Local newsNews

Liefde 101: Kan jy op ‘n sloertoer smoorverlief raak?

Agt deelnemers op soek na liefde vat die pad uit Johannesburg na Mosselbaai in 'n paar skofte en ontmoet vreemdelinge as reismaats. Maar is daar liefde op die horison?

So in die liefdesmaand rondom Valentynsdag, wonder diegene met ’n romantiese streep dalk of mens liefde kan vind tydens ’n sloertoer (road trip) van 1 200km in ’n goeie kar saam met ’n aartsvreemdeling?

Twee Pretorianers uit Pretoria-oos het ook hieroor gewonder en deel geword van ’n werklikheids-TV-reeks waartydens hulle van Johannesburg via Bloemfontein en Beaufort-Wes na Mosselbaai sou reis in skofte van agt ure.

Daar was agt reismaats en hulle sou om die beurt saamry tydens die maak van die reeks, Langpad na Liefde op DStv-kanaal 147.

Hulle sou elk een skof saam met iemand van die teenoorgestelde geslag deurbring.

En dis dalk net waar die probleme kan inkom, dink jy vinnig, want mense se bestuurstyle verskil.

Daar was juis een deelnemer, Marrita Carrick van Kaapstad, wat nie ’n man wat stadig ry en weier om uit die pad te te skuif, kan verdra nie.

Gazelle Kruger (22) van Johannesburg vertel sy ken omtrent 75% van alle Afrikaanse liedjies uit haar kop – en ja, sy het besluit om die repertoire deur te werk tydens die reis of haar reismaat nou saamsing of nie!

Na ’n reisskof sou hulle op ’n prettige uitstappie in die omgewing uitgaan.

Nou ja, nie alle mense se idee van pret op ’n uitstappie is ook dieselfde nie.

Daar is talle romantiese moets en moenies wat in agt ure op ’n oop pad en tydens ’n uitstappie kan inspeel op jou hartsake.

Henrico van den Berg is ’n 28-jarige deelnemer van Pretoria-oos aan die reeks. Hy was vooraf doodseker oor wat hy in ’n liefdesmaat wil hê.

“’n Vrou wat my avontuurlustige gees deel en nie nee sê vir ’n lekker rugkrappie in die aand nie! Ek is ’n bok vir sports, maar as jy ’n negatiewe houding het en nie mooi na jouself kyk nie, dan verloor ek vinnig belangstelling,” sê hy.

Henrico van den Berg van Pretoria-oos.

Die reeks is reeds verlede jaar opgeneem, maar word nou Saterdagaande uitgesaai.

Van den Berg wil nie veel weggee oor wat die einde behels het en of een van die maats wat liefde gesoek het, dit gevind het nie.

“Wat kan ek sê? Ek het weer geleer die liefde is veel meer as om ’n bestemming te bereik, maar die reis op pad soontoe kan ook interessant wees,” vertel hy sonder om enige geheime te verraai.

Die geborgde motor waarin hulle die lang pad gevat het, was vir hom “nogals oulik. Dit was ’n baie lekker kar. Ek kan die kar net goedpraat”.

Hy meen dat hy wel met die regte houding die pad en die ervaring aangepak het. “Ek moet eerlik wees. Ek het gedink ek kan dalk ’n meisie so na my hart vind.”

Hy lig darem die sluier so effens en vertel: “Van my kant was daar nou nie ’n hart wat gewen is nie, maar met van die ander deelnemers is daar iets wat dalk nie nou liefde is nie, maar miskien liefde kan word.”

Hy het wel al vier sy skofte saam met sy reismaats geniet.

“Ek het vriende gemaak met die ander mansdeelnemers en die meisies. Sulke goeie vriende, dat mens regtig sommer weer eendag oor en weer sal kuier. En dit opsigself sê veel van hoe lekker die ervaring vir my was.”

Vir Chanté Schoeman, ’n reis- en funksiebeplanner van Pretoria-oos, was deelname aan die program “een van die beste ervarings van my lewe!”

Sy erken sy het ’n voorliefde vir grappies en is vol energie.

“Ek soek ’n man met ‘Golden Retriever Energy’, wat vir my grappies lag. Maar as jy reptiele as troeteldiere het of vuil naels? Jammer, jy’s uit!”

Sy glo haar liefde vir avontuur het haar die perfekte reismaat gemaak.

Sy glo sou sy kon kies, sou sy weer ’n vreemdeling in ’n motor beter wou leer ken.

“Agt ure saam in een ruimte kan nogals lank word, maar indien mens net op mekaar aangewese is, konsentreer jy nogal. Eers gesels mens oor die beuselagtighede en die klein dingetjies. Hoe langer jy ry, hoe dieper word jou gesprek want jy kan mos nou nie iewers heen gaan nie. Ek dink mens kan mekaar beter leer ken op so rit as met ’n uitstappie.’

Vir haar gaan dit oor konneksie.

“Ek dink as mens ’n band met iemand knoop, moet jy oor gewone goed, maar ook oor diep goed kan gesels sodat jy kan sien of daar raakpunte is.’

Maar net soos Van den Bergh gee sy nie veel meer weg nie.

Sy het egter haar uitstappie met haar reismaat by die olifantplaas op die Tuinroete ook geniet.

“Dit was tog ook pret om bietjie uit die kar te kom en saam met iemand ’n uitstappie soos met ’n regte afspraak te kan hê. Die olifante was iets besonders!”

OOK GELEES:Pretoria zoo leads global efforts to combat species extinction

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button