Local newsNews

Opperman glo ‘n eenmanstuk bly ‘n groot uitdaging

Gewilde en geliefde akteur takel nostalgie in eenmanstuk oor ou skoolmaats wat weer ontmoet.

Akteur Frank Opperman kom weer ’n paar nostalgiese are oopboor met sy eenmanstuk, Reünie, by ’n teater in Pretoria-oos.

Maar die oudleerling van Hoërskool Silverton is nie self noodwendig ’n reüniemens nie.

“Ek het nie besonderse lojaliteit aan enige skool nie. My ma was ’n onderwyseres en ek was in 11 skole,” vertel die geliefde en gewilde akteur.

Die gebore Johannesburger het skoolgegaan op Hermanus, Benoni, Worcester en Middelburg. Hy het in 1978 aan die Hoërskool Silverton gematrikuleer en was ook ’n leerder daar in graad 10 en 11.

Die eenmanstuk, geskryf deur Opperman se vriend van 20 jaar, Dana Snyman, kyk terug na die reünie van die 1980-klas van die fiktiewe Hoërskool Totius.

Opperman speel elke rol in die stuk en skuif telkens voor die mikrofoon in as ’n ander karakter uit die verlede wat sy lewensverhaal sedert skooldae vertel en dalk ’n onthulling of twee maak.

Hy tree ook as die verteller, Adam Boshoff, op wat sy maats aan die woord stel.

“Ek en Dana werk nou al 20 jaar saam. So kom die gedagte toe by my op om te kyk of nostalgie nog lewendig is. Het so gevoel dis die tydsgees. Dana het net self voor die skryf van die stuk van ’n reünie teruggekom en was self aan die dink oor sy skooldae,” verduidelik Opperman.

Die eerste vertoning van die Snyman-Oppermanspan was Die Uwe Pottie Potgieter.

Reünie se regie word deur De Klerk Oelofse gedoen met produksiebestuur deur Marie Vogts.

Die kreatiewe span se suksesresep kan Opperman nie in ’n neutedop vaslê nie.

“Ek en Dana lag en huil oor dieselde dinge en met hierdie stuk het ons weer besef hoeveel ons in gemeen het. Ons het in dieselfde era soveel eerstes beleef sowel as talle wedervaringe op dieselfde wyse maar tog ook anders ervaar,” sê Opperman.

Hulle het egter doelbewus gewaak dat die nostalgie en deernis in sentimentele melodrama en karikatuuragtige karakters ontaard. Die stuk is vol fyn selfspot.

“Ons doel was om weg te bly van ’n prekerigheid en om lessies aan die gehoor aan te gee,” lag Opperman. “Ons wou egter ’n glimlag op elke gesig in die gehoor plaas en mense met ’n goeie gevoel laat uitstap.

“Mense wil vandag ietsie in die teater gaan geniet wat hulle wel so effens laat dink, maar ook vermaak. Die vertolking en die uitvoering van ’n stuk wat dit regkry, is ’n kuns. Soos Willie Esterhuizen gesê het: Komedie is ’n ernstige saak,” glo Opperman.

Hy woon nou al ’n geruime tydjie in die karaktervolle Kaapse buurt, Woodstock, waar talle kunstenaars en musikante naby aan Kaapstad se middestad ’n holte vir die voet vind. Hy het na ’n verblyf van meer as 40 jaar in die Goudstad na die Moederstad getrek.

“Soms kan mens net nie nog ’n vlak hoër styg in ’n plek nie. Die Kaap is ’n rustige plek. Hier is nie juis slaggate nie. As jy weg van Johannesburg is, besef jy eers watter aaklige plek dit eintlik is,” meen Opperman. “Hier kan mens ’n meer eerlike lewe lei.”

Die uitdaging om volhoubaar geloofwaardig in ’n eenmanstuk op te tree, aand na aand, bly vir hom ’n uitdaging.

“’n Eenmanstuk is ’n allenige werk,” lag hy. “ Ek het darem nou al die ergste senuwees onder bedwang so na 20 minute in ’n stuk in. Partykeer dink ek daaraan om te maak of ek flou geval het en wil ek sommer net op die vloer bly lê,” spot hy.

Maar hiervoor is die talentvolle akteur ver te professioneel.

Opperman het as student drie jaar in Pretoria by die destydse Pretoria Technikon gestudeer en ’n Nasionale Diploma in Toneelspel behaal.

Hy was as die beste student in drama aangewys en het hiervoor ’n toekenning van die Pretoria Trust ontvang.

Hy het daarna vir twee jaar vir Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste gewerk en sy silwerdoekdebuut in ’n film Boetie gaan Border toe gemaak. Bewonderaars onthou hom veral vir sy TV-rol in die reeks Orkney snork nie.

Frank Opperman in die eenmantoneelstuk Reünie.

“Ek het my studies ook ernstig opgeneem al was ek moontlik nie altyd die mees verantwoordelike student nie,” sê hy laggend.

Hy sien uit na ’n nuwe stuk wat in Augustus by Aardklop bekend gestel gaan word maar verklap geen geheime soos of dieselfde kreatiewe span betrokke gaan wees nie.

“Ek sien reeds daarna uit. Dit gaan iets lekkers wees om te speel en vir gehore om te kyk.”

Reünie se speelvak is 15, 16 en 17 Mei by die Atterburyteater om 19:00.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button