News

Fietspatrollies laat wiel nou in Eersterust

'n Staatmaker in die Eersterust-polisiekantoor se hande is gesterk deur die skenking van ses fietse om veiligheid in die buurt op te skerp.

Die strate in Eersterust sal vanaf Maandag, 24 Februarie veiliger wees.

So sê Barbara Meyer, koördineerder van die vrywilligers by die Eersterust-polisiekantoor.

“Die oë en die ore van die polisie gaan vinniger in die strate kan beweeg. Vir die eerste keer het ons vrywilligers op patrollies nou fietse om mee te beweeg,” sê Meyer.

Sy doen diens vir meer as 20 jaar as vrywilliger by die polisiekantoor.

Meyer is nou ook aangewys as die koördineerder van die fietspatrollies nadat Vryheidsfront Plus-raadslede ses fietse met die nodige toerusting en bykomstighede aan ses verdienstelike inwoners van Eersterust geskenk het om te help om dié gemeenskap te beveilig.

Die oorhandigingsgeleentheid het in die derde week van Februarie plaasgevind by die burgersentrum in Eersterust.

Meyer beplan om die fietspatrollies veral vroeg soggens, selfs voor 05:00, diens te laat doen by die twee brûe aan onderskeidelik die ooste- en westekant van Hans Coverdalestraat.

“Mense word dikwels beroof op pad na die treinstasie of werk en dit [fietspatrollies] sal handig te pas kom,” glo Meyer.

Dit is die eerste keer wat fietspatrollies deur Meyer vanaf die polisiekantoor hanteer sal word en haar strategie is reeds in plek.

“Ek plaas drie patrolleerders aan die een kant en drie patrolleerders aan die ander kant van die buurt. Ek sal ook sorg dat die patrollies soggens en na skool by die skole diens doen waar selfoongrypery en diefstal veral erg is.”

Meyer beoog om die patrollies in te span om voorkomende veiligheidswerk te doen en so moontlik inbrake en huisrowery te voorkom.

“Met hierdie ses fietse en hul patrollielede gaan dit nou baie makliker wees om die strate te monitor en die gemeenskap te help om brandpunte se probleme aan te meld en te voorkom. Ek dink ook ons sal die skelms nou makliker kan injaag en vang,” meen Meyer.

Sy meld dat die patrollies ook ingeskakel sal kan word by operasies wat deur haar span saam met die polisie aangepak word.

“Voorheen het ons dalk ’n skelm gewaar en hy kon nog verdwyn, maar nou is die kanse minder,” glo Meyer.

Die vrywillige gemeenskapspatrolleerders het ook die afgelope jaar opleiding in noodhulp, brandbestryding en die bekamping van dwelmmisbruik ontvang.

Fietspatrollies deur opgeleide vrywilligers sal in die toekoms Eersterust se strate veiliger maak. Foto: Verskaf.

Verdere opleiding word beplan in voorvalbestuur en verkeerbeheermaatreëls.

Grandi Theunissen, leier van die Vryheids Front Plus in die stadsraad, sê die onlangse registrasie van die Eersterust-gemeenskapsverbeteringsgebied is ’n mylpaal.

“As party het ons hierdie konsep van sulke gebiede in die metro geïnisieer,” verduidelik Theunissen.

Die samewerkingsooreenkoms tussen die metro en die gemeenskap sowel as die gemeenskapsverbeteringsgebied is in Desember 2024 gefinaliseer en onderteken.

Die eerste projekte, wat ook verfraaiing en verbetering insluit, is op 16 Februarie deur Arnold Adams en sy span van die gemeenskapsverbeteringsgebied by die Waltloo-ingang na Eersterust aangepak.

Volgens Theunissen is die skenking van die fietse ook die Vryheidsfront Plus se manier om hierdie verwesenliking van ’n droom en mylpaal te gedenk.

Die gemeenskapsverbeteringsgebied-inisiatief is in November 2023 van stapel gestuur en stel gemeenskappe en sakeondernemings in staat om aanvullende dienste in vennootskap met die metro aan te bied en te bestuur.

Pro Shield, ’n private sekuriteitsmaatskappy, sal ook die span ondersteun om veiligheidsmaatreëls in die buurte toe te pas.

Theunissen het die party se raadslede bedank vir die verskil wat hulle in soveel mense se lewens in die metro maak.

’n Spesiale woord van dank is gerig aan André Jacobs, die party se sekretaris in die metro, vir sy harde werk wat die projek moontlik gemaak het.

LEES OOK: Potjiekosbeoordelaar: “Moenie roer of loer nie!”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button