Local newsNews

Selfone nie welkom by vier Moot-skole

Vier skole in die Moot het beperkings op die gebruik van selfone deur leerders op skoolterreine ingestel.

Vier skole in die Moot is selfoonvry vir leerders verklaar.

Hoër Tegniese Skool John Vorster, die Gereformeerde Skool Dirk Postma, Hoërskool Oos-Moot en Hoërskool Wonderboom het onlangs amptelike kennisgewings aan ouers uitgestuur oor hul planne om selfoonvrye skoolomgewings te skep.

Hoërskool Oos-Moot het reeds op 11 September ouers ingelig dat die skool vanaf 1 Oktober die eerste fase van ’n selfoonvrye beleid sou implementeer.

Volgens Susan Theron, toesighoudende skoolhoof, is hierdie stap deel van die skool se doelwit om ’n positiewe leer- en sosiale atmosfeer te bevorder.

“Aandagafleibaarheid, die gebrek aan persoonlike interaksie, en die verspreiding van onbehoorlike inhoud is onder die redes waarom ons hierdie besluit geneem het,” verduidelik Theron.

Hoërskool Oos-Moot. Foto: Skool se webwerf

Leerders by hierdie skole moet hul selfone afgeskakel en weggebêre hou, selfs tydens pouses.

Indien ’n selfoon gesien word, sal dit gekonfiskeer word en kan dit eers ná twee weke teen ’n boete van R100 afgehaal word.

Die Gereformeerde Skool Dirk Postma sal vanaf 1 Januarie 2025 ook selfoonvry wees.

Volgens skoolhoof, Saskia Meijer, het ’n aanbieding deur dr. Anke de Beer, medeskrywer van The Digital Dilemma, die skool se besluit beïnvloed.

“Ons besef dat tegnologie ’n integrale deel van die lewe is, maar tieners raak te afhanklik daarvan,” sê Meijer.

Laerskoolleerders by Dirk Postma moet hul selfone soggens by die kantoor inhandig, terwyl graad 8- en 9-leerders hul fone in toesluitkaste bêre.

Graad 10- tot 12-leerders mag hul selfone hou, maar dit moet gedurende skoolure afgeskakel wees.

Die boete vir gekonfiskeerde selfone is R100.

Meijer voeg by dat hulle nie die inhoud wat leerlinge op hulle selfone het, by die skool kan kontroleer nie.

Hulle hoop dat hierdie besluit leerlinge sal aanmoedig om belangrike sosiale vaardighede aan te leer en nie hulself byvoorbeeld tydens pouses op hul selfone isoleer nie.

Op 18 November het Hoër Tegniese Skool John Vorster hul kennisgewing aan ouers gestuur.

Volgens Antoinette Dowd, skoolhoof, het verskeie gassprekers gedurende die jaar die gevare van selfoonmisbruik met leerders bespreek.

Die kennisgewing sluit navorsing in wat die negatiewe uitwerking van selfoongebruik op akademiese prestasie, geestesgesondheid en sosiale gedrag beklemtoon.

Internasionale studies toon dat hoë selfoongebruik swak akademiese resultate, verhoogde angs en selfs depressie tot gevolg het.

“Hierdie besluit is met deeglike oorweging en insette van die beheerliggaam geneem. Ons doel is om leerders se akademiese vordering en welstand te bevorder,” sê Dowd.

Marius Lezar, skoolhoof van Hoërskool Wonderboom, verduidelik met al die navorsing in ag geneem is die opsie tot die skool se beskikking om die status quo te handhaaf. Van selfone binne beperkings by die skool of om ’n verbod op selfone in die skool te plaas.

“Die konsensus onder bestuur en personeel is dat selfone nie meer in die skool toegelaat word nie,” sê Lezar.

Van die navorsing waarna hy verwys is ’n studie uit Spanje wat bevestig dat oormatige gebruik van selfone sleg is vir leerders se sielkundige gesondheid, deurdat dit geassosieer word met hoë vlakke van angs, verminderde selfbeeld en gevoelens van eensaamheid. Uitgebreide studies in China het dieselfde bevindings gekry.

Hy noem ook dat in Australië en Maleisië het navorsers bevind dat hoe meer leerders hulle fone gebruik het, selfs al was dit om leer by die skool te ondersteun, daar ’n beduidende verlaging in hulle gemiddelde graadpunt was.

“Waarom veroorsaak selfone ’n afname in leerders se punte ten spyte van die oënskynlike voordele wat dit kan hê in die klaskamer?

Die mees algemene gevolgtrekking wat navorsers maak is dat leerders hul vermoë om te kan multi-taak oorskat. Verder neem die omskakeling van een taak na ’n volgende tyd, moeite en energie. Die sogenaamde “multi-tasking” is onteenseglik as ’n mite bewys,” sê Lezar.

“Dit is nie vir kinders moontlik om ten volle betrokke te raak by klaskameronderrig, hul huiswerk of hersiening wanneer hul foon op bystand langs hulle is nie. Die blote teenwoordigheid daarvan is genoeg om hul aandag af te lei,” verduidelik Lezar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button