Jong talent skitter by eerstejaarskompetisie
Vooraanstaande teater glo nuwe sterre is vir die Suid-Afrikaanse verhoog tydens ’n eerstejaarskonsert by Akademia gebore.
Huis Magalies en Huis Strelitzia van die hoër onderwysinstelling Akademia in Centurion het as wenners uit die stryd van die koshuise se teaterkompetisie getree.
Die wenners van die twee wisseltrofees vir beste akteurs was onderskeidelik Mecka Wilhellem van Huis Daglelie en Christiaan Badenhorst van Huis Karoo.
AfriForum Teater skenk jaarliks hierdie akteurswisseltrofees aan Akademia tydens die eerstejaarskonsert.
“Dit was werklik ’n wonderlike geleentheid vir AfriForum Teater om hierdie jaar deel te kon wees van die beoordelaarspaneel tydens Akademia se eerstejaarskonserte. Ons sal verseker hierdie jong talent met belangstelling dophou!” sê Carien Bloem, hoof van kommunikasie en openbare skakeling by die teater.
Die private hoëronderwysinstelling spog vanjaar met ses koshuise.
Bloem sê vir die teater is dit wonderlik om te sien hoe tradisies soos die eerstejaarskonsert saam met die instelling groei.
Vanjaar het ’n manskoshuis en dameskoshuis saamgespan om ’n uitnemende produksie op die planke te sit.
Die beoordelaars het gekyk na verhooginkleding, toneelspel, musiek en dansvernuf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
