Local newsNews

Inwoners kwaad oor leë Wapadrand-substasie beloftes

Van die belofte dat die Wapadrand-substasie in Oktober in werking gestel sal word het daar tot inwoners van Pretoria-oos se ontsteltenis min gekom.

Inwoners in Pretoria-oos en veral in Faerie Glen is ontstoke omdat daar niks gekom het van die metro se belofte dat die Wapadrand-substasie in Oktober 2024 in gebruik geneem sou word nie.

Hulle ondervind nog gereeld kragonderbrekings wat soms tot 12 uur op ’n slag duur.

Hierdie inwoners vra vrae omdat daar aan hulle gekommunikeer is dat die substasie teen einde Oktober 2024 voltooi sal wees.

“Dis veral een van die 132 KVA transformators wat gereeld probleme gee en die stroombrekers laat uitskop, wat ons hoofbrekens besorg,” sê ’n inwoner wat anoniem wil bly.

“Ons het as gevolg van die krag wat uitskop (trip) verlede jaar kragonderbrekings gehad op 14 November, 4 Desember en 12 Desember. Hierdie beloftes was niks werd nie.”

Die huidige burgemeester, dr. Nasiphi Moya, het destyds toe sy nog adjunk-burgemeester was tydens ’n besoek aan die substasie op 16 Mei beklemtoon dat die werk aan die substasie onder die leiding van die nuutgevormde kapitaalprojekkomitee geskied.

Moya het op 17 Mei in ’n mediaverklaring gesê sy is die versekering gegee tydens ’n terreinbesoek dat die projekvoltooiing se sperdatum einde Oktober sou wees.

Sy het ook bevestig dat die komitee sou toesien dat die R50-miljoen toegeken volgens die metro-begroting vir die opknapping van die Mooikloof- en Wapadrandubstasies, doelmatig aangewend sal word.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo het slegte nuus aan inwoners bevestig.

Hy sê die metro werk toegewyd om wel die Wapadrand-substasie so gou as moontlik in diens te stel.

“Die werk wat tans gedoen word, sal verseker dat teen die tyd dat die metro die winterlading aan die gebiede moet lewer, die nuwe substasie operasioneel sal wees,” het Mashigo aan Rekord bevestig.

“Die werk sal hopelik binne die huidige finansiële jaar afgehandel word en binne die begroting van die finale fase van die projek.”

In Maart 2022 het die metro die R134-miloen Wapadrand-substasie opknappingsprojek aangekondig wat ’n einde aan kragonderbrekings as gevolg van voortgesette brande by die stasie sowel as meganiese foute sou moes maak.

Verskeie gemeenskappe in Pretoria-oos was toe reeds vir weke aan kragonderbrekings blootgestel.

Twee brande by die substasie het ’n ernstige impak op dienslewering van krag aan Pretoria-oos gehad.

Die eerste brand het op die oggend van 10 Julie 2018 uitgebreek en inwoners vir meer as ’n week sonder krag gelaat. ’n Tydelike substasie is gebou.

Die tweede brand het op 17 Julie 2021 uitgebreek na ’n ontploffing by die substasie. Inwoners in Faerie Glen, Equestria, Olympus, Silver Lakes en omliggende buurte was ses dae sonder krag, ’n gebeurtenis wat hom telkens sou herhaal.

Voormalige burgemeester Randall Williams het op 3 Maart 2022 aangekondig dat ’n nuwe substasie gebou sal word. Die voorstelle was dat die bestaande gebou herbou word, dat ’n nuwe substasie gebou word om drie 11kV-panele te huisves sowel as ’n 35MVA transformator in diens gestel word en ’n sekuriteitswagkamer daargestel word.

Na ‘n ontploffing op 22 Julie 2021 was groot gedeeltes van die Wapadrand-substasie onbruikbaar gelaat. Foto: Rekord-argief

Die projek sou drie jaar lank duur.

In sy Stadsrede in 2024 het die voormalige burgemeester Cilliers Brink die dringendheid om deurlopend in die onderhoud van infrastruktuur soos substasies te belê, beklemtoon en aangekondig die herstel van die Wapadrand-substasie se panele is vir Junie 2024 geskeduleer.

Projekvordering is egter volgens Mashigo deur verskeie faktore gekortwiek.

Hy skryf die vertraging in die aflewering van die voltooide projek deur die kontrakteur veral toe aan die stad se finansiële beperkings.

Volgens hom het hierdie faktor gelei tot die vertraging deur die projekkontrakteur om die 11kV-skakelratte van die oorspronklike toerustingvervaardiger te bestel en af te lewer.

Volgens Mashigo het die metro ’n proses begin om die kontrak met die kontrakteur op ’n maand tot maand-basis te verleng vir ’n tydperk van hoogstens agt maande (vanaf November 2024).

Die stap is geneem om ’n bruikbare substasie teen die oorspronklike kontrakprys in gebruik te stel.

Op 10 Julie 2018 het die Wapadrand-substasie aan die brand geslaan. Foto: Rekord-argief

Hy het bevestig die vordering tot op datum (8 Januarie) is soos volg:

– Die installering van beheerpanele se kabels vir fase C se skakelratte is voltooi.

– Die installering van hoëspanning-skakelstasies om gerieflike verbindingspunte vir beheer-, beskerming- en instrumentasiestelsels te verseker, is voltooi.

– Die voorsiening en installering van transformatorkragkabels is afgehandel.

– Die installering van meerkernkabels vir transformator A en C is klaar.

– Opdrag is gegee vir die inwerkingstelling van 11kV panele en 132kV beskermingspaneel.

“Die volgende belangrike fase sal wees om die substasie in gebruik te neem en te verseker dat die beskermingstelsel met alle substasies stroomaf sinchroniseer,” sê Mashigo.

LEESLaw enforcement keeps Pretoria streets clean of criminals

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button