Maak reg vir vanjaar se Innibos
Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees word vanaf 27 tot 30 Junie in Mbombela gehou.
Van die room van Afrikaanse akteurs is vanjaar op die verhoog by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te sien, en feesgangers wat uitgehonger is vir goeie, komiese en meesleurende toneelstukke kan van die beste aanbiedinge kies.
In ’n uiteenlopende verskeidenheid toneelstukke is onder andere Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Adriaan Havenga, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Louw Venter en Ben Albertyn te sien.
Innibos word vanaf 27 tot 30 Junie in Mbombela gehou.
’n Tema wat in meer as een van die stukke aan die bod kom is verhoudings, hetsy tussen pa en seun (Albatros), vreemdelinge wat meer van mekaar weet as te wagte (Forte), met die verlede en die self (Die vrou op die dak) en tussen ’n egpaar wat soos ’n Siamese-tweeling aan mekaar gegroei het en nie weet hoe om die toekomstige pad afsonderlik aan te pak nie (1 (Een)).
Sandra Prinsloo en David Ralph Viviers lewer ‘n kragtoer in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Dié ellelange titel verklap iets van die oorgang na die hiernamaalse wat toe glad nie so glad verloop vir die karakter Nora (Prinsloo) nie, maar eerder voel soos die administratiewe chaos van ’n staatsdienskantoor.
Viviers is ’n wenner van onder meer ’n Fleur de Cap-toneelprys, en het verlede jaar ook sy eerste roman die lig laat sien. Sy spel in Op die hoek... het teatergangers by die KKNK vanjaar se asems weggeslaan.
In 1 (Een) laat val Cindy Swanepoel haar mantel as sepiester en pak sy saam met Zak Hendrikz ’n komiese en magiese teaterstuk onder die ervare regie van Henriëtta Gryffenberg aan. Hulle is die paartjie Hiss and Hirr wat so aanmekaar vasgegroei het, en noudat hulle wil skei is dit ’n hengse probleem. Dit is ’n tong-in-die-kies-besinning of die mens ooit bestem is om sy ander helfte te vind.

Je-ani Swiegelaar is Die vrou op die dak wat haar lewe in oënskou moet neem wanneer sy moontlik alles – van man tot huis – gaan verloor. Tussen die bakleiery met die huisslopers, haar bure en omstanders, is die huis se dak haar toevlug. Daar lyk die blik op die wêreld darem anders, en bied dit dalk ’n uitkoms. Swiegelaar se spel in dié stuk is beskryf as “niks minder as buitengewoon en voortreflik nie”.
Daar was al heelwat verhoogdramas oor ma’s en dogters, maar minder oor die verhoudinge tussen pa’s en seuns. Dit kom egter nou onder die loep in Albatros met Louw Venter en Ben Albertyn, waar die twee mans woorde probeer vind terwyl hulle saam aan ’n boot bou. Dit is een van die vlagskipproduksies by vanjaar se Innibos.
Rika Sennett se toneelervaring kom tot sy volle reg in die drama Forte saam met Adriaan Havenga. Havenga is op sy beurt geen groentjie nie, en is in 2023 met twee Fiësta-toekennings bekroon. Hy was ook al in episodes van Die byl, Lui maar op Belinda en verskeie ander produksies te sien. In Forte is hy ’n vreemdeling wat by ’n wêreldbekende tjellis (Sennett) se deur opdaag met ’n geheim wat hy diep bewaar.
Die volledige Innibos-program is beskikbaar op innibos.co.za. Klik daar op die Ticketpro-skakel om kaartjies te bespreek. Buiten Die vrou op die dak is al die ander produksies deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief moontlik gemaak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
