Local elections newsNews

Riviera-inwoners eis ingryping vir Melgisedek-probleme

Beweerde swak sanitasie, brandende vullis, geraas en veiligheidsprobleme in openbare ruimtes veroorsaak frustrasie vir inwoners in 'n kompleks. Hulle vra dat die metro en ander verantwoordelike owerhede ’n gekoördineerde, volhoubare oplossing instel.

Inwoners van Riviera Close Estates in die Moot eis optrede oor beweerde swak sanitasie, brandende vullis, geraas en veiligheidsprobleme in openbare ruimtes langs hul kompleks.

Hulle vra dat die metro en ander verantwoordelike owerhede ’n gekoördineerde, volhoubare oplossing instel in die vakuum wat ’n regsvete rondom die omstrede Melgisedek-gebou en die informele nedersetting daarrondom laat.

Inwoners van die tienjarige woonstelblokke in James Clark-straat in Riviera, sê die probleme in openbare ruimtes van die metro langs Soutpansbergweg en die Melgisedek-geboue en -terrein raak toenemend hul veiligheid en lewensgehalte.

Keenin Govinder, ’n inwoner van die kompleks en eienaar van ’n woonstel, sê die omstandighede het oor die afgelope drie jaar versleg.

Ingang na die woonkompleks, Riviera Close Estates. Foto: Elize Parker

Volgens hom word die aangrensende munisipale areas en mure daarop gereeld as toilette gebruik en word vullis op die aangrensende terrein verbrand.

Hy sê inwoners ervaar onaangename reuke, vlieëplae en rookbesoedeling oor die verbranding van afval.

“Ons bestee baie geld aan vlieëafweermiddels en wasmiddels omdat die rommel van die vure op die wasgoed aan die wasgoedlyne beland,” sê Govinder.

Volgens hom kyk sommige woonstelle direk op die betrokke area sowel as op die informele nedersetting rondom die Melgisedek-gebou uit, wat dit vir inwoners moeilik maak om vensters en skuifdeure oop te hou.

Govinder sê ’n voetgangerdeurgang in ’n gebreekte heining wat lei na ’n teerpad van die metro tussen die kompleks en ’n nabygeleë kerk, bied toegang tot die aangrensende ruimtes en vererger die situasie.

Hy sê die kompleks het nie kameras waarmee inwoners voorvalle in die deurgangspad kan dokumenteer nie en dat sommige inwoners toenemend onveilig voel wanneer hulle na nabygeleë winkels en ’n apteek stap.

Volgens inwoners word openbare ruimtes langs die kompleks as toilette gebruik en word vullis daar verbrand. Hulle kla oor vlieë, rookbesoedeling en rommel en vra duidelikheid oor watter owerhede verantwoordelik is vir die oplossing van die probleme. Foto: Elize Parker

Die inwoners vra dat die metro die openbare ruimtes aangrensend tot die woonstel gereeld skoonmaak en veral ook die onkruid en bosse verwyder word. Hul eise sluit ook in die instandhouding van heinings verbeter en die moontlikheid ondersoek om ’n muur of heining op te rig om ongemagtigde toegang tot die area en kompleks te beperk, veral vanaf die informele nedersetting wat rondom die Melgisede-kgeboue ontstaan het.

Hy sê inwoners wil nie bloot aanhou kla sonder dat daar ’n duidelike proses is om probleme op te volg nie. Hy vra dat eienaars en inwoners by gemeenskapsforums en gemeenskapspolisiëringsinisiatiewe betrek moet word.

Piet Thirion, voorsitter van die GPF vir die gebied, het aan Rekord gesê dat die probleme in die area voor die woonstelle in James Clark-straat spruit uit die woonstelle se ligging teenaan die Melgisedek-geboue.

“Dit sal nie opgelos kom voordat die Melgisedek-probleem opgelos is nie,” benadruk Thirion.

Die probleme in die omgewing val saam met ’n regsdispuut oor die Melgisedek-gebou en die metro se eertydse beplande uitsetting en hervestiging van ongeveer 450 inwoners na tydelike tentakkommodasie in Gezina.

Regslui vir Menseregte het regstappe gedoen om die beplande uitsettingsoptrede te stuit en hul aansoek om uitsetting te verhoed, is tans by die Grondwethof geregistreer, het Louise du Plessis, woordvoerder van die organisasie aan Rekord bevestig.

Die metro moet volgens die hofbevel van die Appèlhof asook ’n inspeksie ter plaatse deur Hooggeregshofowerhede, die uitsettingsproses tydelik opskort totdat ’n Grondwethofbesluit geneem en in werking gestel kan word.

Die tente wat in ’n park op die hoek van Nico Smith-straat en Johan Heynsrylaan opgeslaan is vroeër vanjaar, is reeds deur die metro na die mees onlangse September 2026-hofuitspraak verwyder.

Die metro het die tente in ’n park op die hoek van Nico Smith-straat en Johan Heynsrylaan verwyder ná die jongste hofuitspraak rondom uitsetting van Melgisedek-inwoners in September 2026. Die tentedorp sou tydelike huisvesting bied aan sowat 450 inwoners van die Melgisedek-gebou. Foto: Elize Parker

Die tente sou huisvesting moes bied aan die sowat 450 inwoners van die Melgisedek-geboue sou hulle uitgesit word.

Govinder meen dat die hofstryd oor Melgisedek nie die regte van inwoners van Riviera Close Estates op veiligheid en ’n gesonde leefomgewing mag ondermyn nie.

Hy erken dat hawelose en ander kwesbare mense ook regte het en toegang tot basiese dienste, waaronder sanitasie, benodig.

Volgens hom moet dié behoeftes saam met dié van omliggende inwoners aangespreek word, eerder as om die probleme te laat eskaleer. Die hof se tydelike opskorting van die hervestiging laat volgens hom die breër geskil onopgelos en die inwoners daarrondom in ’n vakuum waartydens niemand wil optree nie.

“Dit is juis hoekom hierdie probleem so geëskaleer het en nog groter word,” meen hy.

Mari Joubert, ’n VF Plus-raadslid, sê sy werk sedert 2018 saam met raadslid Sakkie du Plooy en voormalige raadslid Ben Erasmus aan probleme in die omgewing van Melgisedek, James Clark-straat en Annie Bothalaan en veral ook sedert sy raadslid geword het in 2020.

Mari Joubert, proporsionele raadslid. Foto: Verskaf

Joubert sê die parkie in Adcockstraat naby aan die woonstelle is omhein danksy ’n gemeenskapsopheffingsprojek, maar dat die parkie se probleme na die breër Riviera-omgewing oorgespoel het. “Die mense van Riviera loop deur.”

“Melgisedek en die area daarrondom gaan ’n probleem bly totdat ons ’n werkbare, langtermynoplossing kry daarvoor. Daar is wel nou een voorgestel rondom ’n vennootskap tussen die metro en ’n privaat ontwikkelaar. Dit hang af hoe die politieke landskap ná die verkiesing gaan lyk, en van die hofuitspraak, hoe die oplossing ingestel kan word. Maar die politieke wil sal daar moet wees,” sê sy.

Ten tyde van publikasie is kommentaar van die metro aangevra maar nog nie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button