Local newsNews

Skilder vermaak met kwinkslae op die verhoog

Gooi 'n bekende skilder en 'n gewilde sanger saam op 'n verhoog om 'n lewe terugskouend te bekyk en met liedjies te illustreer, en jy kry oomblikke van suiwer verhoogbekoring.

’n Vermaaklike vertoning met die internasionaal bekende skilder, Portchie, en gewilde Afrikaanse sanger Jak de Priester, het vir ’n vol saal by die Atterburyteater op Sondag 28 April gesorg.

Familielede van die skilder, liefhebbers van sy kuns en ou vriende is telkens aangedaan sowel as geamuseerd gelaat.

Talle van die kunstenaar se staaltjies het die gehoor stilweg laat glimlag of spontaan met applous laat uitbars.

Portchie is veral bekend vir sy kleurvolle werke in akrielverf vol van die alledaagshede van gewone mense se lewens.

Hierdie bedrewe skilder en storieverteller kan as “groter as die lewe” beskryf word.

Hy het met sy wit verfjas, waaroor hy ’n veelkleurige voorskoot gedra het met een van sy eie kunswerke op, en ’n gemaklike paar skoene op ’n bank plaasgeneem en met afwagting geluister na De Priester se vrae.

Portchie se boek Van Tweeling tot Trafalgar Square is tydens die vertoning bekend gestel. Aanhangers het in lang rye na die vertoning gewag om ’n persoonlike handtekening vir dié blitsverkoper te kry.

Die memoir, uitgegee deur NB Boeke, kombineer Portchie se inspirerende verhaal met foto’s, 60 skilderye, 12 beelde en selfs sy gunstelingresepte.

Die vertoning maak talle deure oop op die lewe van een van Suid-Afrika se bekendste kommersiële kunstenaars wat al meer as 20000 skilderye tydens meer as 60 solo-uitstallings wêreldwyd verkoop het.

Tot menige lid van die gehoor se verbasing het hy self ook voor die vleuelklavier tydens die Reis na Gister-vertoning ingeskuif.

Hy het met sy gesonde kenmerkende porsie selfspot na sy “musiekjare” verwys met ’n vertelling van hoe die Viljoen-gesin “soos bykans elke ander plattelandse gesin, ’n orrel op ’n stadium gekry het. Daar was nie ’n huis sonder ’n Hammond nie.

“Ons het ’n Lowry-orrel gehad,” het Portchie opgemerk.

Met nostalgiese verlange het hy die eerste liedjie vertolk wat hy destyds kon speel, “Alley Cat” en ’n paar halleluja-liedere.

Portchie het deurlopend teruggekyk op die hoogtepunte van sy lewe en voel dat die Rapport-koerant twee keer ’n belangrike rol gespeel het. Een keer toe sy pa daarin ’n advertensie gesien het om ’n poskantoor op Tweeling reg te maak en toe hy ook self sy B.Comm-graad kon voltooi as gevolg van ’n advertensie van Spoornet.

Hy het met smaak en tong-in-die-kies vertel hoe daar gou op die spogskool in Stellenbosch, Paul Roos Gimnasium, kennis geneem is sy ma en pa is groenteboere en besit ’n groentewinkel op die klein Vrystaatse dorpie Tweeling.

Dit was die gebruik in die sestiger- en sewentigerare dat groente-handelaars van Portugese afkoms dikwels in die platteland sulke winkels gehad het. Sy bynaam “Portchie” is deur een van sy onderwysers gemaak.

Sy geboortename is Jan Hendrik Viljoen.

Op Stellenbosch, waar hy nou ook woon en die Rooi teepot-galery besit, het hy sy eerste kunsklasse bygewoon toe “sy ma R5 vir klasse in ’n koevert aangestuur het”.

Omdat sy ma ’n knap sakevrou was, voel Portchie het hy anders na die lewe gekyk. Hy het ’n oomblik aangedaan geraak toe hy vertel van sy ma se afsterwe op 51-jarige ouderdom aan kanker.

Hy was selfs onlangs ernstig siek en moes ’n hartklepvervangingsoperasie ondergaan.

Hy vertel bykans nostalgies hoe talle bewonderaars en kopers van sy skilderye opmerkings maak oor hoe kleurvol sy werk is.

“Ek dink nie altyd die geheim is hoe kleurvol dit is nie, maar hoé die balans van kleure met mekaar saamwerk. En dit het ek in my ma se groentewinkel geleer as ek die groentes so bymekaar moes uitpak en rangskik. Ek het gou gesien watter kleure bymekaar trek die koper se oog,” vertel die kunstenaar wat al meer as ’n miljoen afdrukke van sy kuns verkoop het.

In sy galery in Rietondale waar sy suster Sarona ’n teetuin bedryf, is die verdere kommersialisering van Portchie se werk te siene met afdrukke wat op skinkborde, tafeldoeke en ander verkoopsmateriaal gemaak word.

Hier kry jy ook dikwels die kunstenaar waar hy gemaklik ontspan saam met diegene wat in sy diens staan en aan wie hy en sy kuns werk verskaf.

Hy het reeds vroeg besef ander kan ook by sy kuns baat.

Reeds vroeg in sy loopbaan het hy saamgespan met twee buurvroue in ’n woonstel in Johannesburg om kunsklasse te loop.

Portchie vertel met ’n vonkel in die oog hoe hy eers net ’n paar skilderye in sy woonstel uitgestal het en toe mettertyd bykans in die hele woonstelkompleks ’n uitstalling gehou het.

“Die woonsteleienaars het ’n klein kommissie verdien,” vertel hy.

’n Bekende kunsgalery-eienaar het een van die kunsuitstallings bygewoon en hom mettertyd gehelp om ’n reuse-uitstalling van ’n honderd skilderye te hou in Northcliff, Johannesburg, waartydens bykans al sy werke verkoop is.

Sarona Lubbe en Debbie Lubbe van Rietfontein

Soos ’n goeie storieverteller in die trant van die TV-reeks, Spies en Plessie, spaar Portchie nie sy gehoor nie en is jou wange naderhand moeg gelag met sy kwinkslae wat hy soos lekkers uit ’n kardoes haal.

Maar soos ’n film wat in sy lokprent geen leidrade gee wat die loop van die verhaal vir kykers kan bederf nie, vertel Portchie en De Priester nie die volle verhaal van sy lewe nie. Net genoeg om jou gedagtegang te prikkel oor hoe sy lewe verder verloop het.

De Priester sluit perfek in sy aanbieding van sy eie liedjies aan by die temas van Portchie se gesprek en maak soos altyd met sy musikale integriteit seker dat sy lirieke jou laat nadink.

Om aan te sluit by Portchie se vertellinge oor sy ma, het De Priester die liedjie “Boervrou – Vir Ma” hartroerend vertolk.

“Sy het die Here in haar hart,” is lirieke uit die liedjie wat mens kon sien Portchie aangedaan gelaat het.

Tot menige lid van die gehoor se verbasing het Portchie self ook voor die vleuelklavier tydens die Reis na Gister-vertoning ingeskuif.

De Priester is ook ’n knap aanbieder van TV-reekse soos juis die reeks met ’n soortgelyke naam as die vertoning, Reis na gister sowel as Koppieteefontein.

Sy gemaklike aanbiedingstyl om die verhoog aan Portchie oor te laat en net aanvullend ’n opmerking of twee te maak, was in die kol vir die okkasie.

Soos altyd, het die speellys van sy liedjies gehore laat saamsing aan die refreine en beslis ’n paar laat identifiseer met die verlange wat so kenmerkend van sy lirieke is.

De Priester se lirieke laat jou altyd so bietjie selfondersoek doen en met die vertoning aansluitend tot Portchie se refleksies oor fases van sy lewe, is dit ’n ryk skilderdoek wat die twee met breë kwashale verf.

– Kliek hier om Portchie oor sy kuns te hoor gesels: https://portchie.com/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button