Moot verklaar oorlog op onwettige vullisstorting
Die Moot moet vanjaar veiliger en skoner kom, meen ’n raadslid.
Verskeie instansies in die Moot het vanjaar oorlog verklaar op die stort van rommel op oop terreine, in waterkanale en in die veld.
Raadslid Mari Joubert van die Vryheidsfront Plus beywer haar nou al vir ’n geruime tyd om onwettige rommelstorting in die Moot te bekamp, maar sê vanjaar is dié jaar wat die Moot nie langer onder hierdie euwel van onnette buurte gaan ly nie.
“Ek is op die oorlogspad teen onwettige storting van veral bourommel en gewone tuinvullis in die Moot. Hierdie misdaad teen die gemeenskap is iets wat die metro miljoene rande elke maand kos. Die Moot gaan nie verder hieronder ly as dit van my afhang nie,” beklemtoon Joubert.
Die metro het verlede jaar R111.2-miljoen bewillig om onwettige storting in die 2024/2025-boekjaar op te klaar. Die stad het ook R30-miljoen bewillig vir afdwingingsmaatreëls en inisiatiewe teen onwettige storting. Die metro se totale begroting vir die 2024/25-boekjaar is R50.6-miljard.
“Ons gaan skuldiges vastrek met behulp van die metropolisie en boetes oplê. Dis veral die tuinvullis wat so in die veldjies gestort word wat my pla, en veral dan as inwoners dit op sypaadjies voor hul huise gooi. Ons gaan mekaar moet help om die Moot veilig en skoon te maak,” sê Joubert.
Sy moedig ook inwoners en ondernemings aan wat baie afval genereer om aansoek te doen vir bykomende metro-vullisdromme of vir die grootmaat-afvaldiens per e-pos by wastemanagement@tshwane.gov.za.

“Dit stel die metro ook beter in staat om sy pogings te vergroot om ’n skoon, gesonde en veilige omgewing te verskaf, terwyl kostedoeltreffende afvalbestuurstrategieë verseker word,” wys Joubert uit.
Sy is dankbaar vir haar span in die Moot soos Ida van der Burgh en Lizette Scholtz wat help om ’n oog te hou op sulke onwettige storting sodat dit by die metro aangemeld kan word.
“Ek wil ook ’n veer in die hoed gee aan die metro se spanne wat ons help om op oproepe te reageer en die departmente se amptenare wat rats en flink klagtes oplos. Die metro loop die ekstra myl vir die Moot wanneer dit by verwydering van onwettige vullisstorting kom. Dit keer dat ons buurte in die Moot verval en eiendomspryse daal. Fondse toegeken vir doeltreffende vullis en afvalverwydering kan ook meer doelmatig aangewend word as almal hul kant bring.”
Take wat volgens Joubert in 2025 aandag moet kry is die skoonmaak van straat- en sypaadjieslote, gras in veldjies en parke wat gesny en weggery moet word, sowel as afgebreekte boomtakke wat verwyder moet word.

Die burgerregte organisasie, AfriForum, se skoonmaakspanne spesialiseer juis in die verwydering van bome wat in storms oor die pad geval het, of reusetakke wat afgebreek het, sowel as die verwydering van onwettige rommel.
“Ons sal altyd help waar ons kan want ons dra die gemeenskap se belange op die hart. As daar bome omgeval het en takke gebreek en oor die pad geval het en die inwoners kom nie reg nie, sal die span help waar hulle kan,” sê Sampie Steinberg, woordvoerder van AfriForum.
Sy kollega, Dewet Ungerer, verduidelik dat ’n projek rondom onwettige rommelstorting in Centurion baie geslaag is. Die organisasie en die polisie het bevind dat onwettige rommelstrooiing dikwels gepaard gaan met kabeldiefstal. Informele herwinnaars word dikwels deur kabeldiewe ingespan om hul kabeldiefstaltonele met rommel te bedek, asook om as verklikkers oor moontlike kabelmisdaadtonele en wetstoepassing op te tree.
“Die installering van kameras naby moontlike kabeldiefstalpunte het ons nou ook gehelp om onwettige storting aan te spreek en die metropolisie daarvan in te lig. Dis ’n duur oefening, maar vorm nou ’n bloudruk wat in ander buurte toegepas kan word.”
Hy glo dat ’n aanleidende rede tot die onwettige rommelstorting die tekort aan vullisstortingsterreine in buurte is.
“Die terreine wat wel beskikbaar is, is ook nie op standaard nie. Hoe dit ook al sy, onwettige storting en substandaard-vullisterreine hou vir almal gesondheidsrisiko’s in.”
Die buurtverbeteringsprojek, die Moot Projek, se spanne konsentreer veral sedert September verlede jaar daarop om spruite en waterkanale skoon te hou van onwettige vullisstortings.
Hennie Mostert, mede-stigterslid van die projek, sê dat sedert September het die projek met die hulp van die metro 681 sakke onwettig gestorte rommel verwyder.
In Desember is daar gekonsentreer op die Suidspruit sowel as die Noordspruit in verskeie van die lane, sowel as Nico Smitstraat.
“Ons is dankbaar vir alle borge en spanne wat gehelp het sowel as die metro wat die sakke weggery het,” sê Mostert.
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die metro is dankbaar en gewillig om hande te vat met inwoners en organisasies om buurte te verlig van die las van onwettige rommelstorting.

“Ons waardeer al die hulp om ons pogings aan te vul. Ons het ’n verbintenis aan gemeenskappe soos die Moot, om te sorg dat onwettige rommelstorting nie ’n las vir ’n buurt of ’n straat of ’n inwoner word nie.”
Onwettige rommelstorting moet by die Tshwane-metropolisiedepartement by 012 358 7095 aangemeld word.
Die boete vir onwettige storting beloop tot R60 000 en die maksimum tronkstraf is drie jaar. Die metro kan ook die koste van die skoonmaak van die afval en enige administratiewe of regstellende koste verhaal.
Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
