Geliefde sakeman se nalatenskap strek wyd
Die Van Lingen-gesin van Pretoria-oos meen die beweerde moord, ontvoering en roof op hul geliefde pa en sakeman, Riaan van Lingen, was onverdiend.
Die gesin van vermoorde pensionaris en gewese sakeman van Moreletapark, Riaan van Lingen (64), sê sy familie was die spil waarom sy lewe gedraai het.
Sy skoonseun Craig Lloyd, woordvoerder vir die familie, sê die gesin gaan deur “’n geweldige moeilike tyd”.
“Om die waarheid te sê, die gesin kry swaar en veral om als te prosesseer. Ons sukkel veral om als rondom sy afsterwe te hanteer,” sê Lloyd.
Wyle Van Lingen is laas Dinsdag met veelvuldige skietwonde deur die polisie in die Vaalrand-omgewing gevind.
Twee mans is intussen in hegtenis geneem nadat die polisie leidrade opgevolg het.
Die polisie was op hulle spoor kort nadat Van Lingen se lyk op Klipfontein gevind is.
Hulle het reeds op klagtes van moord, ontvoering en roof met verswarende omstandighede in die landdroshof in Vereeniging verskyn.

Die aangeklaagdes, Skhumbuza Dlamini (32) en Sizwe Nkosi (30) verskyn weer op 20 Februarie.
Vir die Van Lingen-familie is dit reeds meer as ’n gespanne en angstige week sedert Van Lingen op die aand van 12 Februarie as vermis aangemeld is.
Lloyd sê hy was ’n vriend en besigheidsman met integriteit wat diep spore in ander se harte gelos het.
“’n Rolmodel vir vele en ’n man van God is uit ons lewens weggeruk,” meld ’n hartseer en aangedane Lloyd.

Hy verduidelik dat Van Lingen onlangs ’n pensioenaris geword het en besig was om sy sakebelange se los drade te knoop.
Hy beskryf Van Lingen ook as ’n sterk man met ’n sagte hart en positiewe uitkyk op die lewe.
“Wat met hom gebeur het, het hy nie verdien nie. Ons harte is in stukke en ons gaan hom vir altyd mis,” sê Lloyd.
Sy dogter, Liezl, het op haar sosiale media eer aan haar pa gegee en gesê hy was die liefste en beste mens.
Haar inskrywing lees: “Ons is lief vir jou vir altyd en gaan jou mis”.

Van Lingen laat sy vrou, twee dogters, drie kleinseuns en drie broers agter.
Lloyd wou nie detail rondom die verdwyning van Van Lingen verskaf nie aangesien ’n polisie-ondersoek tans aan die gang is.
Volgens woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana is die saak verlede week tot die 20 Februarie uitgestel.
Volgens Gautengse polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, is daar ’n vuurwapen by een van die beskuldigdes se huis gevind wat moontlik met die moord verbind kan word. Polisie-weerkaatserbaadjies en polisiepette wat waarskynlik in die beweerde aanval en ontvoering gebruik is, is ook gevind.
Van Lingen se verdwyning is by die Garsfontein- en Olifantsfontein-polisiestasies aangemeld nadat talle pogings om hom op sy foon op te spoor na 13:00 laas Maandag onsuksesvol was.
Hy sou op die dag ’n sakevergadering in Olifantsfontein bywoon en teen 17:00 tuis wees.
Groot bedrae geld is na sy verdwyning uit sy bankrekeninge oorgeplaas. Teen die aand is sy kredietkaart by ’n kroeg in Tembisa vir aankope van R2 000 gebruik wat die polisie op die spoor van die aangeklaagdes geplaas het.
Lloyd versoek dat die gesin se privaatheid deur die publiek respekteer word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
