Voortrekkers bederf diere by Rooihuiskraal Historiese Terrein
Die Voortrekkers Rooihuiskraal-kommando se Penkoppe en Drawwertjies was betrokke by die maak van die speelgoed, terwyl die Verkenners se taak was om die speelgoed op te stel.

Twee diere by die Rooihuiskraal Historiese Terrein is behoorlik bederf na ’n besoek van die Voortrekkers aan die begin van die skoolvakansie.
Dié groep jongmense het die varke, Potgieter en Maritz, ’n bietjie bederf met kwaliteittyd en selfgemaakte speelgoed om hulle besig te hou.
“Vir die Voortrekkers is dit ’n groot voorreg om deel te wees van die Rooihuiskraal se gemeenskap se opheffingsprojek en met Potgieter en Maritz betrokke te wees,” sê takleier Sonett Laubscher.
“Daar kan ons nie net ’n verskil in hul omstandighede maak nie maar ’n daadwerklike positiewe konsekwente bewustheid kweek onder vriende in die gemeenskap.”
Sy sê dit sluit aan by een van die Voortrekker se kodes om die omgewing te waardeer en te bewaar.
“Dis vir ons baie belangrik om dit ’n prioriteit te maak en dit uit te leef.”
Laubscher sê dat twee groepe bestaande uit lede van graad-RR tot graad-12 vroeg om 07:00 begin het om die werk aan te pak.
Die Rooihuiskraal-kommando se Penkoppe en Drawwertjies (gr. RR-7) was betrokke by die maak van die speelgoed en die Verkenners (gr. 8-12) se taak was om die speelgoed beskikbaar te maak deur dit self te gaan opsit.
“Wat ’n oomblik toe ons voete grondvat,” sê sy.
“Gou word die gemaakte speelgoed uitgelaai en die soektog na Potgieter en Maritz begin.”
Sy sê dat die Rooihuiskraal Historiese Terrein wys dat daar baie sorg en moeite gedoen is om die plek in stand te hou.
“Met die ontmoeting van Potgieter en Maritz is daar gou aan die werk gespring om die speelgoed op te stel en sommer wortels te voer as lekkernye.
“Vir van ons maats was die ontmoeting ’n onvergeetlike ervaring. Nie almal van ons is gewoond aan die plaaslewe nie!”
Laubscher sê dit was vertroostend om te sien hoe die jeug saamwerk vir ’n goeie doel en mekaar motiveer om ’n verskil in hul toekoms te maak.
“Vir ons passievolle offisiere is dit ’n riem onder die hart om te sien hoe die jeug ontwikkel en blootgestel word aan omgee-projekte wat ’n verskil in elkeen se daaglikse lewe kan beteken.
“Hulle is ons nuwe leiers en voorlopers. Kom ons gee hulle ’n standvastige gemeenskapsplatform om op te bou – sterker as gister,” sluit sy af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.