Local newsNews

Breinaalde klik vir aflewerings van Daspoort tot Mamelodi

Die dames van 'n aftreeoord in Pretoria-oos het kartondose en kratte vol items gebrei om aan minderbevoorregtes te skenk.

Vier organisasies van Daspoort tot Mamelodi het gebaat toe breinaalde vir maande in Bronberg-aftreeoord in Pretoria-oos geklik het.

Een van die koördineerders van die projek, Doulien Knopjes, sê op Dinsdag, 2 April is kartondose en kratte in ’n kombi gepak en het ’n rondomtalierit gesorg dat die breiprodukte van wolhoedjies tot sokkies afgelaai word.

Knopjes is dankbaar vir hul vennote op die projek, ’n span van die Rotariërs Pretoria-oos.

“Die dames en sommiges se vriende het die naalde fluks laat klap. Vele artikels is gebrei en gehekel vir mense wat minderbevoorreg is. Die kartondose vol gebreide en gehekelde artikels het amper ons hele bussie volgestaan,” sê Knopjes.

Wolmusse in die voorgeskrewe kleure vir die skole in die omgewing is by Huis Ebenhaeser in Daspoort afgelewer.

“Hierdie huis bied liefdevolle versorging aan kinders wat weens omstandighede vanuit hulle ouerhuise verwyder is. Elke kind is ook bederf met ’n ekstra mus en ’n paar bedsokkies,” verduidelik Knopjes.

Musse, bedsokkies en kombersies is ook by Nicus Lodge op die Steve Biko Akademiese Hospitaal se terrein afgelaai.

“Hierdie huis verskaf gratis verblyf aan kinders vanuit die hele suidelike Afrika wat chemoterapie-behandeling vir kanker moet ontvang. Een ouer per kind word ook gratis hier gehuisves. Hierdie organisasie ontvang nie geldelike steun van die regering af nie en is van liefdadigheidsteun afhanklik,” vertel Knopjes.

Die derde besoek was aan Home 4 the Needy crèche in Mamelodi.

Hierdie sentrum word deur liefdadigheidsorganisasies en ’n klein maandelikse bydrae vanaf die ouers in stand gehou.

Elke kleuter het ’n truitjie en ’n wolmus ontvang. Daar was ook ’n mus in die kleure voorgeskryf deur die skole vir elke naskoolkind.

Die laaste besoek was aan die Paul Jungnickelhuis naby Bronkhorstspruit. Hierdie tehuis huisves 160 volwassenes met gestremdhede.

“Die vlytige dames van Bronberg was glad nie afgeskrik toe ons vir 160 paar bedsokkies vir die huis gevra het nie. Hulle het dit in ’n rekordtyd van drie weke voltooi. Ons kon hierdie bedsokkies en 25 kniekombersies vir die ouer inwoners in rolstoele gaan aflewer,” verduidelik Knopjes.

Breinaalde klik volgens Knopjes reeds vir aflewerings eersdaags by Uncle Ben’s Aftreeoord, Nicus Lodge en Pride en Joy skool.

Die Bronberg-aftreeoord versoek diegene wat hul projek wil steun met wol, geldelike bydrae of gehekelde en gebreide items, om Knopjes op 010 007 4160 te skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button