Local newsNews

Kilner Park-ontwikkeling lok hewige kritiek

In Kilner Park ervaar planne vir die voorgestelde Lindo Park Uitbreiding 5 hewige teenkanting. Met 508 nuwe eenhede oppad, neem kommer oor verkeer en veiligheid toe.

’n Stedelike ontwikkelingsprojek in Kilner Park, wat die bou van 508 nuwe wooneenhede behels, ondervind aansienlike weerstand van talle kante.

Die voorgestelde Lindo Park-uitbreiding 5, geleë langs Slaterstraat, het ’n ontwerp wat slegs een toegangspunt vir alle verkeer insluit, wat kommer wek oor verkeersopeenhoping en veiligheid.

Wykraadslid Roelof Fourie (Queenswood wyk 84) het die ontwikkeling openlik gekritiseer weens die beperkte toeganklikheid daarvan.

“Die ontwikkeling is nie wenslik nie as gevolg van die beperkte toegang tot die gebied,” sê Fourie. “Dit weerspieël kommer wat deur plaaslike inwoners geopper is oor die enkeltoegangs- en uitgangpunt wat ook swaarvragvoertuie tydens konstruksie sal bedien.”

CHD Properties Pty Ltd, die ontwikkelaar van die uitbreiding, het ’n aansoek ingedien vir die stigting van die kompleks ingevolge Artikel 16(4) van Tshwane se Grondgebruikbestuursverordening, 2016.

“In terme van Tshwane-standaarde vereis ’n tipiese residensiële ontwikkeling met meer as 500 eenhede ’n tweede ingang. Dit is van toepassing op die hoër-inkomstevlakbehuisingsmark, waar private voertuiggebruik die voorkeur vervoermiddel is,” sê projekbestuurder, Khutso Selowa.

Liggingsplan van die uitbreiding.

Hy voer egter ook aan dat hierdie ontwikkeling nie gebou word met die oog op die hoërinkomstevlak nie.

“Die aansoeker se perseel is 508 eenhede, maar sal egter fokus op ’n laer-inkomstevlakhuismark, waar inwoners hoofsaaklik afhanklik is van openbare vervoer soos taxi’s en busse. Vandaar die voorsiening van ’n taxi-stop om die verwagte vraag na taxi’s te akkommodeer.”

Selowa sê ook dat ’n verkeersimpakstudie (TIS) wel gedoen is en deur Tshwane goedgekeur is. “In die TIS is die bestaande kapasiteit van die paaie bepaal en beoordeel vir die impak van die ontwikkeling,” sê hy.

’n Openbare kennisgewing is uitgestuur en inwoners en enige ander belanghebbendes het kans gehad om besware of kommentaar teen 2 Mei by die metro se Groepshoof vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning in te dien.

In reaksie op die inwoners se teenkanting sê Selowa dat ’n belanghebbende bestuursplan ontwikkel is en gevolg sal word sodra goedkeuring van statutêre voorleggings ontvang is.

“Die plan is daar om die suksesvolle implementering van die projek te verseker.”

Die belangrikste doelwitte van die plan is:

– Verseker dat daar effektiewe en doeltreffende kommunikasie oor alle aspekte van die program is.

– Versekering in verband met noodsaaklike terugvoer van belanghebbendes rakende hul behoeftes en verwagtinge oor die program.

– Die skep van ’n positiewe verhouding met alle belanghebbendes deur die toepaslike bestuur van hul verwagtinge en ooreengekome doelwitte.

“Wanneer die behoefte ontstaan,” sê Selowa, “sal ’n projekbestuurskomitee saamgestel word bestaande uit plaaslike belanghebbendes in die gebied. Die bestuurskomitee sal tipies op ’n ooreengekome basis vergader om die beplanning en implementering van die projek te adviseer en te lei.”

Stads- en streeksbeplanner Peter Meijer het sy bedenkinge oor hierdie uitbreiding. “My grootste probleem is die enkel toegang vanaf Soutpansbergweg en CR Swartstraat. Daar is geen ander manier hoe die verkeer kan versprei nie. Paaie word in ’n spesifieke klas ingedeel en hierdie spesifieke paaie gaan nie die verhoogde verkeer kan dra, of dit nou private motors, taxi’s of busse is nie,” sê Meijer.

“Mens sal moet gaan kyk vir wat hierdie grond geoormerk is en wat toegelaat word ten opsigte van die streeksruimtelike ontwikkelingsraamwerk in terme van die oorhoofse beplanning van die stad,” sê Meijer.

Hy moedig ook inwoners aan om so spoedig moontlik beswaar in te dien. “Dit vat net een beswaar om die proses te vertraag.”

Die stad se reaksie op hierdie bekommernisse, en enige wysigings aan die ontwikkelingsplan wat die toegangs- en verkeerskwessies aanspreek, sal van kritieke belang wees om te bepaal of hierdie projek vorentoe kan beweeg sonder om die harmonie en veiligheid van Kilner Park te ontwrig.

Inwoners word aangemoedig om hierdie ontwikkeling te kritiseer en hul menings uit te spreek om te verseker dat hul bekommernisse aangespreek word voordat die projek verder vorder.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button