgestamp en gebreek word.
Maar die metro sê daar is geen geld om op hierdie en ander begraafplase se onderhoud en skoonmaak te spandeer nie.
’n Inwoner van Pretoria-Noord besoek al sedert 1974 die Heatherdale-begraafplaas om blomme op die grafte van geliefdes neer te sit.
Sy wou nie geïdentifiseer word nie uit vrees vir viktimisasie.
Sy is steeds met elke besoek geskok om te sien hoe die onderhoud van die meer as 172 000 vierkante meter begraafplaas deur die metro agterweë gelaat word.

Die begraafplaas is in Vyfde Laan in Akasia geleë.
“Dis skokkend. Soms moet jy links en regs skoonmaak om net eers by die graf van jou geliefde te kan uitkom om die graf te kan versorg en mooi agter te laat,” sê sy.
Sy skat daar kan dalk meer as 10 000 grafte in die begraafplaas wees wat al in 1957 vir die eerste keer in gebruik geneem is.
Vir gebruikers van die Heatherdale-begraafplaas is dit ook verontrustend dat daar geen sekuriteit by die toegangshek is nie, maar slegs in die middel van die terrein.
“Maar die gras is so hoog, ek is seker veiligheidswagte kan nie eers sien wat aangaan nie,” sê sy.
Indien iemand ’n klagte sou wou lê of hulp soek, is daar volgens haar gewoonlik niemand by die ingangshek nie.
’n Inwoner, wat verkies het om anoniem te bly, se kind is onlangs in die Zandfontein-begraafplaas begrawe. Sy is weer omgekrap oor promosieplakkers wat deur grafskoonmakers as advertensiefoefie op grafte geplak word.
Die begraafplaas is in Beverleystraat in Andeon geleë.
Die grafskoonmaker se dienste word op die plakker geadverteer. Vir ’n eenmalige skoonmaak kan dit R300 kos, terwyl twee keer ’n maand op ’n gereelde basis kos dit R150.
Sy beweer begraafplaastoesighouers belet nie hierdie opportuniste nie.
Hulle word skynbaar ook toegelaat om op die heinings buite die begraafplaas hulle dienste te adverteer.
Die inwoner het al verskeie klagtes hieroor aanhangig gemaak by die hekwag sowel as by die metro en ’n raadslid, maar met geen goeie gevolge nie.
Hierdie gebruik het volgens die inwoner selfs ’n klein advertensie-oorlog tussen twee verskillende faksies grafskoonmakers ontketen en vandalisme van grafte tot gevolg gehad.
Vir Robbie de Jong van Pretoria-oos is die Pretoria-oos begraafplaas in Mattstraat ’n onooglikheid.
Hy sê hy en inwoners in die omgewing baklei al jare lank ’n skynbaar nuttelose stryd met die metro om te keer dat die terrein in ’n informele nedersetting vol plakkershutte verander.

Hy verduidelik die oorloop van plakkers na die begraafplaas het begin nadat ’n interdik teen ’n plakkerskamp naby Woodlands Boulvard verkry is.
“Toe het die kopseer begin. Veral ongedokumenteerde buitelanders gebruik die grafte as woonplek en ophangplekke vir hul wasgoed, grafstene word omgestoot en gebreek, rommel word gestort en riool stroom tussen die grafte deur. Krane is ook gebreek sodat water geredelik deur almal gesteel kan word,” verduidelik De Jong.
Hy het al die waterdiefstal deur ’n watertrok by die Boschkop-polisiestasie gaan aangee sowel as vele van die ander oortredings.
Klagtes oor onderhoud, veral die lang gras, is by die metro aanhangig gemaak. Raadslid Henning Viljoen is ook volledig oor die toestand van sake ingelig deur inwoners in die omgewing.
De Jong sê hy aanvaar nie meer die metro se verskoning dat daar geen fondse vir onderhoud van begraafplase is of dat hulle nie by magte is om die plakkers van munisipale eiendom te verwyder nie.
Metrowoordvoerder, Selby Bokaba sê daar is wel ’n skedule vir die sny van gras in begraafplase maar die metro het nie geld daarvoor nie.
“Die Heatherdale-begraafplaas sal geprioritiseer word wanneer daar wel fondse is,” benadruk Bokaba.
Volgens hom is grassny in begraafplase die metro se verantwoordelikheid, maar die metro het egter geen besware indien families of begrafnisondernemers die terrein rondom die beoogde graf netjies maak nie.
Hy verduidelik dat daar geen metrobeleid rondom die skoonmaak van individuele grafte is nie.
Munisipale regulasies maak egter voorsiening dat gemeenskapslede hul familie se grafte mag skoonmaak, mits hulle nie in die proses ander omliggende grafte of die begraafplaas daarna vuil agterlaat nie.
Hy verduidelik dat indien begraafplaaspersoneel nie altyd by hul kantore beskikbaar is nie, mag dit wees dat hulle juis besig is met terrein-inspeksie.

Hulle is egter verplig om ’n kontaknommer en kennisgewing op die deur te los.
Hy bevestig dat by Heatherdale-begraafplaas, stel die metro daagliks sekuriteitsdienste beskikbaar.
Volgens hom is die metro geensins betrokke by die grafsteenskoonmakers wat met die publiek teen meesal ’n maandelikse fooi ’n ooreenkoms maak nie.
“Ons keur nie enige privaat ooreenkomste tussen individue goed nie,” sê hy.
Hy maan dat gemeenskappe deeglik bewus moet wees van diegene met wie hulle sake doen.
Die metro neem geen verantwoordlikheid vir sake-ooreenkomste aangegaan op munisipale terreine waarvan die metro nie deel van is nie.
“Indien lede van die publiek of enige besighede egter op enige munisipale terrein so ’n funksie teen betaling wil verrig, moet hulle die behoorlike prosedures in terme van aansoeke en permitte volg,” benadruk Bokaba.
Volgens hom geld dieselfde beginsel vir moontlik beweerde ooreenkomste tussen familielede wat privaat sekuriteitsmaatskappye glo betaal om grafte op te pas.
“Indien daar wel so iets bestaan, is dit ’n reëling tussen familie van geliefdes wat begrawe is en veiligheidsmaatskappye sonder dat ons daaroor ingelig is of daarby betrokke is,” sê Bokaba.
Oor advertensies en plakkers op grafte en grafstene, sê hy dat beamptes by begraafplase is goed ingelig oor die onwettigheid van advertensies in begraafplase.
“Geen advertensies word in begraafplase toegelaat nie en veral nie op grafstene nie. Indien dit gebeur, moet diegene wat dit aangebring het, dit weer dadelik afhaal,” waarsku Bokaba.
Hy maan dat indien enige voorval soos die beweerde voorvalle tussen grafskoonmakers die publiek ontstel, hulle dit aan die kantoor by die begraafplaas moet rapporteer.
“Alle nodige stappe sal teen sulke oortreders geneem word,” beklemtoon Bokaba.
’n Afskrif van munisipale regulasies rondom begraafplase is aangevra maar nie deur die metro voorsien nie.
Vrae is aan die metro gerig oor die onwettige besetting van begraafplase maar antwoorde is nog nie teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
