Local newsNews

Vernuftige bonsai-kenners deel geheime

Die kuns om bome in houers te groei en as dwergboompies ten toon te stel, was deel van ’n interessante vergadering van ’n ingeligte groep plantliefhebbers.

Die vergadering en tentoonstelling van die Pretoria Bonzai Kai op 6 Julie by die Pretoria Botaniese Tuin het talle fasette en invalshoeke gehad.

Soos die botaniese kuns wat die klub beoefen, het die dag die drie waardes van die plantkuns vergestalt: waarheid, goedheid en skoonheid.

Daar was ook ’n uitstalling van lede se plantkunswerke met ’n wye verskeidenheid plante in verskillende style aangebied en tekenend van harde werk, kundigheid en kunssinnige aanvoeling.

Die tesourier, Bruce Carter, sê lede het gevoel dit sal net van pas wees om ’n gewilde en geliefde lid, Louis van der Walt, wat onlangs gesterf het, se jarelange bydrae tot die klub se werksaamhede asook sy bydrae op provinsiale vlak te herdenk. Daar is tydens die vergadering tyd afgestaan om aan hierdie bydrae erkenning te gee.

Van der Walt het met groot grasie sy kennis en voorliefde vir inheemse plante met die klublede tydens demonstrasies, tentoonstellings en vergaderings gedeel en was ’n pleitbesorger vir die aanbied van Bonsai-werk in tipiese Afrika-style soos die Pierneef-tradisie.

Carter is self ’n navolger van dié styl en het tydens die tentoonstelling een van sy plante in die styl aangebied.

Die styl is vernoem na een van Suid-Afrika se bekendste skilders, Jacobus Hendrik Pierneef, wat bekend was vir sy sambreelvormige aanbieding van veral doringbome op Suid-Afrikaanse landskappe.

Vir Carter gaan dit juis in hierdie meditatiewe plantkuns ook om te dink aan die stories wat rondom bome in die landskappe waar hulle tuishoort, ontstaan.

Sy gunstelinge om aan te werk is die Japannese esdoornboom en witstinkhoutboom.

Hy is ernstig oor die gebruik van die regte gereedskap tydens die vorming van die boom veral met die snoei en groei van die bome in ’n spesifieke vorm.

“Die regte stuk gereedskap beskadig nie die bas van die boom nie. So kan mens verhoed dat ’n litteken vorm,” gee Carter raad.

Die vergadering het tyd ingeruim vir die boekbekendstelling van een van die lede en bekende Bonzai-kunstenaar van Centurion, Liam M. O’Flaherty, se boek Growing South African trees as Bonzai.

Hy bespreek meer as 50 spesies bome wat jy in potte kan groei in die volkleur geïllustreerde boek van 162 bladsye.

O’Flaherty se indrukwekkende boek, wat ook as koffietafelboek gebruik kan word, wys illustrasies deur hom van hoe jy inheemse plante as bonsai kan aanbied sowel as hoe hulle in die natuur groei.

Hy verduidelik die boek is ’n spesiegroeigids waarin elke hoofstuk inligting oor een spesifieke spesie dra.

In elke hoofstuk behandel hy onderwerpe soos die wortelstelsel, siektes en groeigewoontes van ’n plant of boom.

In die laaste hoofstuk gee hy ’n opsomming rondom spesies wat nie omvattend bespreek word nie.

“Ek moes in ’n stadium my versameling bonsai-bome weer begin. Ek het inligting bymekaar begin maak om optimum resultate te kry en het veral op die versorging in die beste omstandighede konsentreer. Ek het enige inligting in my notaboek sowel as eie navorsing neergepen sowel as waarnemings rondom my bome. En toe, skielik het ek ’n boek gehad om te publiseer,” sê O’Flaherty.

Lede het tydens die vergadering ook meer by bonsai-kunstenaar en pottebakker van Heidelberg, Hannes Fritz, se gunstelingboom, die witstinkhout se versorging gehoor.

Fritz is welbekend in Bonsai-kringe wêreldwyd en het al demonstrasies by die agtste Wêreld Bonsai-konvensie gegee.

Vir die voorsitter, Org Oxley, is een van die groot voordele van hul klubbyeenkomste dat lede bome en plante kan ruil en deel.

Met elke byeenkoms is daar ’n tombola-tafel waar lede teen R5-kaartjies ’n nuwe aanwins tot hul plantversameling kan wen. Plante is ook te koop.

Nog ’n voordeel vir lede en die publiek is dat die klub ’n winkel het met plante en toebehore te koop. Die juweel van ’n koopplek vir plantliefhebbers is geleë op die terrein van die NG Kerk in Waverley.

Kliek hier om meer oor Liam m O’Flaherty se boek te sien:

https://web.facebook.com/groups/5809

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button