Hotel met gym gekoop as kantore vir polisie
‘n Ondersoek is deur die land se intelligensie-base ingestel na die aankoop van ’n boetiekhotel in Ninapark wat glo vir gebruik deur die polisie se misdaadintelligensie-eenheid aangeskaf is.
’n Ondersoek sal geloods word na die aankoop van ’n boetiekhotel in Ninapark in die noorde van Pretoria vir gebruik deur die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.
Die nasionale kantoor van die inspekteur-generaal van Intelligensie sal die ondersoek behartig.
Daar is meer as R22-miljoen vir die aankoop van die hotel met multiverdiepinggeboue en losstaande eenhede betaal, volgens die DA se parlementslid en woordvoerder vir staatsekuriteit, Dianne Kohler-Barnard.

Tans staan die eiendom leeg en is die heuwelagtige terrein oorgroei met onkruid en bosse.
Alhoewel daar ’n stewige veiligheidshek is met ’n toegangsbeheerkontrole, is gedeeltes van die muur rondom die eiendom skaars ’n meter hoog en toegang kan maklik vanaf die straat verkry word.
“Die polisie het nou behoorlik vir hulle ’n kat in die sak gekoop,” het een van die bure in Grafenheimstraat aan Rekord gesê toe ’n inspeksie ter plaatse gehou is.
Die buurman verkies om anoniem te bly, maar is deeglik bewus daarvan dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid wel die boetiekhotel en eiendom gekoop het. Hy bevestig dat die terrein in ongebruik verval het nadat die hotel gesluit is.

Die hotel is vantevore deur veral sakemanne gebruik wat in nabye Rosslyn besoek aan hul maatskappye gebring het.
’n Versoek is deur Kohler-Barnard aan die inspekteur-generaal se kantoor gerig rondom bewerings dat die eiendom se aankoop nie doelmatig is vir gebruik deur die polisie nie.
Sy glo die geld kon beter aangewend word.
“Die hotel het byvoorbeeld vier eetkamers, ’n gym en ’n swembad. Dit bekommer my dat so ’n aankoop gemaak is terwyl polisie-offisiere, ook die senior offisiere in misdaadintelligensie, vanuit vervalle kantore met gebreekte meubels moet werk. Sommiges moet glo selfs vanaf hul karre werk,” meld Kohler-Barnard.
“Het die misdaadintelligensie-eenheid by die minister van openbare werke en infrastruktuur gaan aanklop om ’n gebou en terrein te vind wat reeds beskikbaar is en benut kan word deur die offisiere van die misdaadintelligensie-eenheid van die polisie?
“Dit sou tog meer sin maak om ’n eiendom uit te kies wat reg is vir die doel waarvoor dit moet dien, naamlik kantore, in plaas daarvan om geld op ’n boetiekhotel te spandeer?” vra Kohler-Barnard.
Navrae gerig aan die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean McPherson, het bevestig dat die polisie nie ’n versoek vir die beskikbaarstelling van ’n eiendom vir die gebruik as kantore tot die departement gerig het nie.
“Ons was nie gemoeid met die aankoop daarvan nie. Ons was ook nie bewus van die aankoop nie,” sê ministerswoordvoerder James de Villiers.
Kohler-Barnard is verder bekommerd omdat die aankoop, alhoewel dit reeds in Oktober 2024 gemaak is, nie wys op dokumente van die November-vergadering van die polisie se parlementêre portefeuljekomitee nie.
“As dit bedoel was om ’n geheim te wees, miskien vir ’n spesifieke intelligensie-oefening, het hulle nie in hul doel geslaag nie, aangesien die inligting nou openbare kennis is,” verduidelik sy.

Kohler-Barnard is bly dat haar versoek aan die inspekteur-generaal vir intelligensie ’n volledige ondersoek tot gevolg gehad het.
“Ek vertrou dat die inspekteur-generaal se kantoor alle aspekte van die aankoop sal ondersoek om te verseker die proses het wettiglik verloop,” sê Kohler-Barnard.
ActionSA het ’n beroep op die Onafhanklike Polisiedirektoraat gedoen om die aankoop te ondersoek.
ActionSA parlementslid, Dereleen James, glo die aankoop is ’n wanaanwending van fondse geoormerk vir koverte projekte.
“Dit kom neer op misbruik van polisiebronne,” meen James.
Navrae is aan die minister van polisie se kantoor sowel as die kantoor van die inspekteur-generaal van intelligensie en aan Ian Cameron, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisiesake gerig, maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
