Local newsNews

Skoolverlaters baat by skenking vir nuwe sentrum

n Gaping in die naskoolse opleiding van skoolverlaters met spesiale opvoedingsbehoeftes sal binnekort aangespreek kan word.

’n Projek van die Nuwe Hoop-skool in 26ste Straat in Alphen Park het ’n hupstoot gekry met ’n stewige donasie vir ’n bouprojek waarby die leerders kan baatvind.

Die skool bied doelontwerpte onderrig vir leerders met spesiale onderrigbehoeftes aan.

Karen Meyer, skoolbemarkingsbestuurder, sê die R150 000-skenking wat Jacaranda FM met die hulp van Power Build bewerkstellig het, sal bydra tot die bou van ’n broodnodige vaardigheidsontwikkelingsentrum by die skool.

“Ons gaan die sentrum gebruik om leerders na skool op te lei as entrepreneurs. Hulle kan hierdeur geld verdien deur produkte en dienste te lewer,” verduidelik Meyer.

Die skool bestaan al 50 jaar om opvoeding en ondersteuning te bied aan leerders met spesiale behoeftes.

Meer as 400 leerders van voorskool tot Graad 12 woon die skool by.

Meyer verduidelik die skool se fokus is om leerders te help om hul vol potensiaal te bereik.

Die skool het ’n 100%-slaagsyfer vir matrieks die afgelope sewe jaar behaal.

Meyer sê daar bestaan egter ’n kritiese leemte in naskoolse ondersteuning vir talle leerders.

“Die nuwe vaardigheidsontwikkelingsentrum sal hierdie leemte aanspreek deur naskoolse opleiding te verskaf en skoolverlaters help om waardevolle vaardighede aan te leer om volhoubare loopbane te volg,” verduidelik Meyer.

Die R3.5-miljoen sentrum se konstruksie het reeds afgeskop en die geboue is nou vensterhoogte.

By voltooing sal die sentrum lynproduksiewerk, houtwerk en gasvryheidstudies aanbied.

’n Haar- en skoonheidsalon sal ook in die sentrum bedryf word.

Sy is dankbaar vir die projekbestuurvaardighede waarmee projekbestuursmaatskappy Agora Africa die skool help.

“Hulle het ons ook gehelp om die span op Good Morning Angels op Jacaranda FM te nader om ons te help,” verduidelik Meyer.

Die Nuwe Hoop-skool bied as fondsinsamelingsprojek op 31 Mei ’n rolbaldag by Pretoria Municipal Recreation Club in Annie Bothalaan aan.

Vir meer besonderhede, besoek marketing@newhopeschool.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button