Local newsNews

Centurion-tak rig sy visier op kabeldiewe

Volgens die buurttak se koördineerder, is kabeldiewe en rommelstrooiers kop in een mus.

Daar is ’n besliste verband tussen rommelstrooiing en kabeldiefstal in Centurion.

Só sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder: Groter Pretoria-Suid.

Hy bevestig dat daar dikwels in die omgewing waar kabeldiefstal gepleeg word, ook onwettige rommelstrooiing plaasvind sodat dit moeiliker vir die owerhede is om naby die misdaadtoneel te kom en so die diewe vas te trap.

“Die kabeldiewe is beslis kop in een mus met die rommelstrooiers,” glo Ungerer.

AfriForum se Centurion-tak wil met nuwe kameras in die Eldoraigne-omgewing seker maak kabeldiewe word gefnuik sodat die area tydens die Kerstyd nie sonder krag is nie.
Die Centurion-tak het reeds sterk bande met die metropolisie gesmee.

Hy wys daarop dat samewerking van die buurtwag en die metropolisie reeds onlangs in vyf gevalle rommelstrooiers boetes kon oplê in ’n poging om hulle te verhoed om in die toekoms hande met die kabeldiewe te neem.

Ungerer sien uit dat twee veiligheidskameras, wat onlangs in die omgewing van Eldoraigne geïnstalleer is, ook kan help om die rommelstrooiers en kabeldiewe te verhoed om saam te werk.

“Die uitbreiding van die bestaande veiligheidsnetwerk volg nadat groot dele van Centurion vier keer in een week sonder elektrisiteit gesit het weens kabeldiefstal,” sê Ungerer.

Dié AfriForum-tak het reeds in September ’n kamera by ’n substasie in die gebied opgerig wat gereeld onder diefstal deurloop. Met die byvoeging van nog twee wil ons seker maak dat die kabeldiewe vasgetrek word of ten minste te keer, sodat die Centurion-gemeenskap die feesseisoen nie in die donker hoef deur te bring nie.”

Centurion-buurtpatrollies van AfriForum poog om areas naby kabels skoon te hou. Foto: Verskaf

Hy verduidelik dat die nuwe kameras beweging kan optel wat kan wys waar die gate gegrou word en beweging daarrondom, soos die van die rommelstrooiers, kan monitor.

“Ons sien daarna uit om die gemeenskap by te staan sodat hulle nie meer gyselaar gehou word deur die kabeldiewe nie,” bevestig Ungerer.

Sy organisasie takel ook hierdie kabeldiefstalprobleem van die begin van die jaar af deur gereeld patrollies te doen.

“Die nuwe uitbreiding van die kameranetwerk sal help om ’n nog wyer area te patrolleer om kabeldiefstal hok te slaan. Almal in die gemeenskap gaan hul kant moet bring om hierdie vlaag van kabeldiefstal te stop, anders gaan die hele gemeenskap net weer in die donker gelaat word,” sluit hy af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button