Local newsNews

Toerismebaas slaan nuwe ‘wilde’ rigting in

Een van Pretoria se toerismebase verduidelik hoekom die stad vorentoe op 'n nuwe manier bemark sal word en wat die nuwe fokus behels.

Die sprankelende ondervoorsitter van die Tshwane Toerisme Vereniging ken Pretoria se beste toeristebestemmings op die punte van haar goedversorgde vingers.

Susan Marais, eienaar van ’n gastehuis in Colbyn en stigter van die aanlyn toeristegids, The Bucket List, is ’n uitgaande mens wat glo Pretorianers skuil te dikwels agter hoë mure.

Nie maklik iets wat hierdie fikse en vrolike entrepreneur doen nie. Soek jy Susan, kan jy maar weet sy en haar drie kinders – Linneke (16), Aanelie (13) en Gerhard (10) – en eggenoot, Gerhard, is iewers in die buitelug in Pretoria.

“As dit by toerisme kom, bly Suid-Afrikaners nou maar eenmaal lief om buite toe te gaan,” glo sy.

Dit is juis toe haar mede-raadslid en voorsitter van die toerismevereniging, Nico Rowan, opgemerk het dis tyd dat hulle toerisme in Pretoria weer “sexy” maak, dat Marais en die span met die nuwe brandmerkstempelleuse vir Pretoria opgekom het: “The wildest capital on earth”.

Sy kan dit ook motiveer en trek voorbeelde soos Dinokeng-reservaat nader.

“Watter ander stad in die wêreld het die Groot Vyf binne ’n paar kilometer binne sy stadsgrense?” vra die diereliefhebber.

Dinokeng-reservaat.

Dit stop egter nie hier vir die geesdriftige bemarker van die hoofstad nie.

Sy noem haar eie gunstelinge vir buitelugkuiertjies vir enigeen met ’n natuur of “groen” streep een vir een op: Wolwespruit, Rosemary Hill, Hazeldene Valley Staproete en Rietvleidam en -reservaat.

“En moenie van die Pretoria Botaniese Tuin, Moreleta-reservaat en die dieretuin vergeet nie!”

Dis nog lank nie die enigste versteekte toerismejuwele vir Marais nie.

“Pretoria is die volle pakkie verrassings as mens by die ‘wildest capital on earth’-tema wil bly. Ons het ook ’n op-en-wakker naglewe vir die naguile. Dink maar aan al die restaurante by Menlyn Maine en Loftuspark,” bewys sy haar punt.

“En dan is daar ook buitelugrestarante soos die Green Olive. Dis iets waarin Pretoria spesialiseer oor ons goeie weer. Luukse groot buitelugrestaurante onder bome met lewendige musiek,” spog sy namens elke liefhebber van goeie buitelugkookkuns.

As sy haar sin kry, dan begin sy ook soos wat die Kaap ’n wynroete het, ’n melkskommelroete in Pretoria. “Ons het sekerlik van die lekkerste melkskommels in die wêreld!”

Wolwespruit.

Maar toerisme gaan nie vir Marais en haar komitee net oor ’n ritsgids van toerismebestemmings nie. Sy glo die lede van die toerismevereniging moet ook waarde vir hul ledegeld kry.

’n Nuwe toerismegids juis met die tema “wildest capital on earth” is deur die Toerismeraad geloods om voete na bestemmings, gastehuise en herberge te lok.

Die raad het ook die toekoms van toerisme en hul rol om toerismeprodukte te bevorder, beklink deur ’n memorandum van verstandhouding met die burgemeester, Cilliers Brink, en die metro te onderteken.

“Ons wil die Pretorianers wat dink hier is niks om te doen nie, wys ons bedryf is vuur en vlam om hulle verkeerd te bewys. Ons is hier om hulle te wys juis waar lê die bekoring aan ons stad,” sê Marais.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button