Man vertel van sy ontvoering beproewing
'n Vlootverkoopsbestuurder van Pretoria-Wes se beproewing om gekaap en ontvoer te word is na bewering deur sy ervaring by die polisiekantoor vererger deur die polisie se weiering om 'n verklaring af te neem.

Ontvoerings vier hoogty in Gauteng waar verreweg die meeste ontvoerings onder alle provinsies aangemeld is.
Daar was altesaam 2 367 ontvoerings in die laaste kwartaal van 2023.
Hierop dui die misdaadstatistiek wat onlangs deur Minister van Polisie, Bheki Cele, vrygestel is.
Hierdie syfer sluit nie net gevalle in waar ’n losprys vir die ontvoering geëis word nie, maar ook gevalle waar slagoffers ontvoer is om hulle te dwing om geld na ’n rekening oor te dra.
Statistiek dui daarop dat hierdie misdaad by nege uit die toptien polisiestasies vir misdade in Gauteng aangemeld is.
Hierdie reg om so ’n misdaad aan te meld is egter ’n vlootverkoopsbestuurder van Pretoria-Wes deur die polisie ontneem.
Willie Viljoen (52) is na die voertuigkaping van sy luikrugmotor op 16 Januarie by sy huis se voorhek in Kwaggasrand ontvoer en is vir vier ure lank in verskeie voertuie rondgery.
Hy is tussen huise in Soshanguve afgelaai en moes te voet na die Hebron-polisie toe stap.
Dit is juis by hierdie polisiestasie waar daar vir hom nog ’n nagmerrie voorgelê het.
“Die polisiemanne by die stasie het geweier om my verklaring af te neem,” sê ’n ontstelde Viljoen.
Sy beproewing het na 22:00 begin. Hy het net by sy huis se hek aangekom, toe iemand aan sy voertuig se venster klop.
Hy is deur ’n verdagte met ’n rewolwer gedwing om sy deur oop te maak en is uit sy motor gepluk. Hy is oorgeplaas na die ontvoerders se voertuig. Sy kop is afgedruk sodat hy nie kon sien waarheen hy vervoer word nie.
“Hulle het voortdurend omgedraai en weer gestop sodat ek nie herwaarts of derwaarts geweet het nie,” vertel Viljoen.
’n Kaper in Viljoen se luikrugmotor het hulle vergesel.
Die kapers het Viljoen gevra om sy selfoon se kode in te tik om by sy bankaanpassing uit te kom.
Hy was te ontsteld om die sleutelkode na sy selfoon te onthou.
Hy is mettertyd in die kattebak van sy eie motor geplaas met sy hande styf agter sy rug vasgemaak met plastiese kabelbande.
’Ek het nou nog nie gevoel in my hande nie,” vertel Viljoen.

Deurgaans is daar drie keer dreigemente gemaak dat hulle hom gaan skiet.
Toe sy voertuig ook uiteindelik met hom in die kattebak in die veld gestop het, het hy gevrees die kapers gaan die motor aan die brand steek.
“Ek het gehoor hoe een kaper die petroldoppie oopmaak, terwyl die ander kapers vir die opsporingstelsel gesoek het,” verduidelik hy.
Hy het probeer ontsnap deur die agterste sitplek se knoppie van die luikrugmotor uit te trek en die sitplek plat te druk.
Daarna het hy probeer om die agterste deur met sy voet te probeer oopmaak, maar die kinderslot was op en die deur wou nie oop nie.
“Ek het daarna stil vir God gevra dat als net gou moet gebeur,” sê hy.
Hy vermoed die kapers is dalk versteur want die motor is nie aan die brand gesteek nie en hy is na ’n ander voertuig geneem.
In hierdie stadium het hy sy selfoonkode onthou. Die kapers is na ’n vulstasie sodat geld by ’n OTM via sy banktoepassing getrek kon word.
Hiermee het die kapers brandstof ingegooi. ’n Veiligheidsmaatskappy se voertuig het in hierdie tyd verby die vulstasie gery.
Viljoen is hiervandaan tussen huise naby Soshanguve afgelaai en hy het 2km na die Hebron-polisiestasie gestap.
“Niemand in die polisiestasie wou my egter help en eers ’n verklaring afneem nie. Dit was heeltemal ongelooflik,” sê hy.
Hy het ook nie meer sy selfoon gehad nie, maar kon dit regkry om sy vrou te bel. Sy seun het hom kom haal. Hulle is reguit na die Eugene Marais-hospitaal sodat hy vir skok en sy beseerde hande behandel kon word.
Wat die kapers nie geweet het nie, is dat Viljoen se voertuig drie opsporingstelsels ingehad het.
Die voertuig is op 17 Januarie by ’n winkelsentrum in Mabopane deur die opsporingsmaatskappy opgespoor en terugbesorg.
Steeds het Viljoen ’n stryd gehad om ’n verklaring af te lê.
Die dag daarna het hy na die Pretoria-Wes polisiestasie gegaan waar hy weer eens, volgens hom, moes “smeek” om ’n saaknommer te kry.
“Nie eers die speurders wou my help nie. Uiteindelik het ’n konstabel my gehelp om die verklaring uit te skryf en ’n saaknommer te kry,” vertel Viljoen.
Vandeesweek, sowat ’n maand later, is hy steeds teleurgesteld in die polisie se optrede.
“Hulle het skaars belanggestel in die getuienis wat ek aangebied het, soos video’s wat ons van die vulstasie bekom het.”
Geen arrestasies is nog gemaak nie en die polisie het nog nie weer met Viljoen in aanraking gekom nie.
Kommentaar oor die voorvalle is deur Rekord aan die provinsiale hoofkantoor van die polisie gerig, maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.