Local newsNews

Bring hondelisensies terug, vra raadslid

’n Raadslid van Pretoria-Noord gaan haar proaktief beywer vir die herinstelling van hondelisensies. Rina Marx van die Vryheidsfront Plus glo wetstoepassing rondom sulke lisensies kan ’n oplossing bied om verskeie van die beheer- en ander gemeenskapsprobleme rondom hierdie diere die hoof te bied. “Ek gaan dit my werk maak om vanjaar ’n voorstel aan die …

’n Raadslid van Pretoria-Noord gaan haar proaktief beywer vir die herinstelling van hondelisensies.

Rina Marx van die Vryheidsfront Plus glo wetstoepassing rondom sulke lisensies kan ’n oplossing bied om verskeie van die beheer- en ander gemeenskapsprobleme rondom hierdie diere die hoof te bied.

“Ek gaan dit my werk maak om vanjaar ’n voorstel aan die raad voor te lê waarin hondelisensies teruggebring moet word om beter beheer oor die probleme rondom die besit van honde te kry. Ek het nou genoeg gehad van mense wat diere mishandel en laat verhonger omdat daar te veel honde op ’n werf is, skuilings wat oorloop omdat daar oorteling is, sterilisasies wat agterweë bly, en gesondheidsprobleme wat met diere ontstaan omdat inentings nie gedoen word nie.”

Marx beoog R50 per hondelisensie met ’n glyskaal vir honde wat gesteriliseer is en daarvoor afslag kry.

Die fondse, glo sy, moet geoormerk word om dierewelsynsorganisasies te help om mishandeling te bekamp, oorteling deur sterilasies te voorkom, inentingsprogramme vir aansteeklike siektes soos hondsdolheid in werking te stel en wetstoepassing rondom lisensies moontlik te maak.

Sy is deeglik bewus van die teëstand wat sy haar op die hals mag haal.

“Ek weet nou gaan mense argumenteer maar dan gaan honde-eienaars dalk nog meer hul honde op die straat gooi. Dit hoef nie so te wees nie. Net soos die stadsraad voorsiening maak vir ’n begrotingsbedrag vir behoeftiges met water of krag, kan hierdie lisensies gesubsidieer word deur die metro of vrystelling kan gegee word. Die kwessie is om beheer van die ontploffing en die probleme daardeur veroorsaak te kry. Wat jy kan tel, kan jy bestuur,” meen sy.

Marx, ’n voormalige traumabestuurder, het onlangs na die vloede bewusmaking geskep rondom oorstromings wat by ’n diereskuiling plaasgevind het. Hierdie besoek het haar gemotiveer om haar planne vir die voorstel te stroomlyn.

“Ek glo as mense nie omgee vir diere nie, gee hulle ook nie om vir mense nie. As jy nie ’n dier kan of wil help nie, gaan jy bes moontlik ook nie jou buurman help nie.”

Marx verwag ook dat die argument teen haar kop gegooi gaan word dat daar nie genoeg wetstoepassers is om die hondelisensies te polisiëer nie.

“Ek weet mense steur hulle nie aan bywette nie en die wetstoepassing daarrondom is moeilik omdat Pretoria juis so groot is, maar iewers moet ons begin.”

Sy stel voor dat ’n steekproefprojek afgeskop word en om die staatsveearts te betrek.

Raadslid Rina Marx

“Ons sal ook navorsing moet doen om te sien op welke manier kan ons die fondse gebruik om honde te steriliseer en in te ent teen siektes soos hondsdolheid. As daar bywette is wat aangepas moet word, dan sal ons die navorsing daarrondom moet doen,” glo Marx.

Die Hessequa-munisipaliteit in die Wes-Kaap het onlangs hondelisensies ingestel teen R250 vir ’n ongesteriliseerde reun, R349 vir ’n ongesteriliseerde teef en ’n gesteriliseerde reun of teef teen R54.

Wetstoepassingsbeamptes besoek huise. Honde-eienaars sonder lisensies kry ’n kans om een uit te neem.

As daar by die tweede besoek nog nie ’n lisensie verkry is nie, word ’n skriftelike kennisgewing uitgereik om ’n lisensie binne ’n sekere tydperk te kry. As die vereiste nie nagekom word nie, kan ’n boete opgelê word.

’n Bekende kampvegter teen hondsdolheid in Pretoria, waarvan die bekampingsprogram teen hondsdolheid al vir ’n internasionale toekenning benoem is, Werna Venter van die Moot, ondersteun Marx se plan.

“So kan ons ook meer beheer kry oor die inenting van honde teen hondsdolheid deurdat ’n eienaar net ’n lisensie kan kry indien die regte inentings gedoen is. Enting van huisdiere is baie belangrik. Om te dink dat jou diere nie hondsdolheid kan kry omdat jy in die stad bly, is nie gewaarborg nie. Meerkatte en knaagdiere beweeg vrylik rond vanuit randjies die stad in. Hul is draers van hierdie dodelike virus en kan honde byt. Volgens wet moet jou diere elke drie jaar geënt word teen hondsdolheid,” benadruk Venter.

Bekende kampvegter teen hondsdolheid in Pretoria, Werna Venter.

Sy glo dat die toepassing van huidige bywette rondom honde ook makliker deur verpligte hondelisensies gemaak kan word.

Tans mag daar binne die metro se area ’n maksimum van drie honde en drie katte per erf besit word.

“Strenger wetstoepassing hierrondom kan daartoe lei dat daar minder straathonde is, dat honde gesteriliseer word en dat daar nie soveel druk op diereskuilings is as gevolg van onbeheerde aanteling nie. Daar kan ook so ’n einde gemaak word aan hondetelers wat wins bo die gesondheid en welsyn van honde prioritiseer,” glo Venter.

Vir Venter, wat ’n familielid in Julie 2016 verloor het deur kontak met ’n hondsdol dier, is daar ’n verdere bykomende voordeel.

“Die metro hoef nie net hul eie wetstoepassers te gebruik nie. Hulle kan ook van die geld uit die hondelisensies gebruik om inspekteurs van dierebeskermingsverenigings te betaal om die polisiëring van die hondelisensies toe te pas. Die plig van ’n diere-eienaar om ook op hierdie manier te sorg dat sy dier wettig en met al die inentings op sy erf is, is ’n goeie wegspringblok vir die aanleer van verantwoordelike diere-eienaarskap.”

Venter het die Carlie – Rooivlag Hondsdolheid Bewusmaking organisasie daarna gestig en help met bewusmaking rondom die dodelike siekte.

Tipies word vyf tot tien gevalle van menslike hondsdolheid per jaar in die Nasionale Instituut vir Aansteeklike Siektes se laboratorium bevestig.

Lees ook: Spend time with animals and consider adoption during the festive season as Wollies face an influx

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button