Deurry-kranslegging gehou na tragiese Sunnyside gru-ongeluk
Die adjunk-skoolhoof van Laerskool Tuinrand, Louwrense Badenhorst en sy dogter Michelle is Vrydagoggend vroeg in 'n gru-botsing in Sunnyside oorlede.
Ouers, leerders en personeel van Laerskool Tuinrand in Claremont in Pretoria-Wes is die naweek op die skool se sosiale media genooi om deel te neem aan ’n deurry-kranslegging in Bezuidenhoutstraat aan die oostekant van die skool nadat die adjunk-skoolhoof, Louwrense Badenhorst (53) en sy 23-jarige dogter, Michelle, op Vrydagoggend 3 Mei in ’n motorbotsing oorlede is.
Die skoolhoof, Kobus van Dyk, het vanoggend aan Rekord gesê die kranslegging “het mooi afgeloop”.
In ’n roerende huldeblyk het hy Badenhorst beskryf as iemand wat altyd gretig was om te help. “Louwrense was nie een vir stilsit nie. Saam het ons groot planne gemaak en deurgevoer – ons moes nog baie planne maak. Die bydraes wat hy gelewer het dien as bewys van sy hardwerkendheid.”
Beraders was ook teenwoordig om leerders en personeel met berading by te staan.
Die geliefde hoof en sy dogter word oorleef deur Badenhorst se vrou Annie, hul 19-jarige seun Devin en 11-jarige dogter Kaylee.


Die skoolgemeenskap het sedert Vrydag talle huldeblyke aan Badenhorst van ouers, oudleerlinge, gemeenskapsleiers sowel as ander skole soos Laerskool Constantiapark gedra.
Van Dyk sê Badenhorst was nege jaar verbonde aan die skool.
“Ons het lekker saamgewerk en veel vermag,” sê Van Dyk.
Badenhorst het in Oktober 2015 as adjunkhoof by die skool begin werk en diep spore daar getrap. Benewens sy rol as adjunkhoof was hy ook die hoof van Sport, Kultuur en Akademie, lewensoriënteringonderwyser en afrigter van die o/11-rugbyspan.
Die motorbotsing tussen Badenhorst se Peugeot en ’n BMW het vroeg Vrydagoggend net na 03:00 plaasgevind op die hoek van Park-en Troyestraat in Sunnyside.
Badenhorst het volgens berigte sy dogter vanaf hul woning in Pretoria-Tuine na ’n hospitaal in Nieu-Muckleneuk vervoer nadat sy vroeër van buikpyn gekla het.
Strate in die omgewing was ’n ruim tyd gesluit terwyl die motorwrakke verwyder is.
Die Badenhorst-egpaar se seun, Devin, is ’n eerstejaarstudent aan die Baylor Universiteit in Texas waar hy uitblink in tennis en het reeds sy debuut in senior Davis-bekertennis gemaak. Devin het ’n paar uur nadat hy van die afsterwe van sy suster en pa by sy gehoor het, aan ’n toernooi teen ’n universiteit van San Diego deelgeneem. Die Universiteit se webblad berig hy en sy dubbelsmaat het die finale van die dubbels-toernooi in die NCAA-toernooi behaal.
Michelle was ook ’n kranige sportvrou en het veral in sagtebal uitgeblink.

Haar tante en ma se suster, Annisel Rohmann, het in ’n huldeblyk op sosiale media aan haar gesê dat hulle nog op 4 Mei sou gaan koffie drink het.
“Ek was so trots op die mens wat jy geword het… so mooi van binne en buite. Jy moes nog soveel bereik het, en ek weet jy sou!” skryf Rohmann in die huldebyk.
Een van die onderwyseresse by Laerskool Tuinrand, Cherise van Niekerk, het in ’n ereblyk aan die adjunk-skoolhoof geskryf: “Dit was ’n voorreg om meneer as my adjunkhoof te hê, dankie vir die saamwerk. Dit was ’n fees en voorreg om saam meneer te kon werk”.
Die begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.
– Rekord het navrae aan die polisie gerig of ’n klag van strafbare mansslag teen die bestuurder van die BMW aanhangig gemaak is en wag tans op ’n antwoord op die navraag.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
