Local newsNews

Gemeenskapsprojek omskep Pretoria en verskaf voeding aan minderbevoorregtes

Carika Ferreira se groentetuinprojek bemagtig inwoners om hul eie groente en vrugte in onkonvensionele ruimtes te kweek en bevorder selfvoorsiening en gemeenskapstrots.

Vars groente is vir elke tafel van belang en om jou eie groente te kweek is verreweg die beste, maar nie almal weet hoe om dit in beperkte spasies te doen nie.

Vir die afgelope dekade het ’n groentetuinprojek inwoners regoor Pretoria bemagtig om ’n volhoubare toekoms te kweek terwyl dit noodsaaklike voeding aan behoeftiges verskaf.

Die projek het oorspronklik begin in Soshanguve onder leiding van Carika Ferreira, ’n konstruksiewerker.

‘n Vrugteboom wat Carika Ferreira by haar ouerhuis geplant het.

Dit het oor die jare egter uitgebrei na die Moot en omliggende areas.

Hierdie inisiatief fokus daarop om groentetuine in onkonvensionele ruimtes te skep deur om ou koffiepotte en waterbottels te gebruik om ’n groentetuin te begin.

Die dryfveer agter hierdie beweging is nie net om hongersnood te verlig nie, maar ook om waardevolle vaardighede en kennis oor volhoubare lewenspraktyke oor te dra.

Deur werkswinkels wat by kinderhuise, aftreeoorde, skole, meenthuise en ouetehuise gehou word, word die gemeenskap toegerus met die gereedskap en kundigheid om hul eie groente te plant en te kweek.

Jenny Boshoff, een van die gemeenskapslede wat opleiding by Ferreira ontvang het, meen dat sy geïnspireer voel deur die projek. “Ek werk al ’n paar jaar saam met Carika en haar groentetuinprojek is hoe almal haar ken. Waar sy gaan, inspireer sy almal om haar om hul eie groente te plant om selfonderhoudend te wees. Sy leer hulle hoe, waar en wat om te doen.”

Jenny Boshoff se slaai in haar groentetuin.

Deur mense te leer hoe om groente in klein, stedelike ruimtes te kweek, poog die projek om selfvoorsiening binne gemeenskappe te bevorder.

Boshoff meen dat dit haar en haar gesin se uitkyk op volhoubaarheid verander het. “Ons as gesin en my ouers het tans ons eie groentetuine en dit leer die kinders van die maniere hoe God voorsien. As jy jou eie groente en selfs vrugtebome (as jy plek het daarvoor) plant, spaar jy soveel maandeliks en is selfonderhoudend.”

Ferreira wil graag hê dat gesonde kos toeganklik is vir almal, waar elke hoek van Pretoria wemel van lewe en oorvloed.

Haar visie strek verder as net tuine; sy droom van openbare parke wat met vrugtebome versier is, en voeding aan enigiemand in nood kan bied. “Ek stel ’n toekoms voor waar enigiemand wat honger is, na die naaste parkie kan stap en ’n vrug van ’n boom kan pluk en eet.”

Jenny Boshoff se slaai in haar groentetuin.

Die impak van die projek strek veel verder as die onmiddellike voorsiening van voedsel.

Dit kweek ’n gevoel van trots en eienaarskap binne gemeenskappe, wat ’n gees van samewerking en wedersydse ondersteuning bevorder.

Deur mense te bemagtig om beheer oor hul voedselbronne te neem, spreek die inisiatief nie net honger aan nie, maar bevorder dit ook waardigheid en selfstandigheid.

Boshoff doen ’n beroep op almal om te gaan lees oor volhoubaarheid en hoe mens self jou eie groentetuin kan begin. “As jy nie iemand soos Carika naby het wat jou kan leer nie, is dit so maklik om op Youtube of Google als te leer wat jy nodig het en so ook jou familie en vriende wat belangstel te help.”

Namate die projek momentum kry, sal die rimpel-effekte daarvan regdeur Pretoria gevoel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button