Local newsNews

Taalraad ondersteun moedertaalonderrig

‘n Onlangse internasionale studie het onthul dat agt uit 10 Suid-Afrikaanse skoolkinders probleme ondervind met lees. Die Afrikaanse Taalraad glo moedertaalonderrig is 'n oplossing vir lees- en leerprobleme.

Internasionale Moedertaaldag is hierdie week op 21 Februarie regoor die wêreld gevier om kulturele diversiteit en veeltaligheid te bevorder.

“Die Afrikaanse Taalraad vier Internasionale Moedertaaldag met oorgawe en wil veral ouers bewus maak van die belangrikheid van moedertaalonderrig,” sê die noordelike projekbestuurder van die raad in hul Pretoria-kantoor, Merlyn van der Rheede.

Sy het daarop gewys dat ’n onlangse internasionale studie onthul het dat agt uit 10 Suid-Afrikaanse skoolkinders probleme ondervind met lees.

Die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) het in 2021 die leesvermoëns van 400 000 studente van 57 lande wêreldwyd vasgestel.

“Skokkend genoeg, het Suid-Afrika laaste in die studie geëindig, wat beklemtoon dat daar groot probleme met die land se onderwysstelsel is. Ook die Reading Panel verslag 2030 dui aan dat die basiese geletterdheid onder kinders in Suid-Afrika afgeneem het.

“Die oorgrote meerderheid van graad 1-leerders vorder na die volgende graad sonder om die alfabet te ken.” Dit terwyl 82% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie, volgens Van der Rheede.

Sy wys daarop dat een van die hoofoorsake van bogenoemde skokkende syfers is dat baie van die kinders nie in hul moedertaal onderrig word nie.

“Met ’n groot oortuiging in die waarde van moedertaalonderrig, wil ons die aandag van ouers vestig op die waarde daarvan. Die moedertaal van ’n individu is nie net ’n medium van kommunikasie nie, dit gee ook aan die individu selfvertroue,” benadruk Van Der Rheede.

 

Afrikaanse Taalraad noordelike projekbestuurder Merlyn van der Rheede

Sy glo dit is deur middel van ’n moedertaal dat mense hul diepste gevoelens, gedagtes en emosies kan uitdruk. Daarom is dit volgens haar noodsaaklik dat ’n moedertaal ’n prominente plek in die gesin behou.

“Wanneer leerders in hul moedertaal onderrig ontvang, skep dit ’n omgewing wat bevorderlik is vir leer en begrip. Dit versterk nie net hul akademiese prestasies nie, maar verhoog ook hul selfbeeld en trots,” meen Van der Rheede.

Volgens haar dui studies aan dat leerders wat in hul moedertaal onderrig ontvang, ’n beter begrip van kognitiewe en abstrakte terme het en beter presteer in eksamens.

“Moedertaalonderrig bemagtig gemeenskappe en bied groter opsies vir werksgeleenthede. Wanneer die moedertaal goed vasgelê en bemeester is, word die aanleer van ’n ander taal soveel makliker volgens die kenners,” sê Van der Rheede.

“Weet ouers dat ’n kind wat in die moedertaal onderrig ontvang, ’n voorsprong het bo ’n Engels-eentalige persoon in die opsig dat werksgeleenthede beter is, omdat hy of sy meer as een taal kan praat?”

Sy meen dit is dus noodsaaklik dat onderwysstelsels moedertaalonderrig omhels en ondersteun, en sorg dat alle leerders die geleentheid kry om in hul moedertaal te leer en te groei.

Van der Rheede meen dit is ’n belegging “in die toekoms van ons kinders en ons samelewing as geheel”.

LEES: Thunderstorm wreaks havoc in Tshwane

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button