Local newsNews

Vervalle Villieria-eiendom met metrorekening van meer as halfmiljoen ‘n nagmerrie vir bure

Inwoners van 'n straat in Villieria probeer al vir jare om 'n eiendom in hul buurt se haglike omstandighede aan te spreek sodat hul eie eiendomme se waardes nie verminder nie.

Inwoners van die buurt Villieria is ontstoke oor die toestand wat ’n eiendom en huis in 24ste Laan toegelaat is om in te verval.

Een van die inwoners, wat anoniem wil bly omdat sy gedreig word met geweld, sê dat sy moedeloos is met hoe die metro sowel as die metropolisie die kwessie hanteer.

Sy moes al aan verskeie departemente rapporteer van die vervalle huis en die sosiale probleme wat daarmee gepaard gaan vir die inwoners en bure.

Die inwoner het weereens ’n e-pos hieroor aan die metro op 12 Februarie gestuur maar steeds geen reaksie gekry nie.

‘n Metrorekening vir die erf in 24ste Laan waarvan die huis afgebrand het en met plakkershutte onwettig beset word, het oor talle jare na meer as ‘n halfmiljoen rand opgeloop.

Volgens die inwoner is haar eiendom aan die agterkant van die probleemverwante eiendom geleë.

“Ek en raadslid Mari Joubert is al ’n hele ruk besig om die probleem met alle bronne tot ons beskikking te bestry, maar niks skyn te gebeur nie,” sê die inwoner moedeloos.

Sy wys daarop dat die geboue op die eiendom in September 2023 afgebrand het. Mans, vrouens en kinders woon in sewe plakkershutte op die erf.

Raadslid Mari Joubert

’n Vrou (46) woon ook in ’n tent op die eiendom en is die erfgenaam van die eiendom, alhoewel sy dit skynbaar nooit op haar naam uit ’n trust laat oorplaas het na haar ma se dood nie.

“Daar is slegs een kraan op die werf en geen toilette wat kan gebruik word nie. Die onwettige besetters maak hul eie vure op die werf en die onwelriekende rook waai oor na ons toe,” beweer die inwoner.

Daar is ook ’n rotteplaag op die erf waaroor inwoners by die metro gekla het.

Die inwoner wys daarop dat die metropolisie al drie keer die erf besoek het maar geen aksie geneem het nie.

Die polisiestasie in die Moot en veiligheidsmaatskappye is ook bekend met die omstandighede op die erf, maar lig volgens die inwoner nie ’n vinger nie.

“Ek is ’n huiseienaar en hulle maak dit onmoontlik om hier te bly,” sê die inwoner.

LEES: Geliefde sakeman se nalatenskap strek wyd

Sy glo dit is ’n munisipale regulasie kwessie.

Joubert sê op 3 Januarie het die metro die trust aan wie die huis behoort ’n laaste aanmaning gegee om die metrorekening van meer as R600 000 te betaal.

Hierdie bedrag sluit in die koste van erfbelasting en agterstallige water en elektrisiteitskoste van die tyd toe die huis nog gestaan het en dienste gelewer is.

Joubert sê aangesien geen ander uitweg skyn te werk nie, kan regsoptrede nou geskied en kan daar moontlik op die eiendom beslag gelê word deur die metro om die skuld te delg.

Sy glo dit kan ’n goeie uitkoms vir die bure van die eiendom wees.

“Ek het reeds verneem hoe ver die regsproses vorder asook gevra dat welsynwekers van die metro na veral die kinders se omstandighede kom omsien wat haglik is,” bevestig Joubert.

Die saak word bemoeilik, glo sy, omdat munisipale regulasies nie toegepas kan word nie omdat die geregistreerde eienaar reeds oorlede is. Die persoon wat tans daar woon en na bewering die erfgenaam is wil geen verantwoordelikheid neem vir koste of die oordrag van die eiendom nie.

“Maar dit is nie reg dat die bure die situasie moet hanteer en sien hoe hulle eiendomswaardes verlaag omdat die metro geen aksie neem nie,” glo Joubert.

Vrae is aan die metro gerig maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button