Local newsNews

Barmhartige Samaritaan help verwarde kankerlyer om sy weg te vind

Toe 'n boer van die Noord-Kaap sy beursie in sy motor vergeet het en dit by 'n betaalpunt agtergekom het, het 'n barmhartige Samaritaan na vore getree en vir die koste ingestaan sonder dat hy daarvan geweet het. Nou soek hy na die "bedeesde vrou met die lang swart hare".

Vir ’n boer van die plaas Boven-Ongeluk in die distrik Griekwastad was dit geen ongeluk dat hy sy beursie in sy bakkie vergeet het en op Sondag, 23 Februarie tussen 10:00 en 11:00 in ’n apteek in die Kolonnade-sentrum in Zambezirylaan, Pretoria-Noord was nie.

“Ek kon weer sien daar is nog eerbare en ordentlike mense in die wêreld,” sê kankerlyer Ben Erasmus.

’n Barmhartige Samaritaan in die noorde van Pretoria het hom op die dag naamloos en ongevraagd gehelp om vir sy medisyne te betaal en na sy motor geneem toe hy verward in die winkelsentrum rondgedwaal het.

“Die dame het so mooi na my omgesien. Ek hoop dat ons haar kan opspoor,” vertel Erasmus oorstelp. “Ek wou haar betaal, maar om die dood wou sy dit nie aanvaar nie!”

Nou soek Erasmus na die “bedeesde dame met lang swart hare en ’n outydse bril”.

Hy het Rekord genader om te sien of iemand haar dalk kan uitwys en of sy dalk self na vore sal kom.

Hy het Rekord ook gevra om ’n boodskap aan haar oor te dra: “Mevrou, ek weet nie wie jy is nie, maar baie dankie vir wat jy vir my in persoon gedoen het. Ek waardeer dit en het veilig op die plaas aangekom. Jy is ’n ongelooflike vrou.”

Erasmus het vantevore met beeste, skape en bokke sowel as pekanneute in Magaliesburg geboer. Sy seuns behartig nou die boerdery.

Hy is in 2020 met metastase van die prostaat stadium vier gediagnoseer.

“Drie dokters het my agt weke gegee om te lewe. Met genade van Bo, leef ek nog. Ek is nog steeds onder behandeling en sien die onkoloog elke drie maande in Pretoria,” vertel Erasmus.

Hy gaan tydens sy besoeke vir behandeling tuis by sy seun Nicho en skoondogter Melissa Erasmus.

Hy glo dis juis dalk na ’n week se behandeling wat die onvoorspelbare newe-effekte van die medikasie hom ietwat verward gelaat het toe hy net voor sy reis terug na die plaas in die Noord-Kaap ’n draai by die apteek gaan maak het om sy medisyne te kry.

Ben Erasmus by sy bakkie Foto: Voorsien

Wanneer hy hieroor gesels, is dit amper asof hy steeds nie kan glo dat hy so bedagsaam en onselfsugtig in die stad deur ’n vreemdeling behandel is nie.

“Die personeel van die apteek het my so mooi gehelp om die laaste goedjies te kry. By die betaalpunt het ek besef my beursie het in die bakkie agtergebly. Die dame by die betaalpunt sê toe dat sy die goedjies vir my sal hou. In die ry saam met my staan daar toe ’n middeljarige dame en vra of sy kan help. My reaksie was dat ek net gou my beursie gaan haal,” vertel Erasmus.

By die roltrap in die sentrum gekom, het hy besef dat hy totaal gedisoriënteerd was.

“Ek het nie geweet waar ek was nie. Nietemin het ek met my kierie gang-af begin stap, maar moes verward stil gaan staan. Hier kom daardie selfde vrou van die ry by my aan en oorhandig my pakkie aan my, sonder om enigiets te sê. Sy draai toe om om weg te stap, maar ek sê toe: “Mevrou, ek wil jou betaal, maar ek weet nie waar ek is nie!”

Sy het haar toe verder oor hom ontferm en begin uitvra oor wat hy dalk rondom die area waar sy bakkie geparkeer is, kan onthou.

“Die name van die areas wat ek gegee het, was verkeerd. Gelukkig het sy fyn geluister en ’n gevolgtrekking gemaak. Ja, en soos ons stap het sy iets gekoop vir ons om te eet en sy het ook my parkeerkaartjie betaal. Ek kon toe darem begin onthou dat die parkering P5 is en so het ons soheentoe gestap. Ek kon toe die bakkie eien. Daar skei ons paaie toe sonder dat sy betaling wou aanvaar,” vertel hy.

By die bakkie aangekom, het Erasmus dadelik gesien die venster is oop.

“Die sleutel het nog netso gehang met my foon en beursie oop en bloot op die sitplek. Ek was waarlik beskerm deur genade vandat ek uit die motor geklim het tot ek weer daar aangekom het.”

– Indien jy hierdie barmhartige Samaritaan is, of haar dalk ken, stuur gerus ’n epos aan elizep@rekord.co.za.

LEES OOK: Two men arrested for attempted cable theft at substation in Elardus Park

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button