Local newsNews

Sewe nominasies vir Pretoria-blyspel

'n Musiekblyspel oor die Grensoorlog is vir sewe Naledi-toekennings genomineer.

Die nominasies vir die Naledi-teatertoekennings vir 2023 is pas bekendgemaak en Die Kaplyn-musiekblyspel, ’n AfriForum-produksie uit die pen van Jannes Erasmus en Johan Vorster, is vir sewe toekennings genomineer.

Die Naledi-toekennings word jaarliks gemaak om voortreflikheid in die teaterwêreld aan te moedig en te beloon en om die profiel van lewende teater te vestig.

Vorster sê hy is dankbaar vir die sewe nominasies.

“Dit is nog steeds so ’n voorreg, nie ’n reg, om in Suid-Afrikaanse musiekteater in Afrikaans te kan maak,” sê Vorster.

Dié produksie het benoemings ontvang vir onder meer die beste musiekblyspel- of musiekteaterproduksie, die beste manlike hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie, die beste ensemble in ’n musiekblyspel en die beste oorspronklike klankbaan, verwerking of klank.

Die Kaplyn het verlede jaar vir die eerste keer op die planke gekom in die AfriForum-teater in Pretoria en keer binnekort terug vir ’n tweede speelvak.

Die Kaplyn het verlede jaar vir die eerste keer op die planke gekom in die AfriForum-teater in Pretoria en keer binnekort terug vir ’n tweede speelvak.

Vorster sien uit na die nuwe speelvak eersdaags in die gewilde teater in die ooste van Pretoria.

“Dit is ’n geleentheid om hierdie besonderse storie uit ons geskiedenis met mense wat dit nog nie te sien en te hore gekry het nie, te deel,” verduidelik Vorster.

Die Kaplyn speel af teen die agtergrond van die destydse Grensoorlog en word in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied.

Vorster en Jacomien de Wet het die blyspel se musiek en lirieke behartig, terwyl Francois Lessing weer aan die stuur van orkestrasie is. Erasmus staan aan die stuur van die produksie se teks en regie.

Vorster se aangenaamste herinnering aan die vorige speelvak is “uitverkoopte teatersale!”

Vir hom het die gefokuste tema en boodskap van Die Kaplyn veel tot die sukses van die produksie bygedra.

“Ek dink ons boodskap was dat daar steeds helde onder ons dakke sit. Ons pa’s en broers wat geveg het op daai grens is helde vir ons. Hulle is dalk uit die geskiedenisboeke geskryf en ons kinders leer nie meer van hulle nie. Dis glo skielik iets om voor skaam te wees, maar ons stem nie saam nie,” glo Vorster.

Vir Vorster was dit “’n belangrike oorlog”.

“Hierdie stryders sit met baie seer en trane omdat hulle vir hul land geveg en gedien het. Ons wou ‘n huldeblyk aan hulle bring,” sê Vorster.

Die musiek-blyspel, Die Kaplyn, is vir sewe Naledi-toekennings genomineer, onder meer die beste musiekblyspel- of musiekteaterproduksie, die beste manlike hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie, die beste ensemble in ’n musiekblyspel en die beste oorspronklike klankbaan, verwerking of klank.

Die produksiespan het met ‘n groep veterane gewerk om die detail perfek te kry.

“Ons het ons bes probeer om hierdie storie met respek te hanteer,” meen Vorster.

Sy hoofdoel was dat diegene wat daar uitstap trots moet voel op hul aandeel in die land se geskiedenis.

Hy verwys ook na die “ma’s, tannies, sussies en lieflinge” aan die tuisfront waarvan die verhale vertel word.

“Hulle het hierdie soldate ondersteun het en hulle rol was net so belangrik gewees,” benadruk Vorster.

Vir Erasmus is die Naledi-teatertoekenniings die Oscars van Suid-Afrika se teaterbedryf.

“Daarom is dit ’n enorme voorreg dat die Naledi-beoordelaarspaneel soveel aanklank kon vind by ons musiekblyspel. Ons besef die Here is nog nie klaar met Die Kaplyn nie. Vir elkeen van ons sewe nominasies is daar in ons volgende speelvak ook sewe weke en die grootste geskenk sal wees om dit met gehore in ’n volgepakte teater te deel,” verduidelik Erasmus.

Hy is genomineer as die beste regisseur van ’n musiekteaterproduksie vir Die Kaplyn, terwyl Dihan Keun vir sy rol in dié produksie genomineer is as beste manlike byspeler in ’n musiekteaterproduksie.

Met dié nominasies bou AfriForum Teater en Inhoud Huis Musiek voort op die sukses wat met die gewilde musiekblyspel Die Gelofte behaal is.

Dié musiekblyspel is verlede jaar in tien kategorieë vir Naledi-teatertoekennings genomineer.

Die Kaplyn se nominasies vir die Naledi-teatertoekennings is soos volg:

Beste ensemble in ’n musiekblyspel: AfriForum Teater en Inhoud Huis Musiek vir Die Kaplyn
Beste oorspronklike klankbaan, verwerkings of klankskap: Johan Vorster, Jacomien de Wet en Francois Lessing vir Die Kaplyn
Beste klankontwerp: Pieter-Louis van Twisk vir Die Kaplyn
Beste regisseur van ’n musiekteaterproduksie: Jannes Erasmus vir Die Kaplyn
Beste manlike byspeler in ’n musiekteaterproduksie: Dihan Keun vir Die Kaplyn
Beste hoofrolvertolking in ’n musiekteaterproduksie (manlik): Abel Knobel vir Die Kaplyn
Beste musiekblyspel- of musiekteaterproduksie: Die Kaplyn

– Die tweede speelvak van Die Kaplyn word vanaf 26 April tot 9 Junie in die AfriForum Teater opgevoer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button