Local newsNews

Boelies kom hul Moses teë as Matteus intree

'n Teenboelieveldtog bemagtig leerders al sewe jaar om op te staan teen afknouers.

“’n Leerder wat veilig en geborge voel, is ’n leerder wat op alle terreine floreer. Juis om hierdie rede speel boeliebewusmaking ’n kardinale rol by Laerskool Garsfontein.”

So sê Linda Wonigkeit, adjunkhoof by Laerskool Garsfontein.

Sy het kommentaar gelewer op die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan se besoeke op 5, 6 en 12 Februarie by Laerskool Garsfontein.

Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Tania Scheepers van AfriForum, Emily Manly (gr. 7-leerling van Laerskool Garsfontein) en die teenboelievegter, Matteus.

Matteus, AfriForum se teenboelieveldtog-maskot, het ook gesig gewys.

Sy naam heet Matteus, want in Matteus 7:12 staan daar: “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.”

Wonigkeit benadruk die skool poog daagliks om nie net die beste onderrig aan leerders te bied nie, maar werklik om leerders holisties te ontwikkel deur ook na hul emosionele sowel as sosiale welstand om te sien.

“By ons skool weet elke leerder om te boelie is nie cool nie! Juis daarom kweek ons ’n tradisie wat Garsies uitleef: Garsies gee om vir ander, is dankbaar vir geleenthede, is braaf, werk hard en gee nooit op nie! Ons glo dat ons hierdeur ’n omgewing van respek en samewerking bevorder wat ’n positiewe impak op elke Garsie het. By Garsfontein vlieg ons elke dag net hoër,” sê sy.

Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys, glo dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom.

Sy verduidelik boeliery asook afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifi­ek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller (die boelie).

Sy verwys na die navorser, Dan Olweus, wat drie kenmerke van boeliery identifiseer:
– aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak,
– ’n herhaling van hierdie aksies oor ’n tydperk en
-’n wanbalans in mag wat slagoffers hulpeloos laat sodat hulle nie hulself doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.

“AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die groter veiligheid van die gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê sy.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button