Local newsNews

NGV-baas sê SA is een stap nader aan die NGV

Die Nasionale Gesondheidsversekering se uitvoerende bestuurder het aan die Nasionale Persklub die nuwe wetgewing daarrondom as ’n oplossing vir die land se gesondheidsorgkrisis voorgehou.

Die adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Gesondheid en die hoof van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), dr Nicholas Crisp, sê die NGV is ’n verpligte staatsbeheerde mediese fonds.

Hy het op 29 Februarie in Pretoria aan lede van die Nasionale Persklub verduidelik dat daar van alle Suid-Afrikaners wat die vermoë het om te betaal, verwag sal word om tot die fonds by wyse van belasting by te dra, of hulle mediesefondslede is of nie.

“Dit is ’n fonds wat op sy beurt dan vir gesondheidsorg vir almal in Suid-Afrika betaal,” sê Crisp.

Hy het verwys na president Cyril Ramaphosa se verklaring op 15 Februarie in Kaapstad dat hy beplan om binnekort die NGV-wetsontwerp te onderteken.

Ramaphosa het geen tydraamwerk gegee vir die ondertekening van die wetsontwerp wat nou deur albei huise van die parlement aanvaar is nie.

Hierdie wetsontwerp was egter van die begin af omstrede.

Daar is reeds verskeie hofsake teen die wetsontwerp geloods en verskeie verskillende menings is oor ’n wye spektrum daarteen uitgespreek.

Crisp is verheug dat die regering sy mees onlangse NGV-hofsaak teen Solidariteit op 28 Februarie gewen het.

“Hulle wou ons keer om voort te gaan om 44 mense aan te stel om strategieë rondom die NGV te maak. Die hof het gesê hulle kan nie die reg van ons afneem om vir die implementering te beplan nie. Nou kan ons voortgaan. Die uitspraak bring ons een stap nader,” verduidelik Crisp.

Crisp meen met inwerkingstelling van die wetsontwerp sal toegang tot gesondheidsorg verbeter word vir diegene wat voorheen struikelblokke in die gesig gestaar het as gevolg van beperkings soos geografiese ligging.

“Met implementering sal iemand byvoorbeeld in ’n werk soos ’n sekuriteitswag of tuinier in my redelik welgestelde woonbuurt, toegang hê tot dieselfde hospitaal waarheen ek kan gaan en sou hy nie na ’n staatsgerief hoef te reis ver van sy werk af nie,” sê Crisp.

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het tydens sy Provinsiale Rede onlangs aangekondig dat Gautengse provinsiale owerhede juis met die oog hierop, ’n ooreenkoms vir die aankoop van 18 privaat hospitale onderteken het.

 

Crisp beklemtoon dat die NGV daarop gemik is om staatsgeld saam te voeg om bekostigbare gesondheidsorgdienste te verskaf.

“Hierdie dienste soos tans bekend, kan egter beïnvloed word en daar sal veranderinge wees aan hoe dienste gelewer, georganiseer en bestuur word,” volgens Crisp. “Hierdie veranderings is nodig omdat ons nie ons hulpbronne tans goed gebruik nie.”

Hy het verwys na die wyse waarop algemene praktisyns dikwels deur pasiënte op mediese fondse omseil word om na spesialiste te gaan.

“Soos soms word ’n kind byvoorbeeld na ’n dermatoloog geneem vir bloot ’n veluitslag soos skurfsiekte verwys. Dit kon maklik deur ’n huisdokter reggedokter word, selfs by ’n kliniek. Spesialiste maak te veel geld uit mense wat nie regtig siek is nie,” glo Crisp.

Vir hom is die hoofdoel van die NGV dat gelykheid in toegang tot gesondheidsorg bereik moet word.

“Sowel as sosiale solidariteit,” beklemtoon Crisp. “Dit sal vir baie Suid-Afrikaners dalk pynlik wees om voorregte te deel, maar dit sal goed wees vir die land.”

Hy het geen tydlyn gegee nie, maar die Departement van Gesondheid het aangedui dat die nuwe wetsontwerp dalk eers teen 2026 ten volle geïmplementeer sal wees.

Die NGV is volgens Crisp ontwerp met die doel om veral ook voorkomende gesondheidsorgdienste te dek.

“Die fokus sal sterk wees op die voorkoming van siektes en die bevordering van gesondheid,” verduidelik Crisp.

Hy sê dat die NGV gefinansier sal word deur ’n verpligte voorafbetalingstelsel en ander vorme van belasting wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingevorder word en deur die Parlement aan die NGV-fonds toegewys sal word.

Sy skatting is dat die NGV die land jaarliks R265-miljard sal kos.

Die mediese fonds reus Discovery skat egter die NGV sal R859-miljard kos vir voorgeskrewe minimum voordele teenoor die 2023 openbare gesondheidsorgbegroting van R233-miljard.

“Vir Suid-Afrikaners sonder ’n mediese fonds of in laer inkomstegroepe, sal die NGV voordelig wees. Dit sal meer billike toegang tot gesondheidsorgdienste bied en vir hierdie persone sal toelaat om privaat gesondheidsorgpraktisyns te raadpleeg en van private gesondheidsorgfasiliteite en praktyke gebruik te maak met die NGV wat die rekening betaal,” verduidelik Crisp.

Die private mediese dienste-sektor sal nie genasionaliseer word nie en as sodanig sal privaat praktyke, apteke en hospitale steeds beskikbaar wees.

Ntombizodwa Merriam Mahlangu

Suid-Afrikaners sal steeds by hul eie voorkeurgesondheidsorgverskaffer kan registreer.

Crisp, wat uitgebreide ondervinding met die ontwerp van nasionale gesondheidskemas het, beklemtoon streng maatreëls sal getref word met die ontwerp van die NGV-gebruikstelsel om korrupsie te voorkom.

“Ons sal deurlopend wakker wees vir maniere waarop individue sowel as verskaffers in die verlede van fondse gesteel het,” verseker Crisp.

Ander anti-korrupsie maatreëls sal wees om nie die funksies van bestuur in een persoon te konsentreer nie. Een staatsgesondheidswerknemer sal dus nie die dienste kan bekom van ’n diensverskaffer via tender sowel as dieselfde diensverskaffer betaal nie.

Hy sê navorsing toon bedrog in die mediese dienstebedryf beloop tans R30-miljard per jaar.

Volgens Crisp is daar tans 71 mediese skemas met 311 opsies en 853 trustees wat vir die bestuur van hierdie skemas betaal word en met hoofbeamptesalarisse wat maklik tot R5-miljoen per jaar beloop.

Hy het erken dat die NGV nadele het en vorentoe sal hê.

“Ons moet dit bestuur en toesien dat veranderingsbestuurspraktyke in plek is sodat die transformasie suksesvol kan wees,” sê Crisp.

Hoe die NGV gaan werk volgens dr. Nicholas Crisp:

Wie sal deur die NGV gedek word:

Die fonds sal betaal vir mediese dienste wat gegee word aan Suid-Afrikaanse burgers, permanente inwoners, vlugtelinge, gevangenes, sekere kategorieë van buitelandse burgers, alle kinders ongeag nasionaliteit, asook asielsoekers en onwettige buitelanders vir aanmeldbare toestande en mediese nooddienste.

Hoeveel sal dit ’n lid van die publiek onder die NGV kos vir mediese dienste?

Die NGV-fonds sal die kliniek, algemene praktisyn of hospitaal betaal solank hulle ’n kontrak met die NGV-fonds het. Die lid van die publiek wat die diens gebruik, sal niks betaal nie.

Hoe sal die publiek vir die NGV registreer:

Volgens Crisp sal daar een digitale registrasiestelsel wees. Hy het gesê almal wat tydens die Covid-19-inentingsprogram geregistreer is, is reeds vir die NGV geregistreer. Diegene wat nog nie geregistreer is nie, sal geregistreer word wanneer hulle vir die eerste keer na ’n kliniek, algemene praktisyn of hospitaal gaan wat ’n kontrak met die NGV het. ’n Lid van die publiek hoef net een keer te registreer aangesien alle gesondheidsverskaffers wat by die NGV geregistreer is, toegang tot alle rekords het. Geen registrasiefooi hoef betaal te word nie.

Vir registrasie sal ’n ID-boek, paspoort of ander identiteitsdokument benodig word en vingerafdrukke geneem word en op die stelsel van die NGV geplaas word. Wanneer mediese verskaffers soos dokters, klinieke en hospitale besoek word, moet ’n lid van die publiek ’n bewys van identiteit hê. Amptelik aangewese registrasiefasiliteite kan ook aangekondig word. Die registrasiefasiliteite of -sentrums sal aangekondig word wanneer die registrasieproses begin. Die fasiliteite sal NGV-kaarte uitreik.

Watter dokters kan lede van die publiek gebruik?

Individue sal toegang hê tot NGV-gekontrakteerde algemene praktisyns, klinieke of hospitale naaste aan hulle, hetsy in die openbare of private sektor.

Hoe omvattend is die dienste wat die NGV sal dek?

Die NGV-voordele is nie beperk tot slegs sekere voordele soos die meeste huidige mediese skema-voordele nie en sal nog aangekondig word. Daar sal ook geen bybetalings vir koste van NGV-betaalde dienste wees nie.

Wat sal met ‘n lid van die publiek se bydraes tot hul eie mediese fonds gebeur?

Sodra die wet geïmplementeer is, sal mediese fondsskemas nie enige gesondheidsdienste kan aanbied wat reeds deur die NGV aangebied word nie.

Mediese fondse sal dus ’n aansienlik verminderde rol hê. Dit beteken sodra die NGV-fonds ’n voordeel dek, kan die mediese skemas nie dieselfde voordele dek nie. Hul ledegeld moet dus verminder word. Mediese skemas sal dus net vir jou die ekstra dienste bied wat nie deur die NGV gedek word nie. Mediesefondsskemas sal dus ’n vrywillige reëling bly vir diegene wat kies om daartoe by te dra. Hierdie skemas sal egter slegs ’n individu dek vir enige bykomende voordele waarvoor die NGV-fonds nie betaal nie. Premies kan dus dalk aansienlik laer wees.

Discovery, wat een van die land se grootste mediesefondsskemas is, sê, om mense te beperk om die mediese skemadekking te koop wat hulle soek, sal die gesondheidsorg wat hulle verwag en eis, ernstig beperk. Volgens Discovery hou dit die risiko in om die land van krities benodigde vaardighede te ontneem, en kan dus ’n negatiewe impak op plaaslike en internasionale beleggersentiment en sakevertroue hê. Dit waarsku dat daar aansienlike risiko’s is en skade doen om die rol van mediese skemas te beperk.

Lees: Metro, Afriforum sign memo to keep residents safe

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button