Blogger-ma wys meisies hoe om ‘n Taai Meraai te wees
Om ’n tienermeisie te wees is nie altyd so maklik nie. Motiveringspreker Bernice Schutte weet dit maar al te goed en gee riglyne in drie gidse hieroor.
“Ek wil hulpmiddels vir tienermeisies gee om te help om antwoorde te vind oor dinge waaror ons nie so maklik praat nie.”
Só sê Bernice Schutte, ’n sprankelende blogger-ma en skrywer van Montana wat met haar drie handleidings meisies bemagtig om hulself te aanvaar.
Sy is ’n gewilde blogger op die Afrikaanse platform, Mooiste Vrou.
“Selfaanvaarding is een van die grootste hulpmiddels waarmee ons tienermeisies mee kan toerus,” sê die voormalige radiografis wat nou in mediese inligtingstegnologie spesialiseer.
Schutte het haar graad in radiografie aan Tukkies verwerf en kan nagraads talle kwalifikasies in haar veld, onder meer in mammografie agter haar naam skryf.
Die skryf van haar gidse vir die jongklomp het per toeval gekom. “Ek het ’n gids vir my eie dogter, Leoné, geskryf oor vrae wat sy gevra het en toe ander ma’s die boekie vir haar sien, het hulle gevra dit moet beskikbaar word,” sê die motiveringspreker. Die boek sou spoedig tot ’n reeks groei.
Schutte skryf in haar eerste gids, Die frustrasies van menstruasies, oor onderwerpe soos maagkrampe en buierigheid sowel as oor pre-menstruele spanning.

In die boek, 10 vir ’n Tiener, skryf sy oor die eerste liefde wat jou hart breek en hoekom ouers nie tieners se vyande is nie.
Boek nommer drie, Legkaart tot leierskap, spreek kwessies aan soos hoekom jy nie hartgebroke moet wees indien jy nie as skoolleier verkies word nie.
“Ek glo mens moet jou voorberei op die moontlikheid dat so iets kan gebeur en dan is die helfte van die stryd gewen,” verduidelik Schutte.

Die boeke kan gratis van die internet afgelaai word.
Schutte het as deel van die Taai Meraai-program van Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-oosstreek, talle slim planne en prettige oplossings onlangs tydens ’n kursus met graad 7-meisies gedeel.
Sy kan ook tans op radioprogramme gehoor word waar sy wenke deel vir vroue en meisies om hulself beter te leer ken, te groei en by mekaar te leer.
“Al is die onuitgesproke reëls vir vroue en meisies nie meer so streng soos in die verlede nie, ervaar hulle nog dikwels portuurdruk. Ek wil net vir hulle sê, dis okei om jouself te wees,” sê Schutte.
Een van die boodskappe wat Schutte graag oordra aan tienermeisies is dat jy vriende mag ontgroei.
“Hierdie is ’n natuurlike proses en dit beteken dat soms begin jy weg van mekaar te groei. Daar is niks fout daarmee nie. Moenie bang wees om nuwe mense te ontmoet nie.”

– Kliek hier om Schutte se boeke gratis af te laai:
Meisie tot Mens 1: https://heyzine.com/flip-book/ac3a401bc0.html#page/1
Meisie tot Mens 2: https://heyzine.com/flip-book/47dac36aa1.html#page/1
Meisie tot Mens 3: https://heyzine.com/flip-book/dff25fde9f.html
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
