Local newsNews

Vroue-Landbou Unie help brandbestryders met bydrae

Pretoria-Noord se brandbestryders sal beter opgelei kan word en meer toerusting sal deur die vereniging aangekoop kan word, danksy 'n skenking van die VLU.

Die Vroue Landbou Unie in die noorde van Pretoria het hierdie jaar hul ondersteuning gerig op twee gemeenskapsorganisasies: die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV) en Wollies Diere-organisasie.

Tydens ’n funksie op 12 November het die VLU-voorsitter, Suzie Gerryts, ’n kontantdonasie aan Carel van Bosch, voorsitter van die vereniging, oorhandig.

Zenobia Loock-Du Plessis, ’n woordvoerder van die vereniging, sê die unie het tydens die oorhandiging groot waardering uitgespreek vir hul waardevolle bydrae tot die beskerming van lewens en eiendom in Pretoria en omliggende gebiede.

“Ons is dankbaar dat ons organisasie geïdentifiseer is as die organisasie wat die unie se guns geniet het in die afgelope jaar. Dankie dat julle ons behoeftes raaksien,” sê Loock-Du Plessis.

Sy verduidelik hierdie skenking sal die vereniging in staat stel om noodsaaklike toerusting aan te vul en opleiding uit te brei.

“Dit is lewensnoodsaaklik vir doeltreffende brandbestryding in die gebied. Deur hierdie inisiatief het die unie nie net finansiëel bygedra nie, maar ook hul verbintenis tot gemeenskapsveiligheid en die ondersteuning van noodorganisasies getoon,” sê Loock-Du Plessis.

Hester Botha van een van die nege takke van die unie wat met die insameling van die geld handjie bygesit het, sê die unie se lede is bewus dat onafhanklike vrywilligersorganisasies soos die vereniging afhanklik is van eie fondsinsamelings en nie enige hulp van die owerhede kry nie.

“Hulle doen so ’n groot en belangrike taak. Ons het gevoel ons moet hul hande sterk.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button