Local newsNews

Spoorhonde nou kragtige wapens in stryd teen kabeldiewe

Pretoria Noord smee vernuftige planne om toenemende kabeldiefstal te fnuik, en span nou ook spoorhonde doeltreffend in die stryd in.

In Pretoria Noord word twee spoorsnyhonde nou suksesvol gebruik om kabeldiewe te fnuik.

Die Duitse herdershond, Arcon en Malinois-spoorhond, Daisy het hulself alreeds bewys as kragtige wapens in die voortslepende stryd teen kabeldiewe deur hul spoor te volg sodat arrestasies gemaak kan word.

Rina Marx,VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid: Tshwane-metroraad, sê die aanslag deur kabeldiewe word al hoe feller in die area en veral by Die Hoewes.

Marx sê dis duidelik die kabeldiewe het ’n goeie afsetgebied waar hulle goeie pryse kan kry vir die gesteelde kabels.

Lees: Borgtog van R150 000 vir Steinhoff-hoë

Sy wys daarop dat die kabels duidelik ook vinnig van die hand gesit word.

“Die inwoners van Pretoria Noord is kwaad. ’n Vermenigvuldigingsfaktor tree tans in. Beurtkrag is lankal nie meer die enigste rede vir kragonderbrekings nie. Die dubbele en soms driedubbele aanslag van beurtkrag, kabeldiefstal en vandalisme laat areas vir dae sonder krag,” vertel sy.

Beurtkrag is egter ’n oorsaaklike faktor wat die kabeldiewe se hande sterk.

“Wanneer dit beurtkrag is, is die kabeldiewe op hul besigste. In die donker kan hulle die elektrisiteitlose kabels makliker steel,” verduidelik sy.

Die aanslag het ook ’n nuwe gesig volgens haar.

“Kabeldiewe het nou ook hul fokus geskuif het om meer as vantevore die steel van transformators en kragopwekkers in te sluit. Meer inwoners as ooit vantevore in Pretoria Noord en omgewing is meer dikwels sonder krag as gevolg van hierdie toenemende aanslag,” wys Marx uit.

Sy was deel van ’n onlangse operasie deur die VF Plus in die Tshwane-metro tesame met gemeenskapslede om boere en ondernemings in die noorde van Pretoria te ondersteun om hul eiendom teen kabeldiefstal te beskerm.

 

Pretoria Noord se gemeenskap maak vernuftige planne teen toenemende kabel- en kragpaaldiefstal.

Marx wys daarop dat hierdie groepe veral nou ook onder die kabeldiewe se werksmetodes begin ly.

“Hierdie is ’n baie groot area om in terme van kabelpatrollies op te pas. Ons kan egter op veiligheidsbewuste lede van die gemeenskap se samewerking staat maak al is hul lewens ook dikwels in gevaar tydens patrollies. Kabellyne loop ook deur nedersettings asook die plotgebiede waar veiligheid en beskerming teen moontlike aanvalle nie altyd in plek is nie. Die patrollies word juis snags gedoen wanneer die diewe op hul besigste is en so verhoog die risiko vir patrollielede,” verduidelik Marx.

Dit is juis dan glo sy wat Arcon en Daisy as wapens op hul beste ingespan kan word om inhegtenisnemings moontlik te maak.

Die twee saam met hul hanteerders het reeds ’n reputasie as patrollies se “geheime wapens” opgebou.

“Wanneer daar byvoorbeeld ontdek word die kragpale is geklim deur die kabeldiewe, word die honde soontoe geneem en kan hul gou die spore in die lang gras volg en die diewe kan gearresteer word,” sê Marx.

Daisy, ‘n Malinois-spoorsnyhond, word nou suksesvol teen kabeldiewe in Pretoria Noord ingespan om te help om hul spoor te volg sodat ‘n inhegtenisneming gemaak kan word.

Die twee staatmakers het selfs al spore wat doodgeloop het en koue spore suksesvol gevolg.

Sy wys daarop die skaal van kabeldiefstal het ook ernstig toegeneem deurdat die diewe nou op bo- sowel as ondergrondse kabels toespits.

“Die kabeldiewe grawe massiewe slote om by die werklike duur en dik kabels te kan uitkom om dit te kan verkwansel,” verduidelik sy.

Sulke skade aan kabellyne was onlangs so groot dat voorlaaiers en kruiptrekkers gebruik moes word om die slote bo-oor die kabels na diefstalle toe te stoot en so nog diefstal te voorkom.

Marx meen die gemeenskap verloor nie moed nie en het nog ander wapens tot hul beskikking.

“Tans kry die gemeenskap skenkings van sement en teer. Hierdie sement word gebruik om pale en kabels vas te anker en toe te gooi dat hulle nie gesteel kan word nie. Pale word met dromme omring en met teer beskerm,” sê sy.

Volgens haar word boere en omliggende inwoners ernstig deur die gebrek aan elektrisiteit deur kabeldiefstal, sowel as die diefstal van ander komponente soos transformators, geraak.

“Talle boere, veral groenteboere, in die omgewing maak van boorgatwater gebruik en kon nie hul pompe gebruik om water te voorsien nie,” sê Marx.

’n Bekende kwekery in die gebied is een van die ondernemings wat deurgeloop het toe twee van hul transformators gesteel is.

Marx is trots op die gemeenskapslede wat onlangs hande geneem het om bykomend tot hierdie aksies teen kabeldiewe ook verdere reëlings getref het om wetstoepassing te vergemaklik.

Die gras is gesny om sigbaarheid te verseker en inwoners het selfs ’n patrolliediens op die been gebring om hul infrastruktuur te beskerm.

“Hierdie is ’n voorbeeld van samewerking en selfbeskikking wat lei tot die veiligheid van ’n gemeenskap,” glo Marx.

Lees: Buurtwag se slaankrag verhoog met stelsel om nommerplate te herken

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button