Local newsNews

Talentvolle pianis die stil krag agter menige opvoering

Paul Ferreira glo in sy rol as begeleier moet hy seker maak die sanger en die musiek sowel as die teks moet tot hul reg kom.

Paul Ferreira het al as repétiteur, stemafrigter en repetisiepianis vir verskeie kunstenaars opgetree, maar wanneer dit kom by die regte woord vir sy nering, dan is die woord “begeleier” vir hom heel aanvaarbaar.

“Die afgelope paar jaar is daar twee groot denkrigtings met klavierbegeleiding.

Baie musikante voel met die term begeleier is so ’n musikant onderaan die sanger geskik en diegene verkies die benaming samewerkende pianis sodat dit op ’n 50-50 vennootskap dui,” sê Ferreira.

“Sommige mense neem my kwalik, maar ek is nog deel van die ou skool. Ek glo dat die begeleier wel ’n ondersteunende rol het.

Vir my is dit soos films waar daar ’n hoofrol en ’n ondersteunende rol is waar die sanger tot haar reg moet kom deurdat ek genoegsame ondersteuning bied sonder om oorheersend te wees.

Vir werke vir stem en klavier moet dit vir my ’n 70 tot 30% vennootskap wees.”

Ferreira is bekend vir sy deelname in verskeie hoedanighede aan werke en opvoerings van eertydse kunsterade, die Vrystaatse Universiteit, Opera Africa, Gauteng Opera en Kaapstad Opera-produksies.

Dit sluit in The Medium (Menotti), Don Giovanni (Mozart), Ein deutsches Requiem (Brahms), Madame Butterfly (Puccini), Le nozze di Figaro (Mozart), Ziyankomo and the Forbidden Fruit (Mnomiya), Große Messe in c-Moll (Mozart), L’elisir d’amore (Donize Zamore, Rigol (Mozart) en Tigerbaai (James).

“Ek het in die negentigs nog as student in Bloemfontein vir Madama Butterfly-oudisies gespeel.

Paul Ferreira, Michelle Veenemans en Miloslav Chakaryan Foto: Elize Parker

“Ek het in die negentigs nog as student in Bloemfontein vir Madama Butterfly-oudisies gespeel. Neels Hansen van die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste was die regisseur en het my na Pretoria genooi om al die repetisies van die destydse produksie van Lucia di Lammermoor te doen.

Dit was ’n waardevolle leerskool vir my en gelei tot projekte as repétiteur, sowel as koormeester vir Kaapstad-teater, Jozi Opera Opera Africa en Brooklyn Teater,” vertel Ferreira.

As musikale regisseur kan hy onder meer produksies van Grease, Cinderella en Guys and Dolls tot sy krediet voeg.

“Ek is al lank in die bedryf en het deur die jare plaaslike genres my fokus gemaak sowel as om sangers eerder as instrumentaliste te begelei en veral dan in die genres van opera, operette, musiekteater, kunsliedere en kabaret.”

Ferreira het ’n BMus-honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Hy het ook sy Uitvoerende Lisensiaat in Vokale Begeleiding (cum laude) van Unisa ontvang.

Hy neem dikwels deel aan meestersklasse deur bekende internasionale kunstenaars soos Dalton Baldwin, Helmut Deutsch, Michelle Breedt, Richard Shaw, Brenda Rein en John Whitelaw.

Paul Ferreira, Michelle Veenemans en Miloslav Chakaryan.

Verder het hy vokale opleiding by die sopraan Hanna van Niekerk ontvang en het, met lof, sy graad 8 Vocal Performance Examen by die Associated Board of the Royal Schools of Music voltooi.

“In watter hoedanigheid ek ook al voor die klawers inskuif, glo ek my rol as begeleier is om die teks te laat lewe en die boodskap, atmosfeer en karakter aan die gehoor te kan oordra.”

Groot geeste in die musiekwêreld inspireer hom. Hy haal graag die Amerikaanse liriese bariton, Thomas Hampson, aan.

“Hy het gesê: ‘We don’t present our voices to the audience. We resonate out souls’. Ek probeer dit altyd toepas wanneer ek begelei.”

Hy glo ook daaraan dat dit die musikante se rol is om altyd eksterne struikelblokke uit die weg te ruim sodat die fokus op die musiek kan wees.

Na jare se ervaring is die werklikheid vir hom as musikant dat als verloop nie soos mens beplan nie.

“Aanpasbaarheid is belangrik vir ’n musikant. Die gehoor kan nie betrek word by wat verkeerd gaan op die verhoog nie. Alhoewel dit nie altyd moontlik is nie, moet dit lyk of als seepglad verloop.”

Pretoria-gehore is wel gewoond dat produksies waarby Ferreira en die sopraan, Michelle Veenemans, betrokke is, dikwels ’n foutlose kragtoer is soos hul konsert op 16 Februarie met die tema Spirituals – The Art of the Afican-American Gospel Song.

“Ek ken vir Michelle goed. Die Veenemans-soprano’s ken die kuns om jou te laat ontsnap van jou daaglikse probleme en deel te word van ’n ander wêreld waar als mooi en goed is.

Dit is nie net Michelle se verruklike stem en vokale vaardighede wat gehore gaande het nie, maar ook haar sin vir die teatrale om inhoud en literêre waarde aan die teks te gee. Sy is ’n merkwaardige kunstenaar.”

Vir hom is Amerikaanse Spirituals van die eerlikste komposisies wat bestaan.

“Dis verstommend hoe meeste van die werke oorgelewer is van generasie tot generasie. As mens bietjie agtergrondkennis het oor die haglike omstandighede van hierdie individue tydens die ontstaan van die liedere, roer dit jou hart.”

Hy vertel sy pa, Pieter, was veral lief vir Marian Anderson se opnames van spirituals.

Dis juis sy pa wat by Ferreira ’n liefde vir musiek gekweek het. Hy het op ’n jong ouderdom met klavierlesse begin met sy ouma Salomé as sy eerste klavieronderwyser.

“Sy het ’n onbeskryflike liefde vir musiek by my gekweek. My pa was self ’n baie goeie sanger en ons het dikwels by damestees en gesellighede opgetree van so vroeg as was ek kan onthou,” vertel hy.

Hy het ’n besige jaar wat vir hom voorlê met optredes saam met Naledi-wenner Daniel Andersen in sy bekroonde musiekblyspel, Vincent: The Cabaret, wat die lewe van die bekende Nederlandse skilder Vincent Van Gogh meesterlik deur ’n boeiende kabaret oordra, sowel as optredes by kunstefeeste.

Ferreira en Veenemans se optrede in Spirituals – The Art of the Afican-American Gospel Song vind vandeesmaand by Nazareth House-kapel in Pretoria-oos plaas.

LEES OOK: Jukskeiklub het groot planne vir 2025

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button