Local newsNews

‘n Tree in die regte rigting vir Moot se wandellaan

Die beplande wandellaan sal reg rondom die Moot Slothuispark gebou word en sal binne twee maande voltooi wees.

Lede van die gemeenskap, plaaslike besighede en die hardwerkende span van Die Moot Projek het Saterdag bymekaar gekom om aan die Moot Slothuispark-wandellaan in Moregloed te werk.

Die beplande geplaveide staproete om die park word geskep in die hoop om mense van oorkant die Moot te lok.

Dit is geleë oorkant die Oppiplaas-restaurant, wat een van die bydraers van die wandelpad is.

Mede-stigter van die projek, Johan Oberholster, sê die idee was om ’n ruimte te skep wat die gemeenskap sal aanmoedig om in hul omgewing bymekaar te kom en te geniet waarop hulle trots kan wees.

“Daar is ’n gewilde wandellaan in Rietondale, maar Rietondale maak nie voorsiening vir die groter-Moot area anderkant die Pierneefrant, waar die oorgrote meerderheid van die Moot geleë is nie,” sê Oberholster.

Oberholster sê die wandellaan is geïnspireer deur die promenade in Seepunt in Kaapstad en die wandellaan in Stellenbosch langs die Eersterivier.

“Die park is perfek hiervoor, dit is langs die kanaal, en dit is ’n baie mooi, redelik plat oppervlak.”

Die wandellaan sal ongeveer 600m rondom die park geleë wees en sal na verwagting binne ongeveer twee maande voltooi wees.

Die span het intussen ’n skropsessie by die park gereël om die area voor te berei.

Vrywilligers het gehelp om die grasperk en oorgroeide boomtakke te sny, terwyl ander gehelp het om rommel en ander gemors op te tel.

Die volledige wandellaan word met ’n Bobcat-stootskraper geskraap, terwyl die eerste 120m van die wandellaan geplavei is deur Value Paving, wat sy tyd en materiaal geskenk het om die wandellaan te laat gebeur.

’n Groep mans het ’n berg plaveiselstene vanaf ’n sentrale punt na strategiese plekke al langs die voorgenome roete geplaas.

Die Suid-Afrikaanse vlag wat in onlangse hewige donderstorms beskadig is, is vervang en tien inheemse bome is langs die pad geplant.

Boonop is vyf nuwe groen Tshwane-swaaivullisdromme by die ingange en langs die looppad aangebring om rommelstrooiing in die park te verminder.

Die anker- en ligpale het ’n vars laag verf gekry met die hulp van DB Landscaping en Afrit.

Aan die einde van die dag het die die metro sowat twee vragmotorvragte se vullis verwyder wat die gemeenskap ingesamel het.

“Die skropsessie was ’n dawerende sukses en daar is ’n merkbare verskil in die voorkoms van die area,” sê Oberholster.

Megan van der Westbourne, Jeunaveve van Dyk en Nicole van der Westbourne

LEES: Mams man with mental illness reported missing

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button