Musikale herinwyding met Bach vir legendariese orrel
NG Universiteitsoord se gerestoureerde pyporrel het tydens die herinwydingsplegtigheid plegtige en jubelende klanke laat hoor. Bach se “Wir danken dir, Gott, wir danken dir”, verwerk deur Marcel Dupré, het die geleentheid gepas as eerste lied op die gerestoureerde orrel gekenmerk.
Die klanke van ’n gerestoureerde legendariese orrel het Woensdag, 14 Oktober by NG Universiteitsoord in Pretoria ’n nuwe hoofstuk in die gemeente se musiekgeskiedenis ingelui.
Meer as 400 musiekliefhebbers het ’n feestelike herinwydingskonsert bygewoon waar die 59-jaar oue instrument weer amptelik in gebruik geneem is, ná ’n omvattende restourasie wat daarop gemik was om die orrel se besondere klank en plek in Pretoria se musiekerfenis te bewaar.

Die eerste note wat die bekende kerk gevul het was die musikale herinwydingslied, Wir danken dir, Gott, Wir danken dir van JS Bach, verwerk deur Marcel Dupré en gespeel deur dr. Isabelle van Rensburg, die gemeente-orrelis asook ’n bekende konsertorrelis.
Die werk, wat as deel van die herinwydingsplegtigheid uitgevoer is, het die geleentheid se tema van dankbaarheid en hernieude gebruik onderstreep. Die plegtige karakter daarvan het aangesluit by die betekenis van die geleentheid.
Ná bykans ses dekades van gereelde gebruik het die orrel in 2025 en 2026 ’n omvangryke restourasie ondergaan. Die werk is deur Pipe Organ Specialists onder leiding van Archie Devere uitgevoer.
Een van die hoogtepunte van die aand was prof. Theo van Wyk se vertolking van Prelude in E-mol majeur, BWV 552, deur Johann Sebastian Bach. Die werk het die orrel se vermoë getoon om ’n ryk verskeidenheid klanke op te tower en die ware omvang en karakter daarvan na vore gebring.
Die herinwydingskonsert het verskeie musici byeengebring, onder wie prof. Albert Troskie, Zanta Hofmeyr en Braam van Tonder. Die program, soos deur hul vertolk, het klassieke werke en verskillende kombinasies van instrumente soos viool en trompet ingesluit, met die orrel as die sentrale instrument.
Twee koraalverwerkings deur prof. Chris Lamprecht het deel van die program uitgemaak. Lamprecht is nou 99 jaar oud en woon in George.
“Die konsert was nie net ’n viering van die voltooide restourasie nie, maar ook ’n geleentheid om die instrument se voortgesette rol in eredienste en konserte te beklemtoon,” het Johann Muller, tydens die verwelkoming gesê. Muller is ’n lidmaat wat sedert sy studentejare dienste bywoon.
Die orrel is in 1967 deur Suid-Afrikaanse Orrelbouers (SAOB) gebou en word as een van die firma se belangrikste werke beskou. Dit is een van die groter kerkorrels in die land.
Die instrument is in 1967 deur die Mentz-familie aan die gemeente geskenk. Die orrel het destyds R10 000 gekos. Volgens Otto Diedericks, voorsitter van die gemeente se Finansiële Kommissie, word die waarde daarvan ná die restourasie op ongeveer R22 miljoen geraam.
Diedericks het die skenkers bedank wat sedert 2022 tot die projek bygedra het. Hy het ook erkenning gegee aan die orrelkomitee en die restourasiespan vir hul bydraes tot die voltooiing van die werk. Volgens hom is minder as die begrote bedrag van R3 miljoen vir die restourasie bestee.

Hy het sy dank vir die projek opgesom met die woorde: “Volle eer kom die Vader toe.”
Die omvang van die projek blyk uit die werk wat aan die instrument se duisende onderdele verrig is. Al 3 000 pype is in ’n stadium uit die orrel se hof- swel-, pedaal- en rugwerk gehaal en in ’n vertrek uitgepak sodat die nodige herstelwerk gedoen kon word.
Troskie, met wie se advies die orrel met knap vakmanskap in agt maande herstel is, verduidelik die herstelwerk het gefokus op die bewaring van die instrument en die herstel van sy funksionering en klank.
“Die doel was nie om die instrument se klank ingrypend te verander nie, maar om dit helderder te maak terwyl die bestaande klankidentiteit behoue bly.”
– Kliek hier om ‘n vertolking op video van Johann Sebastian Bach se Prelude in E-mol majeur, BWV 552 deur prof. Theo van Wyk te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel


