Local newsNews

Oud-Tukkie aangespoor om skool in ooste na nuwe hoogtes te neem

Die nuwe skoolhoof van 'n topskool in Pretoria-oos het met sy inhuldiging vier belangrike lesse aan die leerders illustreer.

Die inhuldiging van die nuwe skoolhoof van Die Hoërskool Menlo Park, Kobus Hartman, het op 3 April tydens ’n luisterryke geleentheid in die skool se buitelug amfiteater geskied met die skoolkoor en ’n solis wat hom en sy eggenote, Jonel, toegesing het.

Hartman was vantevore verbonde as skoolhoof aan die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl sedert 2020 sowel as as adjunk-hoof aan die Hoërskool Nelspruit in Mbombela in Mpumalanga. Hy was 18 jaar aan die skool in die Laeveld verbind.

Vanuit onderwyskringe het die verteenwoordiger van die Tshwane-Suid-afdeling van die Gauteng Onderwysdepartement, Billy Kgomo, gesê daar word veel verwag van Hartman om ’n trotse tradisie van voortreflikheid by die skool voort te sit.

“Ons verwag van hom om die skool steeds een van die leidende skole in die land te maak en om selfs op prestasies van die verlede te verbeter,” sê Kgomo.

Hartman het tydens sy intreetoespraak verwys na vier lewenslesse wat hy met voorbeelde toegerus het.

Hy het ’n viool aan die leerders gewys en verwys na ’n opvoering van wêreldbekende vioolspeler Joshua Bell.

Bell het anoniem op ’n ondergrondse treinstasie viool gespeel en is nie deur New Yorkers herken of geëer as van die beste musikante nie.

“Ek glo egter dat indien wat jy doen na die beste van jou vermoë gedoen word en jy gemaklik is met wat jy doen, sal mense van jou kennis neem,” sê Hartman.

Dié oudleerder van Hoërskool Villiers en Falcon Manor School en pa van drie, glo ook “in elkeen van ons is ’n Einstein”.

Sy derde illustrasie was ’n spekboom wat hy vanaf die Paarl Pretoria toe gebring het.

Hartman het op die kwaliteite van die uitsonderlike plant gewys, onder meer hoe dit die klimaat daarrondom kan verander deur koolstofdioksied na suurstof te verander.

“Soos die spekboom kan ons die wêreld vir mekaar helderder maak,” verduidelik Hartman.

Hy het ’n steggie van die plant vir elkeen van die vier hoofleiers van die skool – Viljee Smit, Keira de Jager, Rudolph Jordaan en Lize Booysen – gegee om ’n boompie van te kweek. Hy beoog om die steggieboom op die skoolterrein in Pretoria-oos te plant.

Oplaas het Hartman verwys na die suksesvolle rugbyspeler, Springbok Canan Moodie, wat op Hoër Landbouskool Boland was. Hy het elke dag 13km na die skool gestap en moes dikwels in die buurt waar hy gewoon het, die smokkelbendes systap.

“Moodie het ten spyte van struikelblokke net harder en harder gewerk en uiteindelik bo uitgekom. Hy is vir ons almal ’n voorbeeld.”

Hartman se belangstelling strek ver, vanaf leierskap in die onderwys, kunste tot by Stormer-rugby.

Hy het ’n honneursgraad in opvoeding aan die Noordwes Universiteit verwerf en kan ’n meestersgraad in opvoeding van Tukkies agter sy naam skryf.

Hy het sy oorspronklike onderwyskwalifikasie aan die Onderwyskollege in Pretoria verwerf.

“Daar is min dinge so lekker as om tydens sporttoernooie langs die velde te stap en te sien hoe sport leerders ontwikkel,” glo Hartman.

– Kliek hier om na Die Hoërskool Menlo Park se koor onder leiding van Jeanmari van Papendorp te luister.

@rekordpretoria

– Kliek hier om na Die Hoërskool Menlo Park se koor onder leiding van Jeanmari van Papendorp te luister.

♬ original sound – rekordpretoria – rekordpretoria

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button