Local newsNews

Skikking bereik met regering oor Bela

Die skikkingooreenkoms waartoe partye ooreengekom het oor die Bela-wet maak ook voorsiening vir verdere ontwikkelinge oor moedertaalonderrig wat wyer strek as net Afrikaans.

Die Solidariteit Beweging het ’n skikking met die regering by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeidsraad (Nedlac) oor die Bela-dispuut bereik.

So sê die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Hermann.

Die betrokke partye is Solidariteit, die Presidensie en die Minister van Basiese Onderwys.

Nedlac het bevestig dat die dispuut opgelos is.

Volgens die skikking gaan die omstrede artikels in die Bela-wet nie meer op 13 Desember geïmplementeer word nie.

Hermann sê alhoewel die skikking ’n groot deurbraak is, lê harde werk nog voor.

“Die belangrike deurbraak is dat ons nou weer tyd aan ons kant het dat Afrikaanse skole waarvan die kapasiteit vol is, nie ’n instruksie sal kry oor taal en toelating nie. Dit is ’n groot verligting vir Afrikaanse skole,” sê Hermann.

“In hierdie tyd gaan hard gepraat word oor norme en standaarde en Solidariteit gaan ook moontlike wetswysigings voorstel. Skole hoef nie toe te laat dat hulle deur amptenare geboelie word nie,” meen hy.

“Dit alles sal deel vorm van ’n langsame proses waarin omvattende aanbevelings van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, aan President Ramaphosa gemaak word vir sy behoorlike oorweging.”

Werner Human, operasionele bestuurder van die Solidariteit Beweging, het aan Rekord bevestig dat norme en standaarde, nasionale beleide en regulasies, eers volgens die skikking ontwikkel moet word. Dit sal onder meer bepaal dat skole wat op hul volle kapasiteit is, nie instruksies mag ontvang om hul taal- en toelatingbeleid te verander nie.

Volgens hom is een van die faktore wat tot die deurbraak gelei het, die rol van die minister van onderwys in so ’n proses. Die minister se rol is om die datum aan te beveel waarop enige bepalings in werking gestel gaan word.

Volgens hom is dit die rol van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, as die primêre verantwoordelike persoon vir die portefeulje van basiese onderwys, om die behoorlike implementering van die Bela-wet te verseker. Dit sluit die maak van aanbevelings aan die president oor die inwerkingtreding van die wet in en om te verseker dat die implementering ondersteun word deur toepaslike nasionale regulasies, nasionale norme en standaarde en of nasionale beleide.

Die rol van die president met betrekking tot die Bela-wet is om die inwerkingtreding van die bepalings van die wet te bekragtig en om die aanvang van die bepalings af te kondig.

Human sê die bepalings van die skikkingsooreenkoms sal dus nou as so ’n aanbeveling deur die minister aan die president en die Regering van Nasionale Eenheid voorgehou kan word.

“Wat taal- en toelatingsbeleid betref, moet die onmiddellike omgewing van die skool en sy voedingsone, en nie die groter onderwysdistrik nie, in ag geneem word. Die uitvoering van die aanbevelings sluit nie die moontlikheid uit dat daar ’n behoefte mag wees vir toekomstige wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet nie,” sê Human.

Die skikkingsooreenkoms word deur die Solidariteit Beweging, AfriForum, die Solidariteit Skole-ondersteuningsentrum en die Afrikaanse Onderwysnetwerk ondersteun.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die skikkingsooreenkoms die uitkoms van ’n verskeidenheid van prosesse.

Dit sluit in gesprekke met Ramaphosa, onderhandelinge met politieke partye, insluitend die ANC, DA en VF+, die groot optog vanaf die Voortrekkermonument na Vryheidspark, gesprekke met tradisionele leiers, ’n proses by PanSAT en die Nedlac-proses.

“Die Bela-stryd is die belangrikste geveg waarby AfriForum sedert sy ontstaan betrokke was. Bela se bepalings oor skole se taalbeleid – sou dit geïmplementeer word – het ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe ingehou,” sê Buys.

“Dit is nie net Afrikaanse skole en kinders wat geteiken sal word deur die implementering daarvan nie, maar ook die strewe na moedertaalonderring vir alle kultuurgemeenskappe,” voeg hy by.

“Ons het reeds verskeie gesprekke met tradisionele leiers gevoer en dit is duidelik dat hulle die strewe deel dat kinders in hul onderskeie gemeenskappe onderrig in hul moedertaal ontvang.”

Buys bedank almal wat die veldtog teen Bela ondersteun het.

“Die oorweldigende steun van die publiek en die feit dat duisende mense aan die optog teen Bela deelgeneem het, het die deurslag gegee,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kriel verduidelik die skikking maak ook voorsiening vir verdere ontwikkelinge oor moedertaalonderrig wat wyer strek as net Afrikaans.

Dr. Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit), Elijah Mahlangu van die Gautengse provinsiale regering en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) tydens die Bela-optog.
Voorsitter van die Solidarteit Beweging Flip Buys en Minister van Korrektiewe Dienste Pieter Groenewald met die ondertekening van die memorandum wat aan die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie by Vryheidspark oorhandig is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Reitumetse Mahope

Reitumetse Mahope is a seasoned journalist overseeing digital content at Rekord. With close to a decade of experience in field reporting, Mahope captures compelling stories that inform, educate, and inspire. His expertise spans from hard news to heartwarming features, making him a valuable asset to the team.
Back to top button